Die sitplekke van ’n teater getooi met kuns – dít is die gesig wat vir jou wag by Atterbury Teater vir die volgende drie weke! Hierdie is verseker ’n eerste vir Atterbury Teater en waarskynlik ’n eerste in die wêreld.

Daar is nie ’n beter manier om asem in ’n teater te blaas as om kuns na binne te bring nie. Kleur, tekstuur en emosies. Alles wat jy van ’n teater verhoog af voel, nou ’n armlengte weg en in ander formaat.

Anna Davel het hierdie wonderlike idee voorgestel en so is die wiel aan die rol gesit. OPTOG! en Atterbury Teater het weggespring en die hele Suid-Afrika genooi om in te skryf vir hierdie eerste OPTOG! Nasionale Kunskompetisie.

Ons wildste drome is oortref en daar is kuns van regoor die land ingestuur. Upington, Middelburg, Parys, Kaapstad en vele meer!

Die Atterbury Teater se 400 sitplekke is omskep in ’n kunsgalery wat nou besigtig kan word deur die publiek. Die kuns is ook te koop en sodoende kan die kunstenaars en die teater ondersteun word.

Ons wonderlike beoordelaars, Lize Beekman, Anna Davel, Jak de Priester en Lily Brannon het nou die moeilike taak om die kuns te beoordeel om ten einde wenners aan te kondig per kategorie.

Soos ons die hele Suid-Afrika uitgenooi het om in te skryf, nooi ons julle nou om die kuns te besigtig. Besoek Atterbury Teater en kom ervaar ’n teater vol talent en emosie.

Aan al ons ondersteuners wat ver woon, besoek gerus ons aanlyn galery en daar kan jy ook stem vir jou gunsteling kunstenaar.

Ons kan nie vertonings hou nie, maar ons kan die kunste op ‘n ander manier ondersteun en emosie en warmte na alle teatergangers bring.

Hierdie inisiatief is met trots ondersteun deur King Price versekering