Toe Bernadette Nel in 2023 as Atterbury Trust-student by Isa Carstens begin studeer het, was haar droom eenvoudig: om haar studies suksesvol te voltooi en vir haarself ’n goeie loopbaan te bou. Sy het nie geweet dat dié geleentheid haar ’n paar jaar later oor oseane sou neem nie.
Vandag werk sy as spa-terapeut op ’n passasierskip en ontmoet sy mense van regoor die wêreld; en haar kwalifikasie word elke dag haar paspoort na nuwe plekke en geleenthede.
Haar storie herinner ons waarom ons in jongmense belê: nie omdat ons altyd weet waarheen hul pad gaan lei nie, maar omdat ’n geleentheid vandag die begin kan wees van iets veel groter môre.
Vertel ons iets oor jou agtergrond en hoe jou pad jou na Isa Carstens gelei het?
Ek het in Bethlehem grootgeword en was nog altyd iemand wat daarvan gehou het om met mense te werk en ander goed oor hulself te laat voel. Ek het aanvanklik nie presies geweet watter rigting ek met my loopbaan wou inslaan nie, maar toe ek meer oor Somatologie begin leer het, het ek besef dit kombineer baie van die dinge waarvan ek hou – om mense te help, met mense te werk en terselfdertyd ’n praktiese beroep te hê. Dit is hoe ek by Isa Carstens uitgekom het. Ek het besluit om die kans te vat en myself toe te wy aan iets waarvoor ek regtig passie ontwikkel het.
Wat dink jy misverstaan mense soms oor die industrie waarin jy jou bevind?
Somatologie gaan oor soveel meer as net skoonheid. Dit gaan oor vel, liggaamswelstand, ontspanning en veral oor hoe jy iemand laat voel wanneer hulle by jou uitstap.
Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust uitgekom en wat het die ondersteuning vir jou as student beteken?
Ek het van die Atterbury Trust te hore gekom onderwyl ek besig was met my studies en toe aansoek gedoen. Die kans wat dit gebied het, was ongelooflik waardevol: ek kon my studies aanpak met minder finansiële druk, en fokus op my opleiding. Maar dit was veel meer as net geldelike hulp – Atterbury Trust het my laat voel dat iemand in my potensiaal glo en bereid is om in my toekoms te belê. Dit het my ook gemotiveer om die geleentheid ten volle te benut.
Was daar ’n stadium tydens jou studies wat besonder uitdagend was? Hoe het jy dit bestuur?
Ja, daar was beslis uitdagende tye. Studies kan soms baie veeleisend wees, veral wanneer jy praktiese werk, teorie, opdragte en persoonlike verantwoordelikhede alles op dieselfde tyd moet hanteer. Wat my gehelp het om aan te hou, was om myself te herinner hoekom ek in die eerste plek begin het. Ek het geweet ek bou aan iets vir my toekoms. My familie, die mense wat in my geglo het en die ondersteuning van Atterbury Trust was sterk motivering.
Ek het geleer dat jy nie altyd gemotiveerd gaan voel nie, maar dat jy soms net moet aanhou en een tree op ’n slag gee.
Jy werk vandag op skepe – hoe het dit gebeur en wat presies behels jou werk?
Nadat ek gekwalifiseer en eers bietjie ervaring opgedoen het in die skoonheids- en welstandsbedryf, het ek begin kyk hoe ek my kwalifikasie internasionaal kon gebruik. Die opsie om op ’n passasierskip in die spa te werk, was ’n aantreklike een, en vandag is ek ‘n spa-terapeut op so ’n skip. Ek bied verskillende behandelings aan, van massering en gesigsbehandelings tot liggaamsbehandelings. Ek werk met internasionale produkte en behandelingsprotokolle en ontmoet elke dag mense van verskillende lande en kulture.
Dit is ’n baie vinnige werksomgewing, maar ek leer ongelooflik baie en kry die geleentheid om my vaardighede voortdurend te ontwikkel.
Hoe lyk ’n tipiese dag vir jou aan boord?
Sjoe, geen twee dae is regtig dieselfde nie! Ek begin gewoonlik my dag deur voor te berei vir my behandelings en my werkskedule deur te gaan. Dan sien ek verskillende gaste deur die dag vir hul behandelings.
Tussen afsprake deur moet ons ook seker maak die spa bly netjies en in orde en dat alles gereed is vir die volgende gas. Daar is ook opleiding, verkoopsdoelwitte en ander verantwoordelikhede wat deel vorm van die werk.
Wanneer ek nie werk nie, probeer ek tyd maak om die skip te geniet, te oefen, saam met vriende te kuier of net te ontspan.
Watter plekke in die wêreld het jy al deur jou werk besoek, en is daar een wat vir jou besonder uitstaan?
Een van die ongelooflikste dinge van hierdie werk is dat dit my plekke laat sien wat ek nooit gedink het ek sou besoek nie. Ek het al reeds verskillende bestemmings ervaar en mense van regoor die wêreld ontmoet.
Elke plek het iets besonders, maar dis nie die nuwigheid van elke aanmeerplek wat vir my uitstaan nie. Wat regtig spesiaal is die ervaring om op ’n skip te woon en elke keer wakker te word met die wete dat jy dalk op ’n heeltemal nuwe plek is.
Wat geniet jy die meeste van hierdie hoofstuk van jou lewe, en aan die ander kant, wat is die grootste uitdaging van werk en lewe op ’n skip?
Ek geniet die onafhanklikheid en die geleenthede wat hierdie werk vir my bied. Ek leer soveel oor myself, oor ander mense en oor verskillende kulture. Ek het ook baie meer selfvertroue gekry sedert ek aan boord begin werk het.
Die grootste uitdaging is om so ver van jou familie en geliefdes af te wees. Jy mis verjaarsdae, spesiale geleenthede en die gewone klein dinge van die huis. Jy leer om daardie afstand te hanteer en om die tyd wat jy wel saam met jou mense het, baie meer te waardeer.
Het jy, toe jy by Isa Carstens begin studeer het, ooit gedink jou kwalifikasie sou jou uiteindelik regoor die wêreld neem?
Glad nie! Toe ek by Isa Carstens begin het, het ek net gehoop om my studies suksesvol te voltooi en ’n goeie loopbaan vir myself te bou.
Ek het nooit kon droom dat daardie besluit my uiteindelik op ’n skip sou laat werk en my die kans sou gee om die wêreld te sien nie. Dit wys net wat alles moontlik is as jy bereid is om ’n kans te vat.
As jy vandag terugkyk en sien hoe ver jy gekom het, hoe laat dit jou voel?
Dit maak my baie trots en emosioneel. Soms is jy so gefokus op die volgende doelwit dat jy vergeet om stil te staan en te kyk hoe ver jy reeds gekom het.
Wanneer ek terugdink aan waar ek begin het, my studies, die uitdagings wat ek moes oorkom en waar ek vandag is, besef ek hoeveel groei daar in my lewe plaasgevind het.
Ek is veral dankbaar vir almal wat ‘n rol gespeel het daarin om my tot hier te help.
Wat sou jy vir ’n huidige Atterbury Trust-student sê wat dalk nou onseker is oor wat ná hul studies voorlê?
Ek sou sê: moenie voel dat jy nou al presies moet weet waar jy oor vyf of 10 jaar gaan wees nie. Fokus daarop om die geleentheid wat jy tans het, ten volle te benut.
Werk hard, vra vrae, wees bereid om nuwe dinge te probeer en moenie bang wees om kanse te vat met dinge wat buite jou gemaksone is nie. Soms lei een klein geleentheid na iets baie groter as wat jy ooit verwag het.
My eie pad het vir my gewys dat jou beginpunt nie noodwendig jou eindbestemming bepaal nie.
As jy in een of twee sinne moet opsom wat Atterbury Trust vir jou beteken het, wat sou jy sê?
Atterbury Trust het vir my meer as net finansiële ondersteuning beteken – ek het met hulle hulp die kans gekry om in myself en my toekoms te belê. Ek sal altyd dankbaar wees dat hulle deel was van die reis wat my van ’n student by Isa Carstens gebring het tot ‘n skip waar ek as spa-terapeut die wêreld kan sien deur my beroep.
Atterbury Trust steun op die skenkings van weldoeners wat ons help om studente soos Bernadette se studiedrome te laat waar word. Vind uit hoe jy kan bydra en deel word van die omgeefamilie wat lewens verbeter: besoek https://atterburytrust.org/donasiewinkel/