Versnit 2023

28 Januarie 2023

Soos die somerson stadig teen die hange van die wonderskone Helderberg sak en die pragtige wingerde van Rust en Vrede blakend gesond spog in die agtermiddag, so daal die betekenis van omgee op ons groep Versnit-gaste neer. ’n Vars bries keer ons nie om weer bande van vriendskap op te tel nie, ’n glasie van Stellenbosch se beste te geniet nie en ook nie om ons uitmuntende plaaslike Suid-Afrikaanse musiektalent te ervaar en waardeer nie. Ja-nee, wraggies waar weer ’n heerlike Versnit-geleentheid is op 28 Januarie 2023 moontlik gemaak deur Louis van der Watt, Jean Engelbrecht, Rust en Vrede en Toyota Suid-Afrika Motors en hulle spogmotormerk Lexus. Maar die eintlike rede hoekom Versnit die instelling is wat dit oor die afgelope 11 jaar geword het, is omdat almal wat deel is van hierdie heuglike samekoms omgee, werklik omgee vir hulle medemens en besef dat hulle bydraes aan Atterbury Trust op verantwoordbare wyse aangewend word om dié van ons wat dit werklik nodig het van hulp te kan wees. Want as ons dit nie doen nie, wie gaan? Vanjaar se kunstenaars het hul alles gegee om betowerende musiek en vermaak op te dis. Ons Versnit-sterre is gelei deur die innemende Stef Bos, wat ook vanjaar se spesiale Versnit-toekenning ontvang het vir sy bydrae tot ons Afrikaanse kultuurskatkis. Elvis Blue, Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Joseph Clark en Riaan Benadé het vir hoendervleis vermaak gesorg, onder begeleiding van die Versnit Orkes met Matthys Maree, Juan Oosthuizen, Brendan Ross, David Klassen, Denny Lalouette, Bez Roberts, Adam Howard en Mauritz Lotz. Verseker die room van ons plaaslike talent. Agter die skerms is dinge beplan, gereël, bymekaar gesit en uitgevoer deur ’n top-span wat van Versnit maak wat dit is: Alexa Strachan, Anna Davel, Bernard Gramann, Jaco Smit, Johan Griesel, Fanie Pieterse en Jeanne Steenkamp. Baie dankie aan almal wat deel was van Versnit 2023. Met alles waarmee ons almal te doen het in hierdie land, wat ons moet doen om te oorleef, is ons verheug dat julle nog altyd kans sien vir hart oopmaak en gee, gee, gee. Want ons weet julle gee ook om.

Versnit 2022

’n Versnit van die beste wyn, keurig gemeng met musiek van formaat en alles saamgebind met die krag van gee. Van omgee vir dié wat minder het as ons.

Met die gewaardeerde ondersteuning van Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Lexus kon Versnit 2022 suksesvol plaasvind. Baie dankie aan almal wat die tiende Versnit by Rust en Vrede bygewoon het.

Oor die afgelope tien jaar van Versnit het daar ook ’n nuwe werkwoordvorm van die woord ontstaan. Nou se dae beteken “om te Versnit” ook om om te gee. Omgee vir minder bevoorregte Afrikaanse jongmense sodat dié met potensiaal met studiebeurslenings gehelp kan word om ook hul beste te kan bereik.

Baie dankie aan ons vrygewige Versnitvriende wat onmiddelik hul harte oopgemaak het met noemenswaardige skenkings aan Atterbury Trust, sodat nog meer studente in die toekoms gehelp kan word.

As jy ook ’n bydrae wil maak, klik hier, want ons weet jy gee ook om: https://atterburytrust.org/skenk-nou/

Alles in die gees van om te Versnit.

Klik ook gerus op die onderstaande skakel vir foto’s van vanjaar se Versnit.

 Louis van der Watt

Versnit 2020

Om te Versnit is om te gee. Gewoonlik is ’n versnit ’n fyn vermenging van verskillende druiwe kultivars om tussen die beste variante ’n nuwe smaak sensasie te skep. Maar dan is daar Versnit, ’n jaarlikse vermenging van die beste Afrikaanse kunstenaars, die beste geselskap op die lowergroen grasperk van die beste wynplaas, alles vermeng met ’n glasie van die beste wyn. Oor die nege jaar van Versnit het daar ook ’n nuwe werkwoordvorm van die woord ontstaan. Nou se dae beteken “om te Versnit” ook om om te gee. Omgee vir minder bevoorregte Afrikaanse jongmense sodat dié met potensiaal met studiebeurse gehelp kan word om ook hul beste te kan bereik. Versnitvriende het soos gewoonlik op Saterdag, 18 Januarie 2020 by Rust en Vrede ’n musiek-piekniek van formaat gehou. Die wind het gewaai, ja, maar die nuus dat dit ook in die Karoo reën het dié klein ongerief mooi in perspektief gestel. Met die gewaardeerde ondersteuning van Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Lexus kon Versnit 2020 suksesvol plaasvind. Suksesvol nie net omdat dit weer ’n uitsonderlike geleentheid was nie, maar ook omdat die Versnitvriende weer hul harte oopgemaak het met noemenswaardige skenkings aan Atterbury Trust, sodat nog meer studente in die toekoms gehelp kan word. Alles in die gees van om te Versnit. As jy ook ’n bydrae wil maak, gebruik hierdie skakel, want ons weet jy gee ook om: https://atterburytrust.org/skenk-nou/

Versnit 2019

Na die somervakansie is die Atterbury Trust-hoogtepunt in Januarie beslis Versnit. Gashere Louis van der Watt van Atterbury, Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en die gewaardeerde borg Calvyn Hamman van Lexus het uitgenooide gaste op die pragtige lowergroen grasperk van Rust en Vrede welkom geheet in die laatmiddag sonskaduwee van Stellenbosch se asemrowende Helderberg.

Nataniël het vir die eerste keer Versnit se uitgelese gaste soos Minki van der Westhuizen, Deon Meyer, Victor Matfield, Jean de Villiers en besigheidsleiers soos Laurie Dippenaar, Jannie Mouton, Whitey Basson, Johan van Zyl, Paul Harris en GT Ferreira met sy unieke vertoning en pragtige kostuums vermaak. Karen Zoid het die gehoor na hul asems laat snak met haar robuuste “mashup” van Annelie van Rooyen se Neem my op vlerke en Metallica se Enter Sandman.

Die kitaarkenner Loki Rothman het allerhande klanktruuks op sy kitaar uitgehaal. Theuns Jordaan, Charl du Plessis, Corlea en Ricus Nel het opgetree en die gaste vermaak met van hul bekende nommers en ou gunstelinge uit die breë musiekwêreld. Die Versnit Orkes met net die heel beste plaaslike talent soos Matthys Maree, Mauritz Lotz, David Klassen en Denny Lalouette het soos gewoonlik hul begeleiding met oorgawe gelewer.

Versnit 2019 was voorwaar ‘n voorkeur samekoms van sang, samesyn en, natuurlik, ‘n heerlike glasie wyn.

Versnit se doelwit is om fondse in te samel vir Atterbury Trust sodat ons nog meer kinders kan help om ná skool verder te studeer.