Intro: Atterbury Trust is so bevoorreg om in vennootskap te wees met Jan van Riebeeck Hoërskool in Kaapstad, waar agt Moedertaal Ontwikkeling Inisiatief (MOI)-beurshouers vanjaar skoolgaan. Die skoolhoof, Pieter Rademeyer, vertel meer oor die skool se betrokkenheid.

 Hoe het jy van die MOI-program te hore gekom, en hoe het dit gebeur dat Jan van Riebeeck betrokke geraak het?
Ons was baie bevoorreg dat die bekwame personeel van MOI ons genader het om ons oor die program te vertel en uit te vind of ons sou belangstel om deel te neem. Ons was onmiddellik opgewonde om deel te wees van so ’n bemagtigende inisiatief. Ons het tans twee Graad 12s, een Graad 11 en vyf Graad 8-MOI leerders in ons skool.

 Om by Jan van Riebeeck te kan skoolgaan is ’n groot voorreg vir die MOI-beurshouers. Wat is jou siening oor moedertaal-onderwys – en in jou ervaring, wat is die soort resultate wat volg as ’n kind in sy of haar moedertaal kan onderrig ontvang?
Moedertaalonderwys is myns insiens so ’n belangrike stukkie gereedskap op ’n kind se ontwikkelingspad. Dit gaan ook oor al die nuanses wat saam met jou taal in ’n ruimte ervaar word: kultuur, konteks, ensomeer. Dit het definitief ’n blywende impak en sit ’n kind op ’n groeipad vir hulle toekoms.

 Hoe gaan dit met die MOI-leerders wat daar by julle is – pas hulle mooi aan?
Dit gaan uitstekend met al agt van hulle. Ons almal is baie trots op hulle en spog gereeld dat die MOI-leerders werklik goed inskakel en so positief is – met die mooiste maniere boonop! Hull gaan almal tuis in die koshuis en ons personeel doen goeie werk om hul met die aanpassingsproses te help. Jan van Riebeeck roem ons daarop om ’n skool te wees wat geleenthede bied en die MOI-leerders gryp hierdie geleenthede aan met beide hande! So is Alnecha wat in Graad 12 is, ’n ywerige aktrise wat deel is van ons Jeugdrama-span en ons ander Graad 12, Willicia, sing in die koor. Herchelle in Graad 11 is weer die wiskundige wat so uitblink dat hy nou bykomend Cambridge wiskunde as ekstra vak neem. Die vyf Graad 8s is ’n hegte groep wat alreeds baie goed aangepas het in die hoërskool. Ek het aan MOI-programbestuurder Jenene Petersen gesê dat hulle al die nuwe beurshouers in 2025 na Jan van Riebeeck kan stuur!

 Wat maak Jan van Riebeeck so spesiaal as ’n skool en ’n gemeenskap, uit jou oogpunt? En hoekom is julle ’n ideale skool vir ’n MOI beurshouer?
Ons is ’n gemeenskapskool wat graag wil hê dat elke kind die beste weergawe van hulself moet wees. Leerders kan hier in ’n veilige skoolomgewing aan so baie blootgestel word. Dis ’n unieke ervaring: ons bied ’n amperse plattelandse skoolgevoel in ’n wêreldstad. Die leerders voel geborge, maar die blootstelling is ongelooflik.

Hoe belangrik reken jy is programme soos MOI, en behoort meer skole betrokke te raak? Hoekom?
Hierdie program bied aan leerders ’n wonderlike ontwikkelings- en verrykingsgeleentheid. Dit is fantasties om te ervaar hoe die kinders blom en daarom moet alle skole wat kan hierdie belangrike soort sosiale programme ondersteun. Talente word ontgin en ontwikkel – en dit sou ontsettend jammer wees as hierdie jongmense nie so ’n geleentheid kon ontvang nie.

Wat is die grootste uitdagings omtrent die program vir ’n skoolhoof en ’n skool wat betrokke raak?
Daar is nie groot uitdagings nie – net vreugde. Ons bly altyd besorg oor hierdie leerders en ek en my personeel wil graag help om te verseker dat dit vir elkeen ’n positiewe ervaring is!