Medewerkers2022-01-20T10:15:59+02:00

Die netwerk van mense en instansies wat ons help bou aan die Atterburydroom. Zuid-Afrikaans hospitaal.

GrootFM_logo

helpende hand logo

maroela

Triomf Kliniek

akademia

Cool Capital Logo_All Variations 2016-06

campus key

atterbury teater logo

isa_logo

viva logo

SC logo

Dankie sê briewe

Ek wil net baie baie dankie sê vir alles en dat julle die beursfunksie-aand so lekker vir ons gemaak het. Dankie dat ek deel kan wees van julle, en vir die geleentheid wat julle vir my gegee het.
Groete
Bianca Bosman


Ek wil net weereens baie dankie sê vir ’n wonderlike beursfunksie-aand. Soos gewoonlik het julle julself oortref.

Ek is baie bly om deel van die Atterbury-familie te kan wees.
Vriendelike groete
Altus Bisschoff


Liewe Leonie

Ek wil jou en die res van die Atterbury Trustspan bedank dat julle altyd die ekstra myl vir ons stap.

Hierdie jaar het ek die voorreg gehad om die Mindfulness– en Beleggingswerkswinkel by te woon. Dit is vir my so spesiaal dat julle ons nie net finansieël bystaan nie, maar ook as mense verbeter terwyl ons saam hierdie pad stap.

Ek wil dankie sê dat julle die geleentheid skep vir ons om oor dinge soos beleggings en aandele te leer in die veilige omgewing van Atterbury. Ek voel ek kan oom Renier vertrou omdat julle hom vertrou. Julle bied vir my geleenthede waaraan ek nooit andersins blootgestel sou word nie. Julle rus my toe met vaardighede en tegnieke wat ek vir die res van my lewe kan gebruik en ek waardeer dit verskriklik baie.

Mag julle so geseënd wees in die laaste deel van hierdie jaar.

Groete
Sheree Michau


Dit voel soos gister wat ek daar by Atterbury se kantore ingestap het vir my beursonderhoud. Ek moet sê – ’n mens se hart klop baie warm van die begin af as jy met Atterbury en sy mense te doen kry. Met ‘n Golfie en half-tenk petrol is ek terug Bloemfontein toe sonder enige verwagting, en toe kom julle oproep om te sê ek is aanvaar vir die beurs!
Van daardie dag in 2008 het daar ongelooflik goed met my gebeur en een van hulle was julle goedkeuring om wel verder te kon studeer. Die Here weet waar om wat te doen! My woorde is min en my dankbaarheid ongelooflik baie. Dankie vir die instansie wat julle is, om te staan vir wat goed en reg is. ‘n Maatskappy met ‘n vol hart, beste waardes en geloof in ‘n beter toekoms, wat mense op die regte manier laat groei en wat regtig drome waar maak. Die Here loop ‘n ongelooflike pad saam met ’n mens en ons moet net toelaat dat Hy Sy werke deur ons doen.
Ek het in Augustus daarin geslaag om my beurs aan julle ten volle terug te betaal. Ek sal julle altyd dankbaar wees en sal in die toekoms seker maak my bydraes stop nie… Ek sal in dieselfde rekening bydraes maak aan Atterbury Trust as dit reg so is.
Weereens soveel dankies – my hart is vol en ek is baie trots om deel te kan wees van Atterbury! Julle maak dit vir mens baie lekker. ‘n Vol sport loopbaan, twee grade, my gesin en ‘n ongelooflike werk. Baie baie dankie!
Mag julle al die seën ontvang van Ons Groot Hand wat julle toekom
Laat dit met julle goed gaan en soos Antie Stienie altyd gesê het – “Bye – for now!”
Vriendelike groete
Gert Erasmus

Liewe Triomfkliniek

Ons was in die loop van 2016 by julle kliniek met ons kleinkinders Chanell en Lehandri Cronjé. Hiermee wil ons julle net op hoogte bring van die twee se behandeling.

Chanell het die oogtoestand strabisme en was nou al drie keer by Steve Biko hospitaal vir oogtoetse en die voorskrif vir haar bril wat sy seker ’n hele paar jaar sal moet dra om haar oog 100% te herstel. Sy kan nou sien in die klas, wat sy voorheen nie kon doen nie.

Wat Lehandri betref het ons na toetse uitgevoer deur Prof Honey van Pretoria Universiteit en Wits Universiteit uitgevind dat sy 47 chromosome het, wat haar uniek maak, en dat die chromosoom wat te doen het met haar gesiggie identies gesplit is.

Sy het op 23 Januarie ’n drie-uur-lange operasie ondergaan wat deur Dr Naidoo by Pretoria Universiteit se mond-afdeling uitgevoer is, en is daarna oorgeplaas na Steve Biko se pediatriese afdeling vir versorging. Gedurende die operasie is daar herstelwerk gedoen om onder andere haar verhemelte te heg, en om haar spraakspiere te verstel. Die operasie was ’n sukses en ons was reeds vir een opvolgondersoek. Sy begin volgende week in Polokwane (waar ons bly) met haar spraak- en arbeidsterapie. Almal wat met Lehandri te doen het, kan baie duidelik al die verskil hoor aan haar spraak en glo my, sy babbel een strook deur!

Ons wil almal wat die behandeling van hierdie twee mensies moontlik gemaak het, opreg bedank en ons groot waardering uitspreek vir die puik diens van die Triomfkliniek.

Ons opregte dank aan almal!

Johann en Ena Cronjé
Grootouers

Ek wil net bevestig dat my skuld by Atterbury Trust nou afgehandel is. Die laaste bedrag is inbetaal. Dis was vir my ’n baie groot voorreg om deur julle bygestaan te kon word die afgelope paar jaar. Ek sou so graag vir julle persoonlik wou kom dankie sê vir alles wat julle vir my gedoen het.
Danksy julle is ek verlede jaar deur die onderwysdepartement verkies om aan die Nasionale Onderwyserstoekennings deel te neem. Ek het niks gesê nie, want ek hou nie van grootpratery nie, maar ek is in 2016 aangewys as die beste onderwyser in Tegnologie en Wetenskap vir Tshwane en die derde beste in Gauteng. Ek is nou ’n vakhoof, ’n hoof-onderwyser-opleier en ek word in aanmerking gebring vir HOD. Julle het my lewe gered en heeltemal verander. Ek sal vir altyd dankbaar bly.
Met baie liefde
Ettienne

Om ’n student by die Universiteit van Pretoria te kon wees was ’n voorreg. Ek onthou nog toe ek in Graad 12 was, en onseker oor my spesifieke beroepskeuse, toe skryf ek in vir BA Inligtingsontwerp omdat dit een van my belangstellings was. Op die oomblik kan ek nie my lewe indink sonder Inligtingsontwerp nie. Die afgelope vier jaar was maar rof, maar by Tuks het ek geleer hoe om met moeilike kliënte en spertye te werk. Ek onthou nog my sessies met Leonie, my “life coach”, wat deel is van die Atterbury Trust studenteprogram. Ek kon nie wag om die sessies by te woon nie. Hierdie is die beste gedeelte van Atterbury Trust, hulle is nie net ’n maatskappy wat lenings gee sodat jy die studies kan voltooi nie, maar belê ook in die studente wat hulle kies. Bou ’n verhouding. Bou ’n familie.

Ek mis jou Leonie! Maar dit gaan baie goed by die werk, hulle hou my lekker besig… partykeer te besig :) maar ek kla glad nie!
Geseënde dag vir jou!
Groete en Liefde
Danieka de Bruyn

Beste Zahn & Atterbury-span

Ons wil graag vir Atterbury Trust opreg dankie sê vir jul voortgesette ondersteuning. Dankie vir ’n ongelooflike 2017-feesjaar!

Aardklop is Donderdagaand vereer met die kykNET Fiëstas-toekenning: Gewildste Kunstefees. Sonder julle as ons vennoot sou dit regtig nie moontlik gewees het nie!

Weereens baie, baie dankie.

Ons sien uit na nog ‘n suksesvolle fees in Oktober.

Vriendelike groete,
Delmari van Zyl, Aardklop


Liewe Personeel van Eggbert Eiers

Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om dankie te sê vir julle bydrae, julle ondersteuning help ons om Pikanini ’n beter plekkie te maak. Baie dankie vir die eiers wat ons by julle kry. Die kindertjies is mal daaroor en ons waardeer dit regtig baie.

Dankie weereens vir julle ondersteuning.

Lizal Stander
Area Bestuurder Wolmer
Hanna Charity & Empowerment Foundation


Beste Atterbury Trust,

Vandag kan ek met trots sê dat ek my lening ten volle aan julle terugbetaal het en hiermee ook met blydskap in my hart weet dat dit ‘n deur oopmaak vir die volgende student ná my.

Na vier jaar in die bedryf het ek nie ‘n oomblik se twyfel dat ek met grafiese ontwerp die regte studierigting gekies het nie. Dit is nie net ‘n beroep nie, maar my passie! Dit is ‘n ongelooflike dinamiese bedryf en elke projek is uniek met eindelose geleenthede. Ek streef elke dag daarna om top-gehalte werk die wêreld in te stuur… dis so motiverend en verrykend om in ’n winkel te stap en jou werk op die rakke te sien (beide nasionaal en internasionaal).

Ek is trots om te kan sê dat ek reeds vir vier jaar in ‘n ontwerp-ateljee werk en vanjaar as mededirekteur aangewys is. My werk is al gewys in twee top internasionale verpakkingsontwerp-publikasies (met ‘n derde op pad in 2018) en ook op verskeie ontwerp-webtuistes. Produkte met my verpakkingsontwerpe is in groot kettingwinkels in Suid-Afrika en ook in Europa, China, die VSA en die Karibbiese Eilande.

Ek sal julle nooit genoeg kan bedank vir die beurs nie. Julle het my die kans gegee om na vier jaar trots die wêreld in te stap met ‘n graad in my hand, en julle het die vuur aangedryf waarmee ek my passie verwesenlik het.

Baie, baie dankie!
Tersia Verwey

Medewerkernuus

Title

Go to Top