Ons studente is ons trots
Wat doen ons vir studente
Die Atterbury Trust Rentevrye Studiebeursleningsinisiatief bied aan ’n nuwe generasie leiers die geleentheid om kwalifikasies sonder finansiële las te verwerf en daarna via ons netwerk van medewerkers en ondersteuners die werkmag te betree. Hierdie inisiatief beloof om studente se totale voor- en in sommige gevalle nagraadse studiekoste te dek, insluitend klasgelde, registrasiefooie en boekgelde. Studente is daarna verantwoordelik om hul rentevrye beurslenings ten volle volgens ’n betalingsplan terug te betaal wanneer hulle die dag begin werk. Sodanige betalingsplan word dienooreenkomstig vir elke individuele student uitgewerk en is gebaseer op hul aanvangsalaris. Hierdie terugbetaling word dan direk terugbelê in die inisiatief, wat beteken dat met elke student wat hul studielening terugbetaal, ’n nuwe student se lewe verander kan word.
Dit gaan egter nie net oor finansiële bystand nie. Mentorskap en ’n gemeenskapsgevoel is vir Atterbury Trust belangrik, en daarom word verhoudings met beursstudente gebou deur middel van gereelde mentorsessies. Studente word ook aangemoedig om deel te neem aan ons jaarlikse beursfunksies in Pretoria, Stellenbosch, Bloemfontein en Potchefstroom. Tydens die student se studieloopbaan word daar ook talle netwerk- en werksgeleenthede beskikbaar gestel waardeur studente kan deel word van Atterbury Trust se ander inisiatiewe ten einde ervaring op te bou en vir hulself ’n inkomste te genereer terwyl hulle studeer.