Dit is bykans ’n jaar sedert Die Bosveld se buitelug leefstyl-park in die noorde van Pretoria sy hekke oopgegooi het vir liefhebbers van die buitelug. Ananja Koen vertel meer oor Atterbury Trust en Terugploeg se betrokkenheid by hierdie unieke park vir die hele gesin.

Hoe het Die Bosveld oor die afgelope jaar ontwikkel, sedert die idee vir ’n wildernis-aktiwiteitpark op die rand van die stad ontstaan het? Wat gebeur deesdae gereeld by die park – het jy enige bywoningstatistiek om te deel?
Die Bosveld het hulself nou al gevestig as ’n gewilde bestemming vir fietsryers, stappers, natuurliefhebbers en selfs hengelaars. Daar word voortdurend nuwe roetes gebou om dinge so interessant as moontlik te hou en Atterbury Trust het ook van 1 Mei af die koffiewinkel oorgeneem. Daar is oor naweke tipies rondom 400 mense wat kom stap of fietsry en ons hoop met die nodige bemarking sal ons in die komende maande nog meer mense kan trek.

Vertel ons meer oor die koffiewinkel en hoe julle dit nou bestuur?
Terugploeg se een been is Werksaam, oftewel die werkskeppingsinisiatief. Atterbury Trust het so baie beursstudente wat sukkel om deeltydse werk te kry, aangesien selfs deeltydse werkgewers vereis dat die studente ook in die week of laataande moet werk. Ons het besef dat die koffiewinkel nie net ’n ideale plek is waar ons die studente ’n werksgeleentheid kan bied nie, maar terselfdertyd iewers waar ons meer in hulle kan belê deur hul deel te maak van die finansiële rapportering, bemarking en voorraadbeheer – waardevolle ondervinding op ’n CV as hulle na afloop van hulle studies vir werk moet aansoek doen. Ons glo dat die groep studente wat vir die jaar ingekoop het in die koffiewinkel met waardevolle besigheidskennis sal wegstap terwyl hulle ook hier ’n handige ekstra inkomste kan verdien.

Hoe het julle die studente gekies om die winkel te beman – hoeveel van hulle werk hier, kan jy ons iets van hulle vertel?
Ons het die geleentheid op ons Atterbury Trust studente Whatsappgroep geadverteer en die studente wat belanggestel het, het ons by Die Bosveld kom ontmoet. Tans werk daar agt studente oor naweke – die winkel is Saterdae en Sondae oop – en as daar groot geleenthede is waar ons meer hande nodig het, werf ons dan nog studente om te help.

So was Moedersdag verlede maand een van die groter geleenthede, verstaan ons? Was daar ook ander?
Dis reg, daar was lewendige musiek onder die bome wat dit ’n lekker uitstappie gemaak het vir gesinne. Mens kon selfs ’n bos proteas vir die moeders koop! Ons het ook lekker koffie, Terugploeg worsbroodjies, ontbytbroodjies en pizzas verkoop. Op 8 Junie is die Ford Trailseeker-bergfiets-reeks by Die Bosveld aangebied; ongeveer 3 500 mense is deur die hekke en ons is dankbaar dat ons in die eerste maand nadat ons aktief by die koffiewinkel betrokke is, twee suksesvolle geleenthede kon aanbied. Mense kan ook hier kom visvang deur ’n plekkie op die oewer te bespreek, en daar is ook lekker piekniekplek by die boma en grasperk, en die pragtige skuur.

Kan jy enige terugvoering deel van mense wat die park en die koffiewinkel besoek het?
Ons kry heerlike terugvoering op sosiale media en via Google resensies, dit is duidelik dat mense die park en die koffiewinkel geniet. So het Nadine H byvoorbeeld geskryf: “Die beste deel is dat jy na jou stap kan ontspan met ’n lekker koffie en iets om aan te smul by die klein koffiewinkel. Lieflike ambiance in die skaduwee van die baie bome rondom die winkel en ’n uitgebreide spyskaart met baie opsies teen redelike pryse. Dis ’n moet, en beslis een van ons gunstelingplekke om oor ’n naweek te besoek!” Karen J het geskryf: “Ons kerk het hul jaareindfunksie hier gehou… wat ’n pragtige plek. Die gronde word netjies gehou en die ablusieblok is modern en skoon. Wat ’n lekker ervaring so naby aan die stad! Staproetes, fietsroetes en piekniekplekke beskikbaar teen ’n redelike ingangsfooi! Love dit!”

Hoe kom mense by die park uit, en kan mens net opdaag?
Toegangsgeld is R70 per volwassene en mense kan aanlyn hul toegang betaal by https://diebosveld.co.za/rates/ of jy net opdaag en hul toegang by die hek betaal. Jy kan ook Die Bosveld volg op sosiale media, waar ons alle nuus oor die park en wat hier aangebied word, deel.