GROOT GEEweek
GROOT GEEweek is ’n GROOTfm 90.5-inisiatief waarmee GROOTfm 90.5 hul mandaat van “vermaak met ’n verskil” uitleef. ’n Besondere week word toegewy aan stories van hoop, getuienisse en gesprekke met individue en organisasies wat daagliks ’n verskil in gemeenskappe maak.
Hierdie week stel ons weer in staat om die organisasies en projekte waarby ons betrokke is, uit te brei, te laat groei en verder te ondersteun.
Atterbury Trust finansiële ondersteuning
2025 GEEweek stories
Grace Valley
Grace Valley is ’n veilige hawe vir behoeftige bejaardes in De Wildt, tussen Pretoria en Hartbeespoortdam.
Danksy GROOT GEEweek kon ’n maandelikse donasie gevestig word om agt inwoners vir ’n volle jaar te ondersteun en hulle van die nodige sorg en stabiliteit te voorsien.
Atterbury Trust Student: Ruhan Wesseloo
Dr. Herman van der Laan (kardioloog) het hom op 12 Desember 2025 gesien nadat hy Ruhan se onderhoude op GROOTfm 90.5 gehoor het. Hy het toe kontak gemaak en aangedui dat hy graag saam met hom ’n pad wil stap. Ons kon Ruhan ook help om na ’n ander mediese fonds oor te skuif, sodat hy in April met die nodige chirurgie kan voortgaan.
Triomf Pasiënt: Chloë Storm
Chloë Storm (13) is ’n uitmuntende leerder en presteer akademies sowel as op die netbalbaan. As gevolg van ernstige tandheelkundige uitdagings het sy egter daagliks pyn en groot ongemak ervaar.
Danksy ruimhartige weldoeners kan Chloë nou oor die volgende paar maande saam met Dr Heloise Smit werk om die nodige behandeling te ontvang.
Vrouegesondheid – Triomf Kliniek
Dr. Riana Malan behartig maandeliks ’n vrouekliniek by Triomf, waar tussen 10 en 15 vroue elke maand mediese ondersteuning ontvang.
’n Kritieke behoefte by die kliniek was die aankoop van Mirena-toestelle. GROOT GEEweek het dit moontlik gemaak om hierdie noodsaaklike ondersteuning te finansier en sodoende volhoubare verskil in vroue se lewens te maak.