Triomf Kliniek het na tien jaar afskeid geneem van sy oorspronklike tuiste by die Margaretha Ackermann Ouetehuis in Vom Hagenstraat 472 in Pretoria-Wes, maar by die nuwe tydelike perseel in Silverton gaan Triomf Kliniek se sorg met waardigheid ononderbroke voort. Atterbury Trust se Liauné Terblanche, wat omsien na Triomf Kliniek, vertel meer:

Hoekom was dit nodig om van persele te skuif?

Die kliniek was al die jare geleë op die gronde van die SAVF se Margaretha Ackerman Ouetehuis. Ongelukkig het die SAVF al vir geruime tyd probleme ondervind met betrekking tot die algemene munisipale verval in die omgewing wat veral die veiligheid van inwoners bedreig het en omdat daar nie werkbare oplossings in die vooruitsig is nie, het die SAVF bestuur die besluit geneem om die ouetehuis te sluit en die perseel te verkoop. Dit het alles baie skielik gebeur en Triomf Kliniek kon vanaf Maart vanjaar nie meer van daar af bedryf word nie.

Hoe sal jy Triomf Kliniek se impak in die afgelope dekade opsom?

Voor Triomf Kliniek daar was, het die behoeftige Afrikaanse mense van Pretoria-Wes dikwels vir jare met kwale geloop omdat die staatshospitale nie voldoende sorg kan aanbied nie. Triomf Kliniek is gestig deur welwillendheid, en met die oogmerk om uitmuntende sorg met waardigheid aan te bied, en oor die afgelope 10 jaar kon ons danksy ’n skare van weldoeners en dokters wat hul dienste verniet aangebied het, amper 6 350 pasiënte op hierdie manier help.

Waarheen nou vir Triomf Kliniek?

Danksy ons netwerk van ondersteuners gaan Triomf Kliniek se dienste tans ononderbroke voort. Ons werk saam met ’n gesondheidskliniek in Silverton, Health Care at Fountain, terwyl ons besig is om planne te maak vir ’n nuwe permanente perseel. Die kliniek is geleë op die hoek van Fountain en Krigestrate. Suster Doret van Healthcare at Fountain het reeds 38 pasiënte gesien vir ’n aanvanklike volledige mediese ondersoek, waarvandaan sy hulle verwys het na die relevante spesialiste of dokters wat by Triomf Kliniek betrokke is. Dr Gerhard Herbst, een van Triomf se algemene praktisyne, het ook saam met Suster Doret ’n kliniek aangebied en hulle het in totaal nege pasiënte gehelp. Voorts het Dr Helene Basson onlangs ’n ortopedie-kliniek gehou en 35 pasiënte gespreek.

Die Atterbury Trust se span in die Wes-Kaap is ook hard besig met inisiatiewe om die dienste van Triomf Kliniek na die Wes-Kaap verder uit te brei deur ’n permanente perseel te vestig in die Stellenbosch area. Daar is reeds verlede jaar afgeskop met die mobiele Screen Her Save Her mammogramtoetse met ondersteuning van Keystone Medical by Atterbury se Richmond Corner sentrum. Dit vind weer vanjaar in September plaas – hopelik in Stellenbosch ook!

Het julle iewers in gedagte vir die nuwe kliniek?

Die hooffokus vir Triomf Kliniek is om behoeftige pasiënte te bedien, en dus is die ideaal om iewers geleë te wees waar ons toeganklik is vir die gemeenskap. Ons het al in verskeie dele van Pretoria na persele gaan kyk, maar daar is nog geen finale besluite geneem nie. Dis ’n besluit wat ons met omsigtigheid en in oorleg met rolspelers sal neem, want ons sien dit as ’n nuwe seisoen vir Triomf Kliniek en ’n geleentheid om verder uit te brei om nog ʼn groter impak in ons gemeenskap te maak.

Daar word ook eksterne befondsing benodig om ‘n nuwe kliniekgebou te koop, aangesien ons die gratis gebruik van die Triomf Kliniek gebou vir die afgelope tien jaar met die goedhartigheid van die SAVK gehad het – die Atterbury Trust het wel die kapitale verbeteringe, gebou-onderhoud, verpleegster- en administratiewe salarise en verbruiksgoedere befonds.

Hoe bedrywig is die kliniek in die volgende paar weke?

Ons het reeds dié week ons eerste spesialiskliniek in Silverton gehad, met Dr Helene Basson van Operation Healing Hands wat vir sowat 35 pasiënte ortopediese dienste aangebied het. Ons is ook besig om deur die Triomf Kliniek waglys te werk en te kyk waar ons die pasiënte op die lys die beste kan akkommodeer.

Datums vir Triomf Kliniek wat gefinaliseer is:

  • 30 April – Dr G Herbst (algemene praktisyn)
  • 8 Mei – Dr R Vorster (tandarts – eie spreekkamer)
  • 22 Mei – Dr R Vorster (tandarts – eie spreekkamer)
  • 31 Mei – Dr R Malan en Dr D Barnard (vrouekliniek)
  • Elke dag, Maandag tot Vrydag, tussen 8:00 en 15:00 (ondersoeke by Healthcare at Fountain)

Hoeveel dokters is tans betrokke, en is daar spesifieke spesialisdienste wat nog nodig is en wat julle nie tans kan aanbied nie? Hoe kan dokters wat hul tyd wil skenk, betrokke raak?

Ons is baie bevoorreg om te kan voortgaan met ons klinieke terwyl ons vir nuwe kliniekruimte soek. Op die oomblik bied  ons die volgende spesiale klinieke aan:

  • Polikliniek (algemene praktisyns)
  • Ortopedie
  • Dermatologie (velkanker-, litteken- & brandwondbehandeling)
  • Oor-, neus- en keelspesialisdienste
  • Ginekologie (slegs algemene vrouegesondheid, ongelukkig nie swangerskappe nie)
  • Tandheelkunde

Ons het dringend behoefte aan psigiatrie, optometrie en oudiologie. Weens beperkte spasie in die tydelike kliniek in Silverton kan ons ongelukkig nie op die stadium ons oogklinieke aanbied nie, hoewel daar ’n baie groot behoefte is. Ons waglys vir oogtoetse staan nou op 102 pasiënte. Ons is wel besig om in oorleg met Modern Optical se “Eyecare for Kids” inisiatief waarmee hulle oor die volgende ses jaar 1 000 000 brilrame en lense onder mindervoorregte gemeenskappe gaan versprei, te werk aan ’n strategie waar ons ook via Triomf Kliniek mense kan bereik.

Ons nooi alle vrywilliger-dokters uit om by die Triomf-span aan te sluit. Stuur vir ons ’n e-pos na [email protected] of voltooi die vorm aanlyn https://triomf.org.za/raak-betrokke/.