Atterbury Trust is al geruime tyd betrokke by die gemeenskap van Atlantis in die Wes-Kaap en werk nou saam met die Richmond Park Treasury Trust (RPTT). Ons kry die detail by Surisa Schwalb, wat finansies en projekte hanteer vir Atterbury Trust Wes-Kaap.

Richmond Park Treasury Trust (RPTT) word befonds uit Atterbury Property en Old Mutual se Richmond Park-ontwikkeling in Richwood, Kaapstad, waar ’n grondeissaak op unieke wyse tot voordeel van ’n voorheen benadeelde gemeenskap besleg is. Atterbury Property en Old Mutual het die grond by die eisers gekoop, en ’n vaste persentasie van alle ontwikkelingskoste word oorgedra aan die RPTT. Die trust se mandaat is om opvoeding en gemeenskapsontwikkeling in hoofsaaklik Atlantis, waar die grondeisers nou merendeels woon, te bevorder. Atterbury Trust, spesifiek die Wes-Kaapse kantoor, bestuur die RPTT trust saam met die trustees en verskaf ondersteuning aan die gemeenskapsprogram.

Die program behels ’n verskeidenheid opvoedingsaksies in lyn met Atterbury Trust se oogmerke, vertel Surisa. Daar is reeds in 2016 afgeskop met rentevrye beurslenings aan kwalifiserende studente, ’n hele paar van die studente het reeds gegradueer en daar is tans 13 tersiêre studente betrokke. Hulle sluit in nuwelinge wat in 2024 begin swot het asook vorige studente wat nou verder leer met addisionele lenings. “Daar word ook lenings toegestaan vir kort kursusse en ons het al 25 studente so gehelp,” sê Surisa. Daar is ook reeds verskeie vaardigheidsontwikkelingsprogramme aangebied wat veral op konstruksiebedryf gefokus het om die indiensnemingsmoontlikhede van begunstigdes te verbeter.

RPTT het ’n kantoor in Atlantis se middedorp wat as hulpbron-sentrum dien, met internettoegang, rekenaars en drukkers wat die gemeenskap kan gebruik. Kinders kom doen hier huiswerk en neem oor vakansies deel aan stimulerende vakansieprogramme in ’n veilige omgewing. “Die sentrum is gewild vir die druk van CV’s en vir werksaansoeke, en daar word elke Saterdag rekenaarvaardigheidsklasse aangebied,” aldus Surisa.

Sorg vir die jongste lede van die gemeenskap lê Atterbury Trust na aan die hart en in Atlantis word Wonderland Creche ondersteun deur die verskaffing van Inani Startwell pap aan die kleuterskool sodat die kinders die dag begin met ’n voedsame ontbyt. “RPTT se administratiewe beampte, Jolene van Schalkwyk, hou ook deeglik rekord van die kleintjies se groei en vordering,” sê Surisa.

Sy verduidelik voorts dat daar ook indiensopleiding verskaf word. “Ons gee jaarliks vir 20 mense uit die gemeenskap die geleentheid om sekuriteitsopleiding te ondergaan. Ervaring het ons geleer dat sekuriteit die veld met die hoogste indiensname-koers is. Ons skep nou 20 nuwe werksgeleenthede vir mense van Atlantis wat nie werk gehad het nie. Minstens die helfte van diegene wat die kursus voltooi het, werk vandag steeds in die veld.”

Volgens Surisa is daar ook heelwat sukses behaal met ’n leningsprogram vir maatskappye met bande in die gemeenskap. “Ons het in die afgelope drie jaar twee lenings bewillig aan nuwe maatskappye met eienaars en werkers uit die gemeenskap. Só bemagtig ons entrepreneurs om ’n onderneming op die been te bring. Richmond Works was die eerste een wat van hierdie geleentheid gebruik gemaak het en vandag is dit ’n baie suksesvolle maatskappy wat verantwoordelik is vir al die tuine in die Richmond Park ontwikkeling.”

Daar is ook CCS Group, aanvanklik gestig deur tweelingsussies uit Atlantis wat destyds deel was van die aanvanklike vaardigheidsontwikkelingsprogram, wat reeds sukses behaal het met ’n paar noemenswaardige sekuriteitskontrakte.

Ook op gesondheidsvlak word die gemeenskap ondersteun, vertel Surisa. Verlede September is die vroue van Atlantis betrek by ’n borskanker-bewusmaking veldtog saam met Screen Her Save Her. ’n Mobiele kliniek van hierdie organisasie is vir ’n week by die Richmond Park se winkelsentrum, Richmond Corner, gestasioneer en Atterbury Trust en RPTT het 13 vroue van die gemeenskap geborg om mammogramme te ondergaan, in meeste gevalle hul heel eerste ondersoek van hierdie aard. Dié program gaan in September vanjaar herhaal word, sodat nog meer van Atlantis se vroue van hierdie belangrike diens gebruik kan maak.

“En dan is daar ook jeugontwikkeling – ons is aan die beginstadiums van ’n projek saam met MentorSA wat ons genader het om betrokke te raak by die leerders van Atlantis. Ons kan nog nie veel sê nie, maar ons sien uit na ’n projek wat die oogmerk het om  die jeug te bemagtig met identiteitsontwikkeling, leierskap, entrepreneurskap en beroepsgerigte opleiding. Al die hoërskole in die omgewing word betrek en ons hoop dat Atterbury Trust se ondervinding met ons Moedertaal Ontwikkeling Program (MOI) ook van waarde kan wees. Hou hierdie spasie dop!”