Inani Startwell Foundation se werk landwyd om groeibelemmering te beperk, lê vir Atterbury Trust baie na aan die hart, en ons is heeltyd op soek na nog geleenthede om die fantastiese Startwell-pap by behoeftige kinders te kry. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel hoe hulle nou die sirkel van omgee groter gemaak het met ondersteuning van WeBuyCars en Outsurance.

Hoe het We Buy Cars en Outsurance betrokke geraak, en presies wat behels die betrokkenheid?
Beide Outsurance en WeBuyCars is al lank vriende van Atterbury Trust en het, soos ons, reeds omvattende welsynsprogramme. Toe ons hulle nader oor hierdie projek wat ons via die Atterbury Property Foundation uitrol, het hulle dadelik ingestem om te help, en tans befonds dié twee maatskappye daaglikse maaltye vir sowat 1 800 kinders.

Julle beplan ’n reeks aktiverings van hierdie inisiatief regoor die land. Vertel ons meer daarvan? Streef julle ’n bepaalde mikpunt na?
Ons het die projek spesifiek met Jeugmaand geloods, gemik daarop om fisiese en intellektuele groeibelemmering van kinders teen te werk. Ons het reeds met die eerste twee skole in die Wes-Kaap  begin – Life Community se kleuterskool in George en Wolwedans-créche in Groot-Brakrivier. Soos ek genoem het, is daar as deel van hierdie ondersteuning geld bewillig om ’n totaal van 1 800 kinders onder ses jaar elke dag van ’n maaltyd voorsien, en ons is nou in die proses om dit landwyd uit te rol. Dit is vir beide WeBuyCars en Outsurance belangrik om landswyd ’n impak te maak. Die Startwell fabriek in Springs het kapasiteit om genoeg pap te maak om vir 200 000 kinders ’n daaglikse bord kos te gee, en ons het die kundigheid om bystand te verleen om die uitrol van die pap te monitor, so ons is vol vertroue dat die projek sal aanhou groei met die hulp van nog groot organisasies wat aan boord kom. 

Herinner ons weer aan die statistiek rondom groeibelemmering, en hoe Inani Startwell se pap die probleem aanspreek.
In Suid-Afrika is ’n volle 27% van kinders onder vyf in gevaar van belemmerde groei, wat ’n volkome voorkombare toestand is, maar ook lewenslange impak het indien dit nie voorkom word nie. Die eerste 2 000 dae van lewe – vanaf bevrugting tot die vyfde verjaardag – is ’n kritieke tyd waar wanvoeding en ’n gebrek aan die belangrikste voedingstowwe in die dieët lei daartoe dat ’n kind se brein nie ontwikkel soos dit moet nie. Dit kan nooit weer ingehaal word nie en kan ook lei tot latere gesondheidsprobleme. Inani Startwell het oor die afgelope paar jaar ’n gebalanseerde pap ontwikkel wat al die nodige voedingstowwe bevat vir vroeë ontwikkeling, wat maklik voorberei en bedien kan word en ’n kind met een maaltyd per dag kan help om belemmerde groei vry te spring. Brood, soja en mieliepap, byvoorbeeld, kan wel ’n kind se magie volmaak, maar dit bevat nie die broodnodige proteiene, vitamiene en minerale wat ’n ontwikkelende kleuter nodig het nie, en as gevolg hiervan lei duisende kinders wat in arm huishoudings grootword aan wanvoeding.

Hoe raak voorskoolse skole betrokke?
Voorskoolse skole doen aansoek by ons en die proses begin dan met ’n fisiese besoek deur die Atterbury Trust en die Atterbury Property Foundation, waartydens die onderwysers opgelei word om die projek te kan deurvoer. Die pap word dan by die skool afgelaai, en soggens voor die dag se klasse begin, kry elke kind ’n bordjie pap. Die kinders word dan ook maandeliks letterlik geweeg en gemeet, en hulle vordering in die klaskamer word geboekstaaf, sodat die effek van die pap op hulle ontwikkeling gemeet kan word.

Dis ’n langtermynprojek, maar Atterbury Trust en ons vennote hierin kyk ver vooruit en wil graag ‘n langtermyn verskil in ons land teweegbring.

Hoe kan mense betrokke raak om dié inisiatief nog verder deur die land te versprei?
Die projek word gedryf uit Atterbury Property Foundation en bestuur deur die Atterbury Trustspan sodat mense wat wil bydra gerus kan wees dat elke sent reg aangewend sal word.  Dit kos maar R80 per maand om ’n kind te voorsien van ’n daaglikse maaltyd, so ’n gereelde bydrae kan ’n groot verskil maak. Maatskappye verdien boonop BEE punte vir hulle bydrae tot die projek. Vir meer inligting, kontak gerus vir  [email protected].