Terugploeg het ’n jaar van ploeg afgesluit met ’n laaste groot uitdeel. Ons hoor meer by Terugploeg-koördineerder Jeanne van der Sande. 

Dit was gepas om Atterbury Trust se 25ste bestaansjaar af te sluit met ’n groot Terugploeg-uitdeel van kos! Hoe het Vrydag se groot uitdeel verloop? Wie het almal deelgeneem?
Vrydag se Kersgroente-uitdeel het absoluut vlot verloop en net meer as 30 organisasies is uitgenooi om elk ’n gros groente te kom haal. Almal wat by Terugploeg werk, het help uitdeel en die Atterbury Trustspan het fluks kom help.

Kan jy skat hoeveel mense in totaal gaan kos kry oor die feestyd danksy hierdie skenkings?
Die meeste van die 30 organisasies wat genooi is, het Vrydag self kom groente haal en die ander het Maandag ook kom kry. Ons skenkers het ’n totaal van 16.3 ton groente afgelaai wat ons kon uitdeel – beet, wortels, aartappels,  botterskorsies, uie en kool. Dit is so min of meer 65 000 porsies!

Wie is die skenkers vir wie ons moet dankbaar wees? Is hulle eenmalige skenkers of is daar mense wat herhaaldelik skenk?
In dié geval was dit een donateur wat gereeld skenk en vra om anoniem te bly – hy gee met ’n ope hart elke keer as hy gevra word, vanaf ’n vars groente- en vrugtemark in die Oosrand. Die groente word dan met die hulp van Vibro se trok aangery, wat natuurlik noodsaaklik is – sonder die vervoer sal die groot groente-uitdeeldae glad nie moontlik wees nie. Terugploeg en alle begunstigde organisasies is ewig dankbaar vir die tonne groente wat geskenk en so aangery word. Die realiteit is dat baie skole en ander organisasies wat normaalweg kos uitdeel oor die Desemberperiode sluit en baie mense wat afhanklik is van die daaglikse ete, dan nie kos het nie. Ons is so bly dat Terugploeg wel ’n verskil kan maak hierdie Kerstyd. Dit voel goed om te weet dat hierdie organisasies nou lekker voedsame kos kan uitdeel onder hulle onderskeie gemeenskappe, en ook groente het wat hulle kan verwerk om te hou vir die Kersetes wat hulle verskaf.

Hoeveel kos het Terugploeg oor die afgelope jaar in totaal uitgedeel, en wat hoop julle vir 2024 – wat is jou prioriteite vir die volgende jaar?
Ek het so vinning na die statistiek gekyk en vanaf Desember verlede jaar tot Desember 2023 is daar 205 ton groente, vrugte, mieliemeel, koeldranke en vleis uitgedeel vanaf Terugploeg se fasiliteit. Ek hoop dat ons dit in 2024 weer sal kan doen, maar dalk probeer om die verspreiding van die uitdeel beter te kan reel – want daar was sommige maande wat daar nie veel uitgedeel is nie en dan ander maande weer massas, wat amper te veel was op een slag. Ons wil ook probeer om meer gereeld kos te verskaf aan die organisasies buite Gauteng, want vervoer vir hulle en aflewer vanaf ons kant was nie altyd moontlik nie.

Het jy terugvoering wat jy kan deel oor die verskil wat Terugploeg  maak in van hierdie organisasies se lewens? Een staaltjie sal gaaf wees!
Ek kry gereeld terugvoering van die begunstigde organisasies, want ek sien hulle op ’n maandelikse of eintlik tweeweeklikse basis met ons gereelde uitdeel van die kos, klere en huishoudelike items. My absolute hoogtepunt wat om ’n klavier te kon herskenk aan Loerie Jeugsentrum in Bronkhorstspruit. Ons het dit gaan oplaai by die skenker en gaan aflaai met die hulp van al die manne hier by Terugploeg. Ek het ook gereel dat die klavier gestem is.  Nou kan Loerie Jeugsentrum se kinders met musiektalent klavierlesse neem en die ander wat reeds speel kan musiek maak vir die wat net kan luister. Musiek is so ’n belangrike deel van ’n kind se opvoeding.

Is daar ’n spesifieke behoefte wat jy al teëgekom het, waaraan jy wens julle kan voorsien? Van watter soort skenkings het julle meer nodig, of is op jou wenslysie om te probeer in die hande kry?
Ons het nog nie so ‘n lysie nie, en dit is beslis iets waarvan ons gaan werk maak. Ons sal vroeg volgende jaar ’n besoek gaan aflê by die begunstigde organisasies om bietjie ondersoek in te stel, en dan kan mens probeer help met spesiale behoeftes. Die meeste organisasies is net so dankbaar vir enige vars produkte wat na hulle kant toe kom.