Atterbury Nasionale Klavierkompetisie word vanjaar vir die 12de keer gehou, en die opwinding loop hoog by Atterbury Teater, waar alles vandeesweek afspeel. Charl du Plessis en Danita Meiring vertel meer.

Wat maak hierdie kompetisie so spesiaal?
Dit is die eerste kompetisie waar ons inskrywingsgetalle dieselfde is as voor die Covid-pandemie en dis wonderlik om die groeiende getal kinders te sien wat wil deelneem.

Hoe het die kompetisie oor die 12 bestaansjare ontwikkel tot waar dit vandag is?
Die standaard van die kompetisie was van die begin af hoog, maar dit is regtig wonderlik om te sien hoe dit voortdurend toegeneem het oor die afgelope vyf jaar. Die blootstelling aan die sukses van vorige wenners en die voorbeeld wat hulle stel, dien as ’n groot bron van inspirasie vir die nuwe groep.

Hoeveel inskrywings is vanjaar ontvang, en watter ouderdomsgroep het die meeste deelnemers?
Ons kon 36 deelnemers kies uit vele inskrywings vanoor die land en die middelgroep van 15 jaar en jonger het die grootste hoeveelheid deelnemers – hulle is ’n baie sterk groep.

Waarvoor kyk die beoordelaars – en wie is hulle?
Vanjaar se beoordelaars is Prof Hubert van der Spuy, Prof Pieter Jacobs en Hugo Schreuder, almal kundiges in die veld. Hulle is op die uitkyk vir pianiste wat tegnies op ’n internasionale standaard is, die musiek stylgetrou kan uitvoer met ’n hoë mate van akkuraatheid; en natuurlik speel musikaliteit en persoonlikheid ’n groot rol. Alle kandidate moet die stukke wat hulle speel memoriseer (geen bladmusiek word toegelaat nie) so dit plaas geweldig druk op die jong pianiste!

Daar is prysgeld vir die wenners van elke kategorie, en die groot wenner kan duisende rande wen afhangend van hoeveel kategorie-pryse hulle wen, maar wat is die oorhoofse prys, en hoe word die oorhoofse wenner gekies?
Die oorhoofse wenner is die persoon wat die hoogste punte deur alles rondtes behaal en hy of sy staan die kans om meer as R32 000 te wen plus nog al die ander kontantpryse vir beste uitvoering van sekere musiek of style.

Charl, jy is as Steinway-ambassadeur ook die man wat die Steinway-klavier by Atterbury Teater besorg het. Vertel ons meer oor jou besluit om by die klavierkompetisie betrokke te raak?
Ek gee om vir die Atterbury Teater en die Steinway-klavier daar, maar ook vir die groter geheel van hoe mense musiek ondersteun in Pretoria tot by die toekoms van musiek. Ek wou graag ’n skakel wees tussen die akademiese sy van die kompetisie, die loopbaan-vooruitsigte vir die outjies wat inskryf, en die logistieke elemente in die teater en rondom die aanbieding van die kompetisie. Ek voel ek kan op al drie hierdie gebiede ’n noemenswaardige bydrae lewer.

Kan jy ’n anekdote deel van wat jy daar agter die skerms by die kompetisie ervaar?
Die senuwees is iets wat elke pianis gedaan maak, maar dis deel daarvan en ek geniet dit om hulle te probeer opgewonde maak en te laat onthou musiek is lekker en die skoenlappers in die maag is daar omdat dit ’n heerlike ervaring is. Een keer het ’n klein meisietjie vir my gevra om agter die verhoog haar teddiebeer vas te hou terwyl sy speel en hom mooi oppas, dan sal sy nie bekommerd wees nie en mooi kan speel. So oulik!

Kan die publiek kom kyk na die kompetisie; hoe werk dit?
Die kompetisie skop Woensdag 25 Oktober af; die uitdunrondtes 1 en 2 is Donderdag 26 en Vrydag 27 Oktober, en die semifinaal is Saterdagoggend.  Die publiek kan hierdie uitdunrondtes gratis bywoon – ons nooi mense om deur die dag by die teater te kom kuier en die jong spelers te ondersteun. Die eindrondte vind Sondag 29 Oktober om 13:30 plaas en daarvoor is kaartjies te koop, maar al die ander rondtes is gratis. Kaartjies kan aanlyn gekoop word, https://www.seatme.co.za/tc-events/atterbury-national-piano-competition-final-round/