Komponis Clara Schumann se lewe in musiekteaterstuk gevier

Met Nina Schumann (pianis) en Carla Smith (aktrise)

Teks: Riana Scheepers

Regie: Niël Rademan

Ontwerp: Lindi-Heila Smit

Atterbury Klassiek 2023 spog vanjaar met vyf konserte van top internasionale en plaaslike musici. Hierdie opwindende Klassieke fees vind plaas vanaf 18-21 Mei by die Atterbury teater.

Op 19 Mei is ’n toneelstuk oor die romantiese, avontuurlike en merkwaardige lewe lewe van die pianis en komponis Clara Schumann te sien, met die bekende pianis Nina Schumann en aktrise Carla Smith in die verhoogproduksie, Clara.

Clara is ‘n klein meesterstuk van formidabele talente, ‘n delikate en meevoerende teaterervaring. Clara is verlede jaar vir die eerste keer by die Hessequa Harmonie-musiekfees op Helderberg opgevoer en is onlangs by die Suidoosterfees in Kaapstad aangebied.

Dié nuutgeskrewe drama oor die lewe van komponis en pianis Clara Schumann (1819-1896) – beter bekend as Robert Schumann se vrou – is geskryf deur die meesterverteller, Riana Scheepers. Die heldhaftigheid waarmee Clara Schumann haar loopbaan as pianis uitgebou het, is merkwaardig en in onder ’n uur word jy verplaas na Clara se tyd en die mense in haar lewe. ‘n Lewe van passie, liefde, tragiek, maar boweal uithouvermoë word in Afrikaans aangebied, begelei met die universele taal van musiek. Clara raak verlief op die komponis Robert Schumann, ’n leerling van haar pa. Hy word later haar man teen haar pa se wense in. Dan volg haar lewe as vrou en moeder. Haar eie werk raak agterweë – die “huis is weer vol klank” – die egpaar het agt kinders, sy skep nie meer nie en kan ook nie meer oefen voor groot uitvoerings nie want die huishouding hou haar te besig. Smith lig nie net die menslike strewes van haar karakter uit nie, maar gee vir jou ’n kykie in haar siel. Jy vind ook haar drome en versugtinge in haar musiek. Sy is die opgewonde klein dogtertjie en die radelose vrou wat sien hoe haar man versink in ’n geestessiekte.

Benewens die teateraspek en ’n uitstekende vertolking van die aktrise Carla Smith as die komponis van klein dogtertjie tot volwasse vrou, kry die gehoor ook ’n uitvoering van die veelbekroonde pianis Nina Schumann. Nina Schumann (soos Madame Clara ook pedagoog en konsertpianis) verklank Clara se storie met klaviermusiek wat deur komponiste Robert Schumann, Johannes Brahms (Clara geliefde vriend), en natuurlik werk van Clara Schumann self. Schumann die pianis gee agt meelewende uitvoerings van onder meer Schumann se Polonaise, haar klavierkonsert se tweede beweging, asook komposisies van Robert Schumann en Johannes Brahms. Dit verplaas die gehoor na die meesterskap van nie net Schumann nie, maar ook haar man en Brahms, met wie sy later ’n verhouding blyk te hê.

Clara word aangebied onder regie van Niël Rademan en word met trots ondersteun deur die Atterbury Trust.

Alle besprekings vir Atterbury Klassiek 2023 kan gedoen word deur www.seatme.co.za

Of skakel die teater by 012 942 5951