By Terugploeg is elke dag ’n besige dag, en koördineerder Jeanne van der Sande vertel wat alles gebeur soos die seisoene verander en ons hard werk aan die volhoubaarheid van ons bedrywighede…

Hoe gaan dit met die Terugploeg-tuin?

Ons is baie bedrywig in die tuin, en toets nog nuwe produkte uit, terwyl ons elke dag iets nuuts leer van groenteboerdery en waarvoor mens alles op die uitkyk moet wees. Ons het onlangs op een dag 1 500 beetplantjies, 1 000 uie en 100 slaaiplantjies geplant; en ons sien uit om te kyk hoe dié vir ons gaan werk. Ons gaan ook vir die eerste keer ’n winter-rissie probeer.

Ons het ’n aan die begin van April ’n rekord 94kg groenboontjies geoes – nege kratte vol – en soos alle groenteboere die les geleer dat selfs ’n goeie oes nie altyd goeie nuus is nie! Ons is vol verwagting met ons boontjies na ’n mark en ’n groentewinkel, waar ons gehoor het hulle is  te groot en te krom, omdat ons hulle bietjie te laat gepluk het. Die mark verkies blykbaar kleiner, dunner boontjies, en daar was net een krat vol sulkes, waarvoor ons darem R20/kg kon kry. Ons het die krat kleiner bone verkoop aan Kakiebos Restaurant hier op Rayton. Gelukkig is daar soveel organisasies in ons netwerk wat tou staan vir voedsame vars groente en ons kon die oorblywende agt kratte uitdeel en die storie het dus darem ’n goeie einde!

Bella Vista groentewinkel in Groenkloof verkoop op Vrydae organiese groente en ons beoog om ons eerste oes beet, soinasie en uie daar te verkoop. Ons sal seker maak dat ons dit betyds oes!

Benewens die plantjies wat julle aankoop, kry julle ook van tyd tot tyd plantskenkings, reg?

Gelukkig ja! Plantforum het laat weet dat hulle vir ons 1 000 rooi uie, spinasie, brokkoli en sprietuie gesaai het, en ons sal oor sowat vier weke die saailinge kry om te plant. Nog ’n nuwe oes in die vooruitsig!

Ons hoor julle beplan ook ’n Terugploeg boeremarkdag in die afsienbare toekoms?

Ons beplan ’n ope dag in Mei, en die idee is dat ons dan die groente wat reg is, te koop sal aanbied. Sover lyk die beplanning dat ons aartappels, beet, uie, spinasie en dalk nog die laaste van die boontjies teen dan sal reghê, en ons maak goeie vordering in gesprekke om shiitake-sampioene van ‘n boer hier naby in te koop en teen ’n wins te herverkoop. Ek is besig om die huiswerk daaroor te doen om te sien wat kan werk. Carl, die shiitake sampioenboer is ons baie goedgesind en het onlangs ’n vrag vrugbare sampioenkompos aan Terugploeg geskenk – net wat nodig is vir wintervoeding vir al die nuwe plantjies.

Teen die tyd dat die lente aanbreek glo ons daar sal ’n groter verskeidenheid en volume groente wees wat ons kan aanbied, so ons kyk daarna om later vanjaar ook ’n lente- of somermark te hou. Hou hierdie spasie dop!

Was daar nog uitdeel-skenkings?

Elize van Bapsfontein het agt kratte botterskorsies geskenk en dit, saam met die appels wat ons gereeld by Du Toit Services kry, kits-mieliepap, melk, klere-donasies en mielie-puffs  wat ons ook  onlangs ontvang het, het gemaak dat ons in die eerste week van April ’n mini-uitdeeldag kon hou. ’n Groot groep organisasies kon kom kos haal: Eljada, Eleos, Filadelfia Ark, Qumi, Jakaranda en Louis Botha kinderhuise, Loerie Jeug, Gracia Jeug, Reddingsdaad en Groei Goggas, Uncle Ben’s Den, Harmonie Park, Grace Valley, House of Cohen, SACares  en Senekal Jeug.

Die behoefte daar buite is so groot en so deurlopend. Hoe werf julle nuwe skenkers van kos sodat die stroom nie opdroog nie?

Ja dit is, en ons kan altyd doen met meer, omdat ons baie vinnig kos by honger mense kan uitkry deur ons netwerk.  Du Toit Services skenk van tyd tot tyd vir ons appels as dit nie verkoop nie en voor hulle dit moet weggooi, en ons praat met Springs Vars Produkte Mark om te kyk of ons dieselfde reëling met uitskotgroente daar kan tref. Daar is so baie vermorsing van goeie eetbare kos wat naby of verby ’n “verkoop-teen” datum is, waarmee ons netwerk van organisasies mense van heilsame maaltye sou kon voorsien.

En dan kom Meimaand wanneer die jagseisoen in Suid-Afrika amptelik begin ook natuurlik vinnig nader. Terugploeg se vleisverwerkingsfasiliteit staan reg om wildverwerking namens jagters te doen en daar is baie organisasies wat so dankbaar is vir enige skenkings van wildsvleis wat via Terugploeg na hulle kant toe kom.

Terugploeg verwelkom skenkings van saailinge en plante vir die tuin, sowel as kos en ook goeie gebruikte klere. Maak gerus kontak met Jeanne van der Sande op [email protected]. Vir wildsverwerking kontak asseblief vir Diets by 083 282 5550 of Jeanne by 066 283 1786.