Dit is drie jaar sedert Atterbury Trust die reikwydte van sy welwillendheidswerk uitgebrei het na die Boland onder die leiding van Uitvoerende Trustee Zahn Hulme. In hierdie tweede aflewering vertel sy meer oor die projekte onder die Trust se vaandel, en die planne vir die toekoms.
Hoe het Atterbury Trust Wes-Kaap vir MOI gebring tot op die punt dat dit nou gaan uitbrei na ’n onafhanklike stigting?
MOI is ses jaar gelede onder die vaandel van die Mergon Foundation met befondsing van Francois van Niekerk se Carmi Trust begin. Die MOI-program is sedert Julie 2022 onder die vaandel van die Atterbury Trust bestuur. Die Atterbury Trust het oor die afgelope drie jaar noemenswaardige insette gelewer in die finansiële bestuur, verfyning van seleksieproses, mentorskap sowel as die fokus op werksblootstelling en tersiêre studiegeleenthede vir leerders wat hulle skoolloopbane voltooi.
Die groter droom is om MOI verder uit te brei, ook na ander moedertaalsprekers in ons land, en daarvoor is aansienlike eksterne befondsing nodig. Carmi se raad is van mening dat MOI daarvoor as ’n afsonderlike regspersoon geregistreer moet word en dat MOI genoegsaam geïnkubeer is met die insette van Atterbury Trust dat dit nou op sy eie voete kan staan.
Wat was die grootste uitdagings sedert MOI onder die Atterbury Trust vaandel ingebring is, en hoe is daardie uitdagings oorkom?
MOI is aanvanklik deels onder die vaandel van die Mergon Foundation bestuur en ’n groot deel van die proses is destyds deur die MAD Foundation hanteer. Die grootste uitdaging was destyds om ’n volledige prentjie te kry van die totale koste van die program. Daar is baie werk ingesit om gedetaileerde begrotings op te stel waar kostes individueel per leerder sowel as per skool gemeet is.
Die keuringsproses is ook verfyn om te verseker dat die regte kandidate met die nodige intellektuele potensiaal, emosionele volwassenheid, deursettingsvermoë en ‘n ondersteuningstruktuur tuis geïdentifiseer word.
Ons het Atterbury Trust se netwerk van besigheidsvennote betrek en MOI-leerders was bevoorreg om by gesogte werksplekke soos onder andere Fairtree Capital, Mediclinic, Babylonstoren, Hungry Lion, Netwerk 24, Moore ouditeure, en so meer beroepsblootstelling en vakansiewerkgeleenthede te ontvang. Met Atterbury Trust se jarelange ondervinding van tersiêre opleidingsgeleenthede kon ons leerders in Graad 11 en 12 ook begelei met die pad na tersiêre studies, beursaansoeke en ook die toekenning van beurse.
Ons weet die suksesverhale van kinders wat werklik geblom het, het dit alles die moeite werd gemaak, en iemand soos Simeulida Petersen is ’n sprekende voorbeeld daarvan. Wat is dit omtrent hierdie jong presteerder wat haar so ’n perfekte verteenwoordiger maak vir alles waarvoor MOI en Atterbury Trust Wes-Kaap hulle beywer?
Simeulida is ’n sprankelende jong dame met groot drome. Sy het verlede jaar aan Paarl Gimnasium gematrikuleer en het die dapper stap geneem om vanjaar by Akademia in Pretoria te studeer. Simeulida is een van daardie leerders wat niks in haar pad laat staan nie en alles met entoesiasme aanpak. Danksy die Atterbury Trust se samewerking en goeie verhouding met Akademia, het Simeulida die geleentheid ontvang om vir ’n beurs by Akademia aansoek te doen, wat sy ook ontvang het!
Simeulida het die hele Desember by Dylan Lewis beeldetuin gewerk om te spaar en het haar eie vliegtuigkaartjie Pretoria toe gekoop – haar eerste keer op ’n vliegtuig! En sy floreer in Pretoria. Sy studeer joernalistiek en is ook nou gekies as een van die stemme van Akademia se radio-advertensie vir hulle nuwe kampus wat volgende jaar in die Paarl oopmaak.
Waar reken jy kan Atterbury Trust Wes-Kaap in die toekoms selfs meer betrokke raak wanneer die MOI inkuberingsprojek voltooi is en daar weer kapasiteit bykom?
Mentorskap is so ’n belangrike element in jongmense se lewens en daar is soveel talent en ondernemingsgees in die Stellenbosch en Paarlomgewing. Dit is ’n fokus van ons om meer van hierdie jong talent te betrek by ons beurshouers. Die Atterbury Trust alumni is ook ’n waardevolle bron van ondersteuning en ek wil graag die ekstra kapasiteit aanwend om bande met ons Atterbury Trust alumni te versterk.
Die Startwellprojek wat onder die vaandel van die Atterbury Foundation onder leiding van Surisa Schwalb hier in Stellenbosch bestuur word, het ook soveel potensiaal. Die aanvanklike resultate na sowat ’n jaar met hoofsaaklik befondsing van WeBuyCars en Outsurance waar meer as 2 400 kleuters daagliks ’n voedsame bord ontpytpap ontvang, toon dat groeibelemmering drasties verminder kan word. Surisa het nou meer tyd om te fokus op die werwing van nog donateurs wat kinders se toekoms vir altyd kan verander.
Vertel ons meer van die samewerking met Mediclinic en wat daarmee beoog word.
Atterbury Property was destyds verantwoordelik vir die ontwikkeling van die pragtige Mediclinic buite Stellenbosch. Vir die afgelope twee jaar het ons gereël dat MOI Graad 11- en 12-leerders Mediclinic se hoofkantoor en die hospitaal besoek en ingelig word wat die onderskeie loopbaangeleenthede binne die groter Mediclinic-groep behels. Daar is vanjaar vyf studente wat deur Mediclinic in Durbanville aanvaar is as verplegingstudente. Mediclinic het onderneem om 50% beurslenings aan hierdie studente toe te staan en die Atterbury Foundation NPC befonds die ander helfte met beurslenings.
Wat is jou droom vir Atterbury Wes-Kaap?
My droom is dat ons sal voortbou op ’n gevestigde netwerk van donateurs wat ons sal help om nog duisende jongmense die geleentheid van tersiêre studies te gee, dat ons Terugploeg se werksaamhede kan uitbrei en ’n magdom kleuters in ons land met Startwell kan voed.
Atterbury Property is baie doenig met voorgenome ontwikkelings in die George-omgewing en ek sien uit na die uitbreiding van die Atterbury Trust en Foundation se betrokkenheid by weerlose gemeenskappe aan die Tuinroete.
Om betrokke te raak by die werk wat Atterbury Trust Wes-Kaap doen, kontak gerus vir zahn@atterbury.co.za of surisa@atterbury.co.za.