Jeanne van der Sande het ’n jaar gelede by Terugploeg begin werk as koördineerder. Sy vertel ons van haar jaar op die grond by Terugploeg.

Toe jy in 2022 instap by hierdie nuwe pos, wat was jou prioriteite met wat jy wou bereik, en hoe vergelyk die werklikheid vandag met daardie verwagting?
Ek het ’n jaar gelede begin werk by Terugploeg en het gehoop dat ek die vermoë het om Lood en Herman se droom te kan laat groei en uitbrei. Ek wou regtig ’n positiewe verskil maak.

Ek het nou net gou gaan help kos laai vir ’n kinderhuis en dis onbeskryflik lekker om hulle bussie te kan vol laai en daai dankbare, gelukkige gesigte te kan sien en in jou hart te weet, met die ondersteuning van groothartige boere kan Terugploeg gee met oordaad. Terugploeg maak ’nwerklik  verskil met hulp wat werk!

Wat was vir jou die grootste uitdaging oor die afgelope jaar?
Ek moes Terugploeg op ’n geloofwaardige en deursigtige wyse bestuur.  Dit was ’n kwessie van goeie organisasie en kommunikasie met al die organisasies. Die werklike behoefte van elk is bepaal en kos word nou dienooreenkomstig uitgedeel. Ek dink die stelsel wat ek sover geïmplementeer het, werk en die laaste paar maande ontvang Terugploeg ook meer skenkings van donateurs sodat Terugploeg amper op ’n gereelde basis kos kan voorsien aan organisasies. Die skenkings is nou so konsekwent dat hier amper permanente voorraad is van groente, vrugte en vleis. Organisasies kan nou op ‘n gereelde basis staatmaak op Terugploeg-donasies.

En wat was vir jou die lekkerste deel van die werk?
Die uitdeel van kos en die wete dat mens opheffingswerk doen by mense wat werklik nood het. Die ander wonderlike deel van werk by Terugploeg is die bestuur van die mense wat hier werk. Ek probeer hulle leer om my voorbeeld te volg sodat almal die standaard wat daar gestel is, nastreef in hul werk. Ek wil graag hê dat mense wat hier werk regtig trots moet wees op dit wat hulle doen en elke dag hier regtig geniet, selfs al is dit net mense van ARC wat ons op ’n tydelike basis uithelp.

Deel bietjie met ons die statistieke van wat, waar en hoeveel Terugploeg bereik het. Waarop is jy die trotsste?
Dit is ongelooflik om te dink dat daar vanaf verlede jaar Augustus tot nou meer as 100 ton voedsel uitgedeel is. Dit is nou alles van tonne koeldranke, groente en vrugte, tot mieliemeel en voedsame vleis.

Die verblydendste vir my is egter dat ons nou baie meer wildsvleis en nou ook beesvleis inkry om uit te deel. Dit is nie net die toename in vleisverwerking vir jagters nie, maar ook die feit dat ons jagtervriende met soveel oorgawe skenk. Daar is hierdie jagseisoen al meer as 10 ton wildsvleis verwerk waarvan byna vier ton uitgedeel is. Dit is sulke gesonde proteïen wat voorheen glad nie so gereeld vir die liefdadigheidsiorganisasies beskikbaar was nie.

Waarmee is julle tans besig, en wat is die huidige prioriteite vir die organisasie?
Ons is baie opgewonde oor die nuwe groenteprojek wat ons in samewerking met Dirkl van der Walt se Aquafer Stigting aanplant. Dit beteken dat daar deurlopend ook groente wat organies verbou word, by die vleis sal wees wat ons kan uitdeel. Ons het onlangs ook ’n boomplantdag hier by Terugploeg gehad waar 40 sitrusbome wat deur Plantland met die bemiddeling van GrootFM90.5 geskenk is –  ons het nou ’n mooi sitrusboord! Dis regtig fantasties om die hele tyd sulke nuwe toevoegings by Terugploeg te kan help organiseer.

En hoe lyk die pad vorentoe vir Terugploeg – wat wil jy graag in die volgende jaar sien gebeur?
Ek dink die boerdery-deel hier by Terugploeg gaan uitbrei van kompos maak tot uiteindelik groente kweek en die konstante uitdeel van vleis. Hoe meer daar is, hoe meer kan ons uitdeel.Ons gaan ook hopelik werk kan verskaf aan mense van die liefdadigheidsorganisasies. Dit is vir ons belangrik om mense se menswaardigheid te verhoog en dit is verblydend dat mense bemagtig word hier by Terugploeg.

As mense belangstel om betrokke te raak, wat is die opsies, en hoe hoor hulle meer?
Behalwe kos, deel Terugploeg ook en klere en gebruikte huishoudelike ware uit en ons deure is altyd oop vir enige skenkings. Enige finansiële bydra is natuurlik ook welkom, deur die gewone Atterbury Trust kanale – sien Donasiewinkel. Kontak my gerus per epos by [email protected] as jy enige skenking wil maak.