Vertel ons ’n bietjie van jouself en hoe jou pad as tandtegnikus begin het.
Ek is pa van drie, Ruard, Lumé en Lileah en getroud met my pragtige ondersteunende vrou, Roenique. Grootgeword en gebore in Pretoria, was hier op Laerskool en Hoërskool. My pa en my oom is beide tandtegnikuste en ek het grootgeword in die Laboratorium, elke dag na skool. In Gr.11 het ek leer bestuur en vakansies vir my pa begin werk en begin belangstel in tandtegnologie. Wou nog altyd graag met my hande werk en my eie besigheid besit, daarom het ek dit oorweeg, saam met ander beroepe soos ’n juwelier of grafiese ontwerper.
Vertel ons meer van Executooth – hoe het die besigheid ontstaan en wat doen julle?
Ek’t klaar studeer in 2011 en vir 3 maande vir my pa gewerk, waarna hy my forseer het om my eie besigheid te begin met die belofte van ondersteuning met genoeg werk. Ek het die voorreg gehad om sy toerusting te huur en geleer om my eie ding te doen sonder vreeslike druk en skuld. Ek’t gou besef watter voorreg dit is en binne 18 maande al my eie toerusting gekoop en heeltemal onafhanklik geraak, sonder om ’n sent skuld aan te gaan, deur eenvoudig hard te werk en alles wat ek kon in die besigheid terug te ploeg. Executooth maak hoofsaaklik gebitte, vol en gedeeltelik. Ook Chroom-kobalt raamwerke en orthodontiese apparate. Daar is ’n meer gespesialiseerde deel van die besigheid wat oor tyd ontwikkel het en deesdae die meeste van my tyd en aandag opneem en dit is die vervaardiging van vaste en verwyderbare stelle op strukture wat implante verbind. Dit is ’n reuse voorreg om saam met spesialiste in chirurgie en prostetika te kan saamwerk om hierdie uitdagende werk te kan aanpak.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as tandtegnikus?
Ek geniet beslis die uitdaging om praktiese oplossings te bewerk om kliniese uitdagings te oorkom! Daar is ’n kunssinnigheid en praktiese uitvoering wat mekaar moet ontmoet om by ’n uitstekende resultaat uit te kom. Dit is ’n gedurige wipplank om die twee te balanseer en ek put baie vreugde daaruit. Ook die besigheids-aspek van my werk bring vir my groot vreugde. Al is dit uitdagend, dit is lekker om altyd nuwe planne te moet maak en om myself en my span en ook ons toerusting deurloopend te probeer verbeter en meer ekonomies, effektief en produktief te maak.
’n Kunsgebit gaan oor veel meer as net tande. Watter verskil sien jy dit in ’n persoon se daaglikse lewe en selfvertroue maak?
’n Kunsgebit as jy dit in perspektief sien, is ’n ding wat ’n ongelooflike verskil in iemand se lewe kan maak vir relatief min geld en in ’n redelike kort tyd. As jy vir iemand ’n gebit maak wat al jare daarsonder klaarkom, kan jy in 2–3 weke teen relatief min geld hul lewenskwaliteit en selfvertroue drasties verbeter. As iemand gemaklik kan eet en kommunikeer en hul voorkoms verbeter is dit lewensveranderend!
Selfvertroue neem toe, gewigsverlies (veral by oumense) word gestuit en hul kan ’n meer gebalanseerde dieet inneem en verteer wat lei tot ’n verbetering in algehele gesondheid
Hoe het jou betrokkenheid by Triomf Kliniek begin?
Ek het op Groot FM gehoor daar is ’n behoefte vir hulp in tandheelkunde spesifiek en ’n e-pos gestuur en my dienste aangebied. My tyd is vir my goud werd en die Here het dit op my hart gedruk om tyd af te staan om minder bevoorregte mense te help. Dit was ’n praktiese manier waarop ek betrokke kon raak en iets van myself gee – nie net geld vir nog ’n organisasie nie.
Jy help Triomf-pasiënte met kunsgebitte. Is daar ’n spesifieke pasiënt of oomblik wat jou besonder bygebly het?
Ek het baie min of geen kontak met die pasiënt self nie. Ons werk is van so aard dat ons nie eintlik ooit die eindresultaat sien nie, want die tandarts behartig die inpas en plasing van die gebitte. Soms sal ons ’n foto of ’n boodskap ontvang wat altyd betekenisvol is, maar ek herinner altyd myself en my span – ons doen nie Triomf werk vir mense of erkenning nie. “Wat julle ookal doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie…” Kol 3:23.
Wat beteken dit vir jou persoonlik om jou kundigheid te kan gebruik om iemand se waardigheid en glimlag terug te gee?
Dit is ’n voorreg, ’n manier om terug te gee en iemand anders te help om hul waardigheid terug te kry en dit het die potensiaal om ’n lewe aan te raak en om te draai.
Jy beskryf hierdie werk as ’n hartsaak. Waar kom daardie behoefte om ander te dien vandaan?
Dit is iets wat die Here op my hart gedruk het en ’n manier om uit dankbaarheid te kan terug gee. Ons is so bevoorreg en dit is dankbaarheid en tevredenheid wat die behoefte by my wakker gemaak het om terug te gee.
Jy het jou eie besigheid en ’n besige beroep, maar kies steeds om tyd en kundigheid terug te gee. Wat sou jy sê vir ’n ander professionele persoon wat ook graag ’n verskil wil maak, maar dalk nie weet waar om te begin nie?
Raak betrokke! Stuur die e-pos, maak die oproep. Begin klein en doen wat jy kan, elke bietjie help!