Mis jy Aardklop? Dan het ons baie goeie nuus… die Aardklop 2021 Opwipfees kom vandeesweek Pretoria toe! Ons kry al die details by Aardklop se hoof uitvoerende beampte, Alexa Strachan.

Hoe het die idee vir die Opwipfees ontstaan, en van waar die oulike naam?
Die pandemie het veroorsaak dat daar geen nasionale kunstefeeste kon wees nie, en die regering het ons industrie geklassifiseer as “sosiale byeenkomste”, en vergeet dat ons ook ’n bedryf is waaruit akteurs, sangers, tegnici en meer ’n bestaan maak. Vir elke een mens wat op ’n verhoog staan is daar sewe ander wat ligte, klank, en alle tegniese dienste verskaf.  Mens besef die regering moes krisisbestuur doen, maar omdat ons nie as ’n bedryf erken is nie, is die kunste op sy knieë gedwing. Ons is besig om met die owerhede hieroor te praat, en hoop om die erkenning te kry, soos wat restaurante en winkelsentrums inkomste genereer en werk verskaf. Ja, ’n fees is ’n fees, en ons werk gaan oor samekomste en vrolikheid, maar ons moet die erkenning kry as die volwaardige bedryf wat ons is. In die lig daarvan, het ons by Aardklop besef dat ons rol ook is om ’n platform te skep vir ’n wye verskeidenheid van mense in die kunste om hulle brood te verdien. Mens kon glad nie meer beplan aan Aardklop soos vantevore nie; die skool- en universiteitsvakansies het aanhou skuif, en ons was altyd in Potchefstroom afhanklik van die fasiliteite van ons wonderlike borg die NWU, en al sy ouditoriums, teaters en sale wat ons vir opvoerings en uitvoerings kon gebruik. Die inperkingreels wat getalle beperk het, was die ander komplikasie.

Die meerderheid van ons feesgangers het nog altyd van Gauteng af gekom, en veral uit Pretoria, en so het ons besin en besef dat as ons die die perd na die water toe kan bring nie, ons die water na die perd toe sal moet vat.

Behalwe dat ons die platform skep, is ons doel natuurlik ook altyd om vir ons feesgangers ’n lekker program aan te bied wat kulturele samesyn skep, so toe kom ons op die idee van die Opwipfees – die Engelse praat van ‘n “pop-up”, en dis presies wat ons wou doen – dis onverwags, dit duik nou hier op en dan daar. Ons het toe besluit om so iets bymekaar te sit, en tussen Woensdag 29 September en Sondag 3 Oktober vind dit in Pretoria plaas by drie lokale – Atterbury Teater, die Voortrekkermonument, en die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Hoe help Atterbury Trust om hierdie fees ’n werklikheid te maak?
Aardklop stap al ’n baie lang pad saam met Atterbury Trust en die wonderlike Atterbury Teater, en soos altyd het hulle reggestaan om te help en die teater beskikbaar te stel. Toe ek vra, het hulle dadelik die datums vir ons bespreek, en dadelik bevestig dat hulle daardie onkostes vir ons sal dra. Die wonderlike ding van die Trust is dat hulle verstaan wat ons doen, hulle harte is op dieselfde plek as ons s’n – dit gaan oor geleenthede skep vir mense, en gee. Hulle dink ook vinnig op hulle voete, soos ons; waar ander mense probleme en onmoontlike uitdagings sien, maak hulle doodeenvoudig ’n plan en laat goed gebeur! En bo en behalwe dit skep hulle vir ons ’n ontsettend waardevolle netwerk; omdat hulle ’n gerespekteerde en geloofwaardige entiteit is, maak hulle vir ons deure oop by ander individue en instansies wat ons dan op die ou end ook bystaan.

Vertel ons meer oor die vermaak wat aangebied word. Is dit net verhoogproduksies, of is daar ander kunsvorme ook oor die vyf dae?
Daar is so baie! By Atterbury Teater spesifiek, word die stuk Opdrifsel, met die bekroonde akteurs Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels opgevoer, asook Frank Opperman se debuutproduksie, die eenmanvertoning Ek Wens Ek Wens.

By Affies bied ons ’n groot klassieke musiekproduksie aan, Karnaval van die Diere, met Nataniël as die verteller en twee bekroonde pianiste, Charl du Plessis en Megan Geoffrey-Prins. Die repertoire sluit ook Prokofiev se Pieter en die Wolf in. Die vertoning word twee keer aangebied, om 11:00 en 15:00 op Sondag 3 Oktober, by Affies. En terloops, dit is deel van ’n deurlopende program van een klassieke konsert per maand wat by Affies aangebied word, die details hiervan is op die Aardklop webwerf beskikbaar.

Daar is ook visuele kuns, en filmvertonings, en ’n program van interessante gesprekke, wat in en om die Voortrekkermonument aangebied word.

Vertel ons meer!
Die Voortrekkermonument is so ’n sterk baken in Pretoria, en die ligging op hierdie lieflike koppie omring deur die natuur maak dit ook ideaal. Daar is ’n klomp verskillende uitstalplekke wat ons vindingryk inspan vir visuele kuns. Daar is die uitstalling ’n Goeie Dag vir ’n Slag wat spesiaal vir Aardklop Opwip deur Johan Stegmann geskep is, en wat in die Senotaafsaal uitgestal word. Dan is daar ook ’n baie opwindende groepuitstalling, Liewe Land!, wat bestaan uit nuwe kunswerke deur ’n wye verskeidenheid kunstenaars wat ons genooi het om elk ’n eie nuwe werk te maak vanaf een van die ou kunswerk-afdrukke wat al jare lank by die monument hang. Opwip se visuele kunste spesifiek tree in direkte gesprek met die monument, die simboliek van die monument en die kunswerke by en binne die monument.

Ons gaan ook begeleide toere hê vir mense wat meer oor die kunswerke wil hoor.

Buite die monument in die tuin skep ons die Liedjietuin waar produksies, en multimedia aanbiedinge en gesprekke aangebied word. KykNET se aktualiteits-laataandprogramme kom neem ook hier deel.  me. Die temas is wyd, beide vermaaklik en lig, en dan ook rondom goed soos taal en politiek en die rol van monumente, asook die visuele kunste.

Ons het ook ’n saal by die monument omskep in ’n lokaal vir teaterproduksies, waar stukke soos Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran, Oskar en die Pienk Tannie met Sandra Prinsloo, en Marion Holm se Holmruggery aangebied word. Ons skep ook ’n buitelug-lokaal wat ons noem kykNET onder die Boom waar twee produksies aangebied word – die komedie Kamp, en ’n Klein Wonderwerk.

Dan bied ons bied ook drie films aan by die Pioniers-ouditorium by die Monument, almal verflimde weergawes van bekroonde opvoerings, insluitende Queenie-hulle, en Humerus, wat Pronk Podium Digitaal se wenproduksie vir 2021 was.

Waar kan ek die volledige program sien, en hoe koop ek kaartjies?
Die volledige program is op by www.aardklop.co.za onder die tab OPWIPFEES te kry. Kaartjies is almal beskikbaar by www.ticketpros.co.za, onder Aardklop Opwipfees, behalwe vir die vertonings by Atterbury Teater (Opdrifsel en Ek wens, ek wens), wat op www.atterburytheatre.co.za beskikbaar is.  Net ’n nota aan kaartjiehouers om asseblief vroeg genoeg te kom, want daar is Covid-protokolle waardeur mense moet gaan.