Atterbury Trust is opgewonde om deel te wees van ’n inisiatief deur sanger Elvis Blue en Innibos om geld in te samel vir opvoeding van behoeftige kinders. Elvis Blue en Atterbury Trust se Zahn Hulme deel die agtergrond van hierdie hoopvolle inisiatief.

Wat noem julle die veldtog, en wie is almal betrokke?

Elvis Blue: Dis eenvoudig ‘Elvis ry vir skoolgeld’ en dit is presies wat dit sê! Ek het koppe bymekaargesit met Atterbury Trust en Innibos om die plan te beraam, en op 1 Junie pak ek ‘n groot avontuur op my fiets aan… ek gaan vanaf George, waar ek woon, tot in Nelspruit, waar ek by Innibos optree, ry, om aandag te vestig op die uitdagende omstandighede waarin miljoene behoeftige Suid-Afrikaanse kinders hulle bevind. Ons weet daar is baie mense met groot harte wat graag hul hande uitsteek met hulp, maar ’n mens moet hulle aandag op ’n manier trek, en dit is die idee agter die fietstog… ek soek aandag!

Dit is omtrent ’n lang rit! Waar kom die idee vandaan?

Elvis Blue: Ja, dit is ’n afstand van bietjie meer as 1 500km; en my sitvlak sal  dit verseker voel!  Maar ’n seer sitvlak is niks in vergelyking met die omstandighede van soveel weerlose kinders wat met leë mae moet skool toe gaan en iets probeer leer nie. Ek weier om net rond te sit met die wete dat daar kinders is wat nie die potlode, penne, boeke of selfs skoene het vir skool nie. Dit breek my hart dat daar slimkoppe, sportmanne en geniale musici is wat is wat nooit die geleentheid sal hê om bo hulle omstandighede uit te styg nie. Dit is wat ek wil hê ons saam moet aanspreek. My hart raak ook seer wanneer ouers nie vir hulle kinders kan sorg nie, of wanneer ’n kind se omstandighede net onmoontlik lyk. Ek wens ek kon duisende kinders help, maar ek glo dis steeds die moeite werd om iets daadwerklik aan te pak om ’n verskil te maak aan die omstandighede van ’n paar kinders.

Hoe gaan die fietstoer werk?

Elvis Blue: Ek vertrek op 1 Junie vanuit George en trap na Uniondale op daardie eerste dag. Vir die volgende twee weke ry ek dan elke dag ’n skof, behalwe een rusdag, totdat ek op 14 Junie die finale been van die toer van Badplaas tot in Nelspruit voltooi. My afdag is 11 Junie, wat ek met ’n braai gaan vier in Vrede, in die Vrystaat.

Hoe is Atterbury Trust betrokke?

Zahn Hulme: Elvis Blue en Atterbury Trust loop al ’n lang paadjie saam. Hy is gereeld deel van die Trust se jaarlikse Versnit-fondsinsamelingskonsert op Rust en Vrede in Stellenbosch, en baie bekend met die Trust se werk. Daarom het hy uitgereik om die Trust as ’n ervare vennoot te betrek om die insameling te bestuur terwyl hy fokus op die fietstoer. Die Trust se Donasiewinkel is ‘n betroubare, doeltreffende insamelingsplatform, en ons span dra by tot die bemarking van die inisiatief en sal dan die geld wat ingesamel word, by die regte mense besorg. GrootFM 90.5 is ook aan boord – Elvis Blue gaan eersdaags op DieGrootOntbyt meer vertel en daar word ook ‘n daaglikse oorskakeling beoog om die land op hoogte te hou van sy vordering. Elvis Blue het twee liefdadigheidsorganisasies geïdentifiseer wat hy graag eerstens wil ondersteun, een gebaseer in George waar hy al vir baie jare betrokke is, en die ander een in Nelspruit. Beide Life Community Services in George en die Daaintjie Orphan Project in Nelspruit spreek die fisiese en opvoedkundige behoeftes van minderbevoorregte kinders direk aan. Hopelik gaan daar soveel fondse ingesamel word dat opvoedingsprojekte ook by ander skole en organisasies op sy roete kan geskied!

Hoekom is projekte soos hierdie so belangrik?

Elvis Blue: Daar is elke dag sowat 9.6 miljoen kinders in Suid Afrika wat honger en voedselonsekerheid ervaar. Die redes is kompleks en kan lei tot ’n wye reeks nagevolge, insluitende sosiale en gedragsprobleme, asook gesondheidstoestande soos groeibelemmering, verdwerging, swak konsentrasie en lae immuniteit. Suid Afrika het ook een van die mees ongelyke onderwysstelsels per wêreld, met swak of afwesige infrastruktuur, oorvol klaskamers en chroniese onderprestasie wat die toekoms van ons kinders en dus ons land in gevaar stel. Menige sosiale opnames wys ook dat ’n tekort aan skryfbehoeftes, uniforms en skoolgeld veroorsaak dat al hoe meer kinders tussen die ouderdomme van sewe en 18 ophou om skool toe te gaan, en op die ou end nie matrikuleer nie.

Hoe werk die geldinsamelingsmeganisme, en hoe kan mense bydra? 

Elvis Blue: Mense kan op Atterbury Trust se welbekende en betroubare Donasiewinkel bydraes maak (die skakel is ook op my sosiale mediaplatforms). As jy Innibos-kaartjies koop sal jy ook die geleentheid aangebied word om ’n finansiële donasie te maak. Ons verwelkom ook skenkings van enige skoolbenodighede, wat by Atterbury Trust se kantore in Pretoria of Stellenbosch afgelaai kan word. Alle finansiële donasies sal verantwoordelik via die Atterbury Trust bestuur word om die wydste reikwydte te hê en die meeste kinders moontlik direk te bevoordeel.

En laastens verwelkom ek enigiemand wat ’n deel van die pad wil saamry – hoe meer siele hoe meer vreugde, natuurlik met die veronderstelling dat jou saamry ook met ’n donasie sal gepaard gaan! Hou my sosiale media platforms dop vir logistieke reëlings en vertrek-tye uit die onderskeie dorpe. Sien julle op die pad

 

VOLG ELVIS BLUE OP PAD:

1 Junie
George na Uniondale – 111.4km  (2 176m klim)
2 Junie
Uniondale na Oppivlak Padstal – 103.5km (1 052m klim)
3 Junie
Oppivlak na Graaff-Reinett – 129.4km  (471 klim)
4 Junie
Graaff-Reinett tot Middelburg – 140km  (1 891m klim)
5 Junie
Middelburg tot Venterstad – 133.4km  (739m klim)
6 Junie
Venterstad tot Smithfield – 112.3km (921m klim)
7 Junie
Smithfield tot Hobhouse – 104.5km (944m klim)
8 Junie
Hobhouse tot Ficksburg – 124.9km (1 349 klim)
9 Junie
Ficksburg tot Bethlehem – 94.9km (928m klim)
10 Junie
Bethlehem tot Vrede – 149.9km (1 275m klim)
11 Junie
Afdag, en braai!
12 Junie
Vrede tot Morgenzon – 103.2km (878m klim)
13 Junie
Morgenzon tot Badplaas – 138.7km (1 362m klim)
14 Junie
Badplaas tot Nelspruit – 99.4km (1 575m klim)

*Volg op Strava:

https://www.strava.com/routes/3171126006528520674

 

Vir meer inligting oor die fietstoer, hoe om deel te neem en hoe om te skenk, kontak vir Kona Brown by [email protected]. Vind die skakel na Donasiewinkel hier.