Vanjaar het Safari Outdoor hulle gewilde jaarlikse Wildsfees ten bate van Terugploeg gehou. Ons hoor meer by uitvoerende hoof Marco van Niekerk.

Hoe het Safari Outdoor by Terugploeg betrokke geraak?
Ons ken vir Lood Bester, een van die stigters van Terugploeg, goed, en verlede jaar het ons begin praat oor hoe Safari die goeie werk wat hulle in minder gegoede gemeenskappe doen, kan ondersteun. Ons verstaan dat Terugploeg en al sy goeie inisiatiewe slegs volhoubaar kan wees en groei indien besighede en die wyer gemeenskap aanhou bydra en daar geleenthede geskep word om  mense wyd bewus te maak van die belangrike werk wat hulle doen. Die Wildsfees het uitgestaan as ’n geleentheid waar ons Terugploeg kon bevoordeel.

Vertel ons meer oor die Wildsfees, die hoe, waar en wanneer; en hoe Terugploeg gebaat het.
Die fees vind elke jaar in Maart/April plaas en is ’n lekker afskop vir die jagseisoen. Jagters en natuurliefhebbers van alle agtergronde kom bymekaar vir ’n aand waar plaaslike kunstenaars optree, die heel beste wildsgeregte voorgesit word en waar gaste teen die einde van die aand deelneem aan ’n veiling van verskillende waardevolle produkte en pakkette. Die veiling-lotte bestaan 100% uit onbaatsugtige skenkings en alle fondse word aangewend ten bate van welsynsorganisasies, vanjaar dan Terugploeg. Deur die jare is enigiets van luukse safari-vakansies, jag-pakkette en selfs jagwapens opgeveil.  Tafels bestaan uit tien sitplekke en die aand is gewoonlik binne ’n paar uur uitverkoop sodra kaartjies beskikbaar gestel word. Dit was vanjaar weer so, al word die fees nie as sulks bemark nie.

Kan jy ’n paar hoogtepunte van vanjaar se fees deel?
Adam Tas is ’n gereelde gesig by die fees en sy vertoning vanjaar was soos altyd ’n hoogtepunt. Die spyskaart het ook soos gewoonlik nie teleurgestel nie – daar was al kameelperd, zebra en selfs krokodil op die spit. Terugploeg se vleisfundi, Diets van der Sande, het vanjaar onder andere blesbokfrikkadelle, seekoei-burgers, seekoei-droëwors en koedoe- en zebrabraaistukke voorberei en op die aand gebraai. Maar die ware hoogtepunt is egter die enorme som geld wat ingesamel is en wat aangewend word om mense wat werklik swaar kry se nood te verlig.

Ons hoor dat julle vanjaar R1 230 000 ingesamel het en dat dit alles ten bate van Terugploeg was – ongelooflik! Hoeveel geld het julle histories al vir liefdadigheid ingesamel, en waar lê julle hart as dit by sulke inisiatiewe/organisasies kom?
Ek dink dit is belangrik om kennis te neem van ’n totale bedrag wat ingesamel is, want dit gee aan elkeen wat betrokke is die versekering dat hul op groot skaal ’n verskil kan maak. Ek sou egter nie in te veel detail wou bespreek wat oor die jare heen ingesamel is nie, want dit kan ons maklik laat vergeet dat dit nie ons eie goedheid is wat ons in die posisie geplaas het om deel te wees van so inisiatief nie, maar 100% seën. Dit is derhalwe vir ons as besigheid meer belangrik om te onthou dat ons slegs rentmeesters is wat vertrou word met die bestuur en aanwending van hulpbronne wat aan ons toevertrou is deur aandeelhouers, kliënte, verskaffers en heel belangrikste, ons Vader.

Vertel ons meer oor Safari Outdoor – wie is julle kliënte, en waarvoor kom hulle na julle toe?
Safari Outdoor het ’n tak by Lynnwood Bridge in Pretoria en ook buite Stellenbosch. Ons het ’n wye verskeidenheid lojale kliënte wat op die besigheid staatmaak vir hul buitelug-behoeftes. Ons bedien avontuursoekers, natuurliefhebbers, jagters en mense wat in die algemeen ’n buitelug-lewenstyl het. Ons bied ’n uitgebreide verskeidenheid produkte aan, vanaf buitelugtoerusting en wapens, tot teleskope, verkykers, kamptoerusting, en nog baie meer. Ons glo ons het die wydste reeks gehalte-produkte van hierdie aard in Afrika en ons is absoluut gefokus om die produk aan te vul met die beste diens moontlik.

Beplan julle enige verdere aktiwiteite vir die jaar waarvan julle mense wil vertel?
Ons het elke maand ’n tema met spesiale aanbiedinge en aktiwiteite wat nasionaal of plaaslik en winkel-spesifiek is. Die maklikste is om te registreer op www.safarioutdoor.co.za en ’n oog oop te hou vir nuwe gebeure.