Goeie nuus vir Gauteng se bergfietsryers en stappers – ’n splinternuwe fasiliteit met avontuur-roetes maak eersdaags in die noorde van Pretoria oop, as ’n vennootskap tussen Terugploeg en Faces. Laasgenoemde se eienaar, die Pretoriase fietsrylegende, Fritz Pienaar, vertel wat om te verwag.

Vertel ons meer oor Faces– hoe lank bestaan dit al en wat bied julle alles aan?
Faces is al 20 jaar oud en het begin met bergfiets-wedrenne in 2002. Ek was self ’n ernstige bergfietsryer toe ek die besigheid saam met twee vennote begin het. Ons wou bergfietsry aan meer mense bekendstel en ook die sport meer professioneel maak, so ons het ’n nasionale bergfiets-reeks gestig wat eers deur Mazda Drifter en later deur MTN en Ashburton geborg is.

Hoe het Faces se vennootskap met Terugploeg gebeur, en wat is die idee daaragter?
Ek ken vir Herman Marx, een van Terugploeg se stigterslede, persoonlik en het by hom gehoor van Atterbury se planne rondom die First Land-eiendom in die noorde van Pretoria waar daar ’n gedeelte is wat dalk ontwikkel kon word tot  ’n avontuur-roete vir fietsryers en stappers. Ek het dadelik die potensiaal van die grond gesien en ek het met Herman en sy mede Terugploeg-stigter Lood Bester ontmoet en ons het die vennootskap gevorm. Faces bou baie paadjies vir ons wedrenne, so ons het reeds die toerusting en kennis om dit te doen, so dit het vir ons sin gemaak. Terugploeg help met die ontwikkeling en sal deel in enige inkomste wat deur die park gegenereer word, en sodoende gee ons ook terug aan die gemeenskap en help om Terugploeg nog meer volhoubaar op die lang termyn te maak.

Wat is die omvang van die nuwe fasiliteite by First Land; en op wie mik julle dit?
Ons beoog om veilige roetes vir fietsryers, stappers en veldlopers (“trail-runners”) in te rig. Daar sal maklike roetes wees vir beginners of ouens wat fietsry of stap vir ontspanning, maar ook meer uitdagende roetes vir ernstige fietsryers en veldlopers.  Daar sal ook vrylopende wild in die park wees – koedoes, rooibokke, selfs kameelperde, so ons verwag ook dat dit ’n gesins-ontspanningsbestemming sal wees.

Hoe ver is julle al met die ontwikkeling, en weet julle al wanneer dit sal oopmaak? Wat gaan die naam wees?
Die park se naam gaan “Die Bosveld Trail and Function Venue” wees. Ons het tans sowat 20km se fietsry-roetes oopgemaak asook die eerste 3km van die stap/drafroetes. Daar is wel nou spanne wat elke dag werk om verdere roetes te bou.

Ons beoog om die park op 15 Julie oop te maak, en teen dan sal ons reg wees met fietsry-opsies van 10km, 30km en 45km, en stap/drafroetes van 5km en 10km.

Is daar enige uitdagings wat oorkom moes word om die ontwikkeling te laat gebeur?
Ons moes ’n omgewings-impakstudie laat doen en daar is streng reëls ingestel met riglyne oor wat ons mag doen. Ons bou alles met die hand en sonder groot toerusting deur dele wat baie digte bosse bevat, so die vordering is soms baie stadig. Dit is wel uiters mooi terrein.

Hoe kan mense meer uitvind oor die opsies wat julle aanbied en wat dit sal kos?
Die webwerf word tans gebou – www.diebosveld.co.za – en al die inligting asook die permit-verkope sal daarop wees. Daar sal opsies wees vir eenmalige toegang of maandelikse en jaarlikse opsies.

Beplan julle iets spesiaal vir die opening?
Ons beplan ’n groot opedag waar ons fietsryers, stappers en hardlopers sal nooi. Daar sal iets te ete en drinke wees, en allerhande ander verrassings.

Vir meer inligting, kontak vir Fritz by [email protected]