Dit is 11 jaar sedert Triomf Kliniek sy deure vir die eerste keer oopgemaak het om uitmuntende mediese sorg met waardigheid te bied aan Pretoria-Wes se gemeenskappe wat voorheen 100% van staatshospitale en -klinieke afhanklik was. Die kliniek het ’n ver pad gestap sedert daardie begindae. Atterbury Trust se Ananja Koen vertel meer oor die nuwe seisoen.
Die groot nuus is natuurlik die kliniek se nuwe adres in Hazelwood. Waarom is julle opgewonde oor die nuwe adres – wat maak dit so ’n goeie skuif?
Triomf Kliniek is net so suksesvol soos die dokters en medici wat by Triomf betrokke is. Die vorige adres by die Margaretha Ackerman ouetehuis het oor die afgelope paar jaar toenemend ’n uitdaging vir vrywilligers en pasiënte geraak, aangesien die omliggende omgewing onveilig geword het. Dit was ook ’n redelike afstand van waar die meeste dokters vandaan kom. Ons hoop dat dit nou vir dokters gerieflik sal wees om pasiënte by die nuwe Triomf Kliniek in Hazelwood te sien, sodat daar meer vrywilligerdokters bereid sal wees om betrokke te raak. Dit help natuurlik ook baie dat die ligging net om die draai van Atterbury en Atterbury Trust se kantore is en die Trustspan ons vinger op die pols kan hou.
Hoe gaan dit met die skuif – wat gebeur tans op die perseel?
Ons het die gebruiklike eerste sooi gespit in die laaste week van Mei, maar baie beplanning en geskikte perseel soek, het die proses vooraf gegaan. Dit gaan tans baie goed, daar gebeur baie op die bouterrein en die projek is op skedule. Ons is ook nou al besig met die beplanning van die fyner afwerking aan die perseel wat die lekker deel is!
Wanneer verwag julle sal die nuwe Triomf Kliniek sy deure oopmaak?
Ons hoop om die fisiese bouwerk teen einde Junie af te handel, maar ons wag egter nog vir ons regte en hersonering wat dalk nog ’n tydjie mag neem voor ons 100% operasioneel sal kan aangaan. Dit is wel lekker om te weet ons het nou ’n adres en die proses is aan die gang.
Wat gaan anders wees aan hierdie nuwe kliniek?
Die afgelope jaar was ’n uitdaging met planne wat deurentyd gemaak moes word om pasiënte ononderbroke te kon help, maar ons het ook waardevolle lesse geleer. Een van hierdie was dat daar ’n geleentheid is om ’n kliniek te bestuur wat ook vir die algemene publiek beskikbaar is, waar betalende pasiënte die klinieksuster kan spreek en so kan inkomste gegenereer word wat ’n gedeelte van haar salaris kan dek. Met die nuwe fasiliteit kan ons ook met die voorste deel van die eiendom huurinkomste verdien van medici wat van hier af kan praktiseer, wat weer kan bydra tot die kliniek se operasionele kostes sodat ons Triomf Kliniek verder kan uitbrei. Dit maak die dienste van die Triomf Kliniek nog meer lewensvatbaar op die lang termyn.
Hoeveel pasiënte is op die kliniek se boeke, en/of hoeveel pasiënte is al oor die jare deur die kliniek gehelp?
Daar is al meer as 7 300 pasiënte gehelp sedert die kliniek in 2014 begin is. Ons het redelike lang waglyste vir ons oogklinieke en tandartsdienste en hoop om nou nog bykomende oogartse en tandartse betrokke te kry. Ons is baie in ons skik met die gereelde vroueklinieke wat die afgelope jaar begin is.
Die kliniek se sukses rus in ’n groot mate op die skouers van die talle dokters wat heeltemal gratis hul dienste verskaf. Hoeveel van hulle is daar by die kliniek betrokke?
Daar is op hierdie stadium 18 medici wat betrokke is by Triomf, maar die behoefte is so groot, ons sal met graagte nog meer kundiges verwelkom! Die nuwe ligging langs Club Surgical centre, is ideaal om nog meer vrywilligerdokters aan boord te kry.
Zuid-Afrikaans Hospitaal ondersteun ons maandeliks met medisyne en ander mediese verbruiksgoedere wat van onskatbare waarde is.
Wat is die groot droom vir Triomf Kliniek, noudat dit na 11 jaar ’n gevestigde volwaardige projek is, in ’n nuwe ligging?
Om sorg met waardigheid vir nog meer mense te gee, om die kliniek vyf dae per week ten volle te benut, teatertyd op ’n gereelde basis geborg te kry en dit vir nog meer dokters so maklik as moontlik te maak om betrokke te wees. As elke dokter in Pretoria net een middag ’n maand aan Triomf Kliniek kan afstaan, dink net hoeveel duisende behoeftige mense ons kan help! Dan praat ek nie eers van die duisende nuutgekwalifiseerde dokters wat nie werk in die openbare sektor kry nie. Daar is plek vir hulle by Triomf Kliniek!
Medici wat wil betrokke raak, word genooi om ons te kontak by ananja@atterbury.co.za.