Daar is ‘n splinternuwe reisende fees wat plaaslike musiek, teater en kultuur in die kollig plaas … en dit kom na ‘n teater naby jou.

Maak gereed vir Optog! 2019, ‘n trotse inisiatief van die Atterbury Trust, wat 250 vertonings bied met 25 verskillende kunstenaars op 55 unieke verhoë.

Optog! sal gedurende die volgende sewe maande groot en klein dorpe deur die hele Suid-Afrika en Namibië besoek, van Bela-Bela tot Beaufort-Wes, van Witbank tot Windhoek, en omtrent oral tussenin.

Hierdie revolusionêre kultuurinisiatief is ‘n natuurlike uitbreiding van die Atterbury Teater, wat die Atterbury Trust se verbintenis tot die bevordering van die uitvoerende kunste en die ontwikkeling van talent verteenwoordig. Dit is een van die beste konsertteaters in die land en werk teen volle kapasiteit met volbespreekte vertonings.

Optog! maak gebruik van die kundigheid, hulpbronne en netwerke wat gebou is sedert opening van die teater in 2011. Dit brei die Atterbury Teater se gehoor uit asook die Atterbury Trust se positiewe impak op gemeenskappe deur die hele land en daar buite.

Die reisende vertoning van talent en kultuur is nostalgies sowel as nuut. In die verlede het kunstenaars in die land rondgereis en vertonings aangebied. Hierdie tradisie het basies verdwyn noudat groot feeste gewild geword het. Optog! beoog om ‘n herlewing van teateroptredes en tradisies in klein dorpies te wees.

Zahn Hulme, die uitvoerende trustee van die Atterbury Trust, sê: “Suid-Afrikaners hou daarvan om vermaak te word, maar dit is dikwels ‘n uiters duur en moeilike ondervinding vir kunstenaars om alleen te reis, en geleenthede is beperk. Daarom het ons die kundigheid, hulpbronne en netwerke van die Atterbury Trust en die Atterbury Teater ingespan in ‘n gekoördineerde poging om vertonings weer te laat reis, families en vriende saam te bring om vermaak te word en om kunstenaars en hulle gehore bymekaar te bring in groot en klein gemeenskappe van naby en ver.”

Hulme voeg by: “Optog! 2019 laat mense wonderlike vermaak in hulle eie gemeenskap geniet en skep terselfdertyd geleenthede vir kunstenaars om uitvoerings te hou en bevorder die kunste en Afrikaanse kultuur, wat een van die doelwitte van die Atterbury Trust is.”

Wat meer is, die Atterbury Trust beoog om iets van werklike waarde agter te laat in elke gemeenskap waar Optog! aangebied word. Dit sal by bykans elke plek waar die toer aandoen, iets doen om plaaslike teaters te verbeter of op te gradeer.

Optog! het ook die ondersteuning gewerf van eendersdenkende borge soos King Price, Lekkeslaap, die ATKV, Afrikaans.com, Vintales, Sarie, Die Groot Ontbyt, Tsogo Sun en NTT Volkswagen.

Danksy hierdie samewerking is elke konsert ‘n kleurvolle geleentheid. Die Optog!-busse is propvol van ‘n feestelike verskeidenheid van die beste musiek- en teatervermaak. Die grootste kunstenaars sluit Nataniël, Laurika Rauch, Jo Black en Karen Zoid in.

Optog! het in Februarie in Stellenbosch begin, en die eerste Optog!-vertonings was volbespreekte suksesse. “Ons is in ons noppies oor die hartlike en entoesiastiese ontvangs vir Optog!, en ons sien daarna uit om hierdie vertoning in die loop van die jaar met nog meer gemeenskappe te deel,” sê Hulme.

Vir meer inligting, besoek www.optog.co.za. Bespreek jou kaartjies vir Optog! 2019-vertonings by www.itickets.co.za