Triomf Kliniek het oor die jare talle dokters verwelkom wat met liefde terugploeg in die gemeenskap. Dr Nina du Toit bring haar oor- neus en keel-kundigheid al vir meer as ’n jaar lank tot diens van die gemeenskap. Sy vertel meer. 

Watter paadjie het jou gelei tot by Triomf Kliniek?
Die dag toe ek besluit het om die staatsdiens te verlaat en in privaat-praktyk in te beweeg, het ek amper skuldig gevoel om so groot deel van ons bevolking wat nie mediese fonds kan bekostig nie, agter te laat.  Ek het geweet dat daar nuwe huisdokters en gemeenskapdiens-dokters gaan kom om hulle te versorg, maar hoewel ek ’n beroepskeuse moes maak waar ek ook op my gesin kan fokus, het dit my bly pla.  Toe ek die eerste keer deur Operation Healing Hands genader is om te help met operasies soos tonsillektomies en om pypies in die ore te sit vir kinders wat al maande op waglyste is by staatshospitale, het ek geweet dis hoe ek kan terugploeg.  So het ek toe gehoor van Triomf Kliniek wat al die werk doen om die pasiënte te identifiseer, en ek het dadelik aangebied om betrokke te raak en te help met konsultasies.

Waar is jou praktyk?
Dis by Club Surgical Centre in Hazelwood, in Atterbury se baie lekker nuut-ontwikkelde Old East area.  Dit is ’n top-gehalte daghospitaal.  Ek werk ook by Zuid Afrikaans Hospitaal soos nodig.

Hoe gereeld besoek jy Triomf Kliniek, en hoeveel pasiënte sien jy tipies op so ’n dag?
Ek is een keer elke drie maande daar en sien dan enigiets tussen 10 en 20 pasiënte.  Ek opereer ook so twee maal per jaar soos hospitale hulle teaters vir Triomf Kliniek beskikbaar maak.

Wat is die mees algemene kwaal wat jy by Triomf teëkom, en wat reken jy is die grootste behoefte onder hierdie pasiënte?
Die klein kindertjies wat sukkel met mangelontsteking, middeloorontsteking en sinusitis is definitief my algemeenste pasiënte daar.  Die arme kinders wag soms tot twee jaar voor hulle in staatshospitale chirurgie kan kry weens die lang waglyste.  Ek sien dan ook soms volwassenes met gehoorkwale, sinusitis of slukprobleme.  Voordat hulle by Triomf Kliniek uitkom, sukkel die pasiënte so om gehelp te word en verwys te word na die regte dokters toe, en ook om die regte medikasie te kry.

Triomf Kliniek steun so swaar op dokters soos jy wat hulle tyd skenk vir hierdie goeie saak. Wat is jou opinie oor die kliniek en sosiale projekte soos hierdie?
Ek is dankbaar vir die geleentheid en dink dit is wonderlik dat daar mense is wat bereid is om dinge in hulle eie hande te neem om hulle gemeenskap te help.  Ek is net altyd teleurgesteld dat die staat nie hulle eie mense kan help nie.

Wou jy altyd ’n oor-neus-keel spesialis word? Wat het jou na hierdie spesialisveld aangetrek?
Ek het vroeg in my opleiding al gehou van dié veld. Ons Prof het eendag ’n prentjie van die oor met sy klein oordrom, die perfekte gehoorbeentjies en die koglea geteken op die swartbord.  Hy het teruggestaan en sy meesterstuk aanskou en gesê, “Die oor is ’n bewys dat God bestaan.”  Dit is baie fyn en mikroskopiese werk en tog maak dit so ’n groot verskil in mense se alledaagse lewe as hulle beter kan hoor, kan asemhaal en sluk.  Ek geniet ook die klomp klein kindertjies wat ek elke dag sien!

Om af te sluit, kan jy ons iets meer oor jou persoonlike lewe vertel?
Ek is baie gelukkig getroud, al vir 11 jaar en ons het twee pragtige kleuters – vierjarige Lana en tweejarige Robin.  Ons is buitelugmense wat lief is vir vakansie en avonture as gesin, saam met ons evriende en ons oulike twee honde!

Triomf Kliniek nooi dokters uit om soos Dr Nina ’n hand uit te steek en ons te help om behoeftiges in ons gemeenskap te voorsien van uitmuntende mediese sorg met waardigheid. Maak gerus kontak met [email protected] vir meer inligting.