Ons is die som van ons mense…
en danksy elkeen se toegewydheid is Atterbury Trust se ketting baie sterk

Zahn Hulme

Uitvoerende trustee, bemarking en handelsmerkbestuur

Zahn Hulme is ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester (GR SA), met ’n meestersgraad in ouditkunde. Sy is vanaf 1998 by Atterbury Trust betrokke en is in 2007 as uitvoerende trustee aangestel. Onder haar leiding het Atterbury Trust gegroei tot een van die mees gerekende liefdadigheidstrusts in Suid-Afrika met inisiatiewe soos Triomfkliniek, Terugploeg en omvattende ondersteuning vir minderbevoorregte studente.

Zahn dien op die direksies van ’n aantal organisasies wat Afrikaans as moedertaal bevorder, asook instellings wat gemeenskapsdiens aanbied.

Sy is passievol oor die skep van geleenthede en kyk met ’n gevoel van genoegdoening terug na die bykans 800 studente wat reeds die voorreg van ’n tersiêre opvoeding met die finansiële bystand van Atterbury Trust kon ontvang.

Zahn is dankbaar dat dit deel is van haar lewenstaak om God se liefde tasbaar te maak vir die mees weerlose mense in ons samelewing.

Zahn is al vir meer as 30 jaar getroud met Alten en het twee seuns, Alstaedt en Rein. In haar vrye tyd stap sy lang ente langs die see in Wildernis.

Ananja Koen

Finansiële en operasionele bestuurder

Ananja Koen is sedert 2019 ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester (GR SA). Na ’n jaar by die Hello-groep waar sy as finansiële rekenmeester arbeidsaam was, is sy sedert Desember 2018 die hoof van Atterbury Trust se finansiële afdeling.

Ananja is ’n gesinsmens. Sy het haar wederhelf in Hartenbos tydens ‘n vakansie ontmoet en is dankbaar dat hierdie somer romanse gelei het tot die vestiging van haar beste vriendskap met haar huweliksmaat . Haar gesin se honde-kind se naam is Thys.

Haar se gunsteling tydverdryf is om deur Suid-Afrika te reis. Ananja en haar man kamp graag by nuwe plekke en mis nie maklik hulle jaarlikse vakansie in die Nasionale Krugerwildtuin nie.

Sy is passievol daaroor om aan die gemeenskap terug te gee en ook om die lewe te geniet. Vir alleentyd hou Ananja daarvan om te bak. Sy lees ook graag en hou veral van Afrikaanse boeke.

Jana Wilbers

Finansies

Jana Wilbers het haar BCom Finansiële Bestuurswetenskappe-graad in 2014 by die Universiteit van Pretoria behaal nadat sy vroeër by Hoërskool Montana gematrikuleer het. Daarna het sy haar klerkskap gedoen, voordat sy noemenswaardige ondervinding tydens ’n interessante periode in die boubedryf opgedoen het.

Sy is ’n trotse ma van ’n pragtige dogtertjie en seuntjie. Dié twee rakkers maak Jana en haar man Jacques se harte én huis vol.

Tyd saam met haar gesin en familie is kosbaar en sy verruil dit vir niks nie. Jana se filosofie is om jouself te omring met mense wat kos vir jou siel gee.

Vanaf Maart 2021 is Jana deel van Atterbury Trust waar sy werklik voel dat sy ’n merkbare verskil kan maak.

Dit is vir haar ’n riem onder die hart om terug te kan gee aan behoeftige dít wat soms as vanselfsprekend aanvaar word. Sy glo almal moet probeer om God se liefde uit te leef.

Danelle Strydom

Studente en projekte

Danelle Strydom het ’n BA-graad in Kommunikasiekunde aan die NWU Potchefstroomkampus in 2009 voltooi, na haar skoolloopbaan by Hoërskool Eldoraigne in Pretoria.

Haar werkservaring het by Maroela Media begin as die uitvoerende hoof se persoonlike assistent. Toe het sy paar maande in Taiwan te gaan skool gee. Met haar terugkeer het sy by GROOTfm aangesluit as deel van Die GROOT Ontbyt-span.

Nadat sy by Focus on Health, ’n opvoedings-groep in die mediese bedryf gewerk het, het ’n groot droom vir Danelle in 2022 waar geword toe sy haar roeping by Atterbury Trust kon begin uitleef.

Sy is getroud en het ’n woelige dogtertjie en splinternuwe babaseuntjie by die huis.

Danelle glo ’n mens word elke dag herinner aan hoe kort die lewe is en daarom waardeer sy elke oomblik saam met geliefdes. Sy is dankbaar wanneer sy vir iemand iets kan beteken.

Leonie du Preez

GroLife lewens-afrigter

Leonie du Preez was in Hoërskool Linden, Johannesburg. Sy het haar honneurs graad in Rekreasie en Avontuur-Terapie by NWU, Potchefstroom voltooi. Leonie het haar professionele lewens-afrigting-kursus by Milpark Business School in Johannesburg in 2010 voltooi.

Haar passie vir mense en die lewe is aansteeklik en sy het ’n natuurlike aanslag met studente. Sy help Atterbury Trust se beurslenings-studente met doelwit stelling. Haar ontspanne benadering tot lewens-afrigting beteken sy kan aan elke student die geleentheid bied om as individu in verskeie aspekte van die lewe te groei. Leonie is die afgelope 10 jaar betrokke by Atterbury Trust studente.

Sy is getroud met haar beste vriend, Jaco. Hulle gesin bestaan verder uit drie gesonde, gelukkige en besige kinders.

Oor naweke geniet Leonie die buitelewe en die energie van oranje vlamme.

Sy leef volgens haar leuse: “Ons almal het potensiaal, glo dit, wees dit, leef dit!”

Liauné Terblanche

Triomfkliniek: Koördineerder

Liauné Terblanche het in Brits groot geword en in 2018 haar hoërskoolloopbaan by Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria voltooi. Sy het ’n BEd Grondslagfasegraad aan Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal. Liauné was ’n Funza Lushaka beurshouer.

Na haar hoërskool- en universiteit-koshuislewe woon Liauné in haar ouerhuis in Hartbeespoort. Sy studeer sielkunde deur Unisa.

Met ’n hart vol empatie sê Liauné sy wil graag haar inherente passie, waagmoed en toewyding gebruik om Triomfkliniek te bevorder en dat sy bereid is om opofferings te maak en om ’n ekstra myl vir die kliniek en sy mense te loop.

Sy is die oudste van twee dogters. Haar sussie het laasjaar klaargemaak met matriek.

By die huis geniet Liauné kwaliteittyd saam met haar geliefde, familie en vriende. Sy gaan stap graag met hulle honde en geniet dit om met ’n boot op die dam te vaar. Sy hou baie van fotografie.

Jeanne van der Sande

Terugploeg-fasiliteitsbestuurder

Jeanne het in 1982 aan Die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer. Sy het by die Universiteit van Pretoria die BHuishoukunde, Kleding en Interieur, asook ’n BCom Bemarking-graad voltooi.

Ná sy in 1991 getroud is het sy op ’n plaas in die laeveld van Zimbabwe gewoon. Hulle gesin het ’n safari onderneming begin waarvoor Jeanne bemarkingswerk en spyseniering hanteer het.

Die Van der Sande gesin het in 2005 na Pretoria getrek en het saam met vennote die Feinschmecker deli gekoop waar sy in die verkoopsafdeling betrokke was.

In 2016 het Keanne met Diets Delikatessen Meat Co, ’n wildsvleisverwerkingsaanleg in Silverton in Pretoria geskep. Hulle het hoë kwaliteit wildsvleis-produkte gemaak. Die maatskappy is in 2019 verkoop wildboere verkoop.

In September 2022 het Jaenne by Atterbury Trust aangesluit om te help om Terugploeg se wildsvleisverwerkingsfasiliteit op die been te bring en te bestuur.

Surisa Schwalb

Atterbury Wes-Kaap

Na haar matriek aan Pretoria se Die Hoërskool Menlopark het Surisa die BRek en LLB kwalifikasies aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. Sy het haar geoktrooieerde rekenmeester-klerkskap by PriceWaterhouseCoopers in Oos-London ervaar.

In Augustus 2022 het Surisa voltyds by Atterbury Trust in Stellenbosch begin.

Sy en haar man Ronald het twee woelige seuntjies, Roger en Oliver, wat ure se plesier en vermaak in die familie meebring. Surisa en haar gesin is lief vir familie, vakansie en buitelug. Elke geleentheid wat hulle kry spandeer hulle saam met die familie, of besoek hulle die plase in en om Stellenbosch. Sy draf graag en geniet die opelug van die Kaap.

Surisa ken Atterbury Trust van kleins af en het as student by die trust vakansiewerk gedoen. Sy is dankbaar dat haar pad so uitgedraai het dat sy nou deel van Atterbury Trust se span is wat ’n verskil in die Wes-Kaap gaan maak.

Jenene Petersen

MOI-Programbestuurder

Nadat sy haar skoolloopbaan aan die New Orleans Hoërskool in Paarl voltooi het, is Jenene na die Universiteit van Stellenbosch waar sy haar honneursgraad behaal het. Daarna het sy aan die Universiteit van Johannesburg studeer en haar MCom-graad is in 2001 toegeken.

Sy het in finansiële markte gewerk as ’n geldmarkhandelaar. Jenene was ook ’n bestuurder van langtermyn buitelandse lenings en ’n likiditeitsbestuurder voor sy haarself tot gemeenskap-ontwikkeling en -transformasie gewend het.

In 2020 het sy by Mergon Ontwikkelings Inisiatief begin, wat sedert 1 Julie 2022 geïnkorporeer is in Atterbury Trust Wes-Kaap as Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI).

Jenene en Warren is bykans 24 jaar getroud met drie kinders, die jong manne Remi en Joshua asook hulle dogter Thandi, wat as 12-jarige deel van hulle gesin geword het.

Die Petersens glo in selflose liefde en hulle waardeer die natuur en buitelewe wat die mooie Wes-Kaap in oorvloed bied. Jenene het ’n passie vir jong leiers en sy belê graag in hul holistiese welstand deur middel van ’n  mentorskap-proses.

Simonet de Villiers

MOI-koördineerder

Simonet het in 2007 aan Die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer waarna sy ’n graad in BSc Argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat in 2011 voltooi het. Sy het daarna haar Post Graduate Certificate in Education (PGCE) aan die Universiteit van Pretoria behaal en in dieselfde jaar begin werk as ’n onderwyseres by Uitsig Primary en daarna by Midstream Ridge.

Sy het in 2022 na die Kaap verhuis en deel geword van Atterbury Trust.

Simonet is baie lief vir kinders en daarom het sy skool gehou, maar haar hart en passie lê eintlik nog altyd by minderbevoorregtes.

Sy is die jongste van drie dogters en bevoorreg om besonderse ouers en sussies te kan hê. Simonet en Tiaan trou in November 2022.

Die natuur lê haar na aan die hart en hardloop, staptogte en om onder die sterre te slaap geniet sy baie. Simonet glo ons is op aarde vir ’n doel wat baie groter is as wat ons besef.