Kultuur, gemeenskap en studente is drie van Atterbury Trust se passies. Die Trust het nou ’n nuwe kompetisie bekend gestel wat al drie saamvat. Danelle Strydom vertel meer.

Vertel ons meer van Atterbury Trust Acappella 2023… wie kan aan die kompetisie deelneem en wat is die doelwit?
Ons is baie opgewonde oor die heel eerste Atterbury Trust Acappella-kompetisie, wat vanjaar op 30 September 2023 by die Atterbury Teater plaasvind. Die idee daaragter is om musiek, kultuur en talent in ons gemeenskap te vier met ’n jaarlikse acappella-kompetisie vir universiteite. Ons het acappella-groepe van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite genooi om in te skryf.

Waar kom die idee vandaan?
Talle universiteite hou acappella-kompetisies, maar die groepe mis dit egter om ná hul interne kampuskompetisies weer saam ’n verhoog te deel. Daar was in die verlede ’n nasionale kompetisie maar dit het weggeval. Die projek is gebore nadat een van ons alumni-studente, Altus Bisschoff, ons genader het hieroor – hy was self as student deel van so ’n sanggroep en deesdae rig hy ook een af. Die kompetisie pas so mooi in by die Atterbury Trust-prentjie van studente, kultuur en gemeenskap dat dit net sin gemaak het om betrokke te raak en iets spesiaal te skep.

Hoe werk die kompetisie presies?
Na afloop van die universiteite se interne kampuskompetisies het ons die top-twee groepe van elke universiteit uitgenooi om in te skryf vir Atterbury Trust Acappella en te kom kragte meet.  Op die betrokke aand sal ’n paneel beoordelaars die groepe dan volgens bepaalde reëls en riglyne beoordeel om ’n algehele Atterbury Trust Acappella-wenner aan te wys. Ons paneel bestaan uit Steffie le Roux, Franco Prinsloo, Anna Davel, Stephanie Baartman en Francois Botha.

Is daar pryse op die spel?
Ja, daar is twee kontantpryse, maar ons hou dit nog as ’n verrassing vir die deelnemers. Die twee pryse word gekoppel aan ’n gehoorgunsteling en dan word daar ook ’n algehele wenner gekies.

Gaan dit nou ’n jaarlikse gebeurtenis wees, soos die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie?
Wel, ons was uitgeboul deur die geweldig positiewe reaksie op die kompetisies – almal is so opgewonde – so die droom is om dit ’n jaarlikse instelling te maak. Die verpakking mag volgende jaar wel bietjie anders lyk.

Kan lede van die publiek kom kyk? Waar kry hulle kaartjies?
Ja beslis, ons nooi die publiek om die aand saam met ons te kom geniet. Kaartjies is op die seatme-platform (https://www.seatme.co.za/) beskikbaar, maar hulle is beperk, so diegene wat belangstel moet gou spring!