Die Atterbury Teater ondergaan tydens die Desembervakansie ’n opkikkeringskuur. Ons het die storie agter die storie gekry by Jané von Linsenborgh, wat die korporatiewe funksies bestuur en ook en assistentteaterbestuurder is

Hoekom is daar juis nou besluit op hierdie verbeteringe?
Ons glo die Atterbury Teater is wêreldklas en daarom moet ons voortdurend vernuwe. Die teater is nou sewe en ’n half jaar oud… die mat en die stoele het baie verkeer gesien in hierdie tyd! Ons wil ook aan die voorpunt bly met elektrisiteits-effektiewe beligting en optimale benutting van ons ruimtes.

Hoe gaan die teater se nuwe baadjie lyk? Hoe omvattend is die verbeteringe?
Daar word baie gedoen! Die teater word gemoderniseer met ’n nuwe kleurpalet. Daar word ’n nuwe mat wat spesiaal vir die teater ontwerp is, gelê. Die 400 stoele word ook weer oorgetrek in drie nuwe kleure. Al die stoele word gediens  – daar kom ook klein verstellings aan die stoele om meer voetspasie te skep. Waar spasie beknop was bo in die eerste en laaste rye van die gallery, word meer ruimte geskep vir die gemak van teatergangers.

Die beligting word ook gemoderniseer om meer elektrisiteits-effektief te wees, en die klankkamer word verander met optimale geriewe vir klankingenieurs.

Die foyer word vergroot, sodat daar meer tafels ingepas kan word vir konferensies; dit sal ook beteken dat daar meer beweegruimte rondom die kroegarea is. Wat die interieur van die foyer betref, maak drie nuwe kunstenaars hulle buiging – kunswerke van Karen Zoid, Coenie de Villiers en Steve Hofmeyr word by die bestaande kunstenaars wat in die teater vereer word, gevoeg..

Wie is die kontrakteurs wat die werk gaan uitvoer – is dit dieselfde mense wat destyds by die binneversiering van die teater betrokke was?
Ja, dit is oorwegend dieselfde span bekwame mense: CVN Konstruksie – Cerneels van Niekerk en sy bekwame span boukontrakteurs, Dirk en Helen Henzen argitekte, Jaco Storm is die bourekenaar, dieselfde skrynwerker van destyds en DC Elektries is verantwoordelik vir al die elektriese werk.

Hoeveel mense oor het die afgelope sewe jaar sedert openingsaand deur die deure van die teater geloop? Kan julle ’n paar statistieke deel?
Ons het sedert daardie eerste aand 2 450 vertonings, produksies en funksies by die teater aangebied, en 731 630 mense is al deur die deure! Die kroegstatistiek vertel die storie nogal goed: daar is reeds 100 800 koeldranke, 46 200 glase wyn, 58 800 biere, 50 400 whiskys en 56 000 bottels water verkoop!

Wat sou jy sê was ’n paar van die hoogtepunte van die afgelope sewe jaar by die teater?
Beslis ons vyfde verjaarsdag gala-aand met Drie van die Bestes en die volle orkes. Dan ook die Russiese Ballet wat vir die eerste keer ooit in Pretoria was, hier by ons!  En die uitvoering van Die Karoo Suite met Coenie de Villiers en Deon Meyer, wat ook hier opgeneem is en nou ingesluit is as deel van die koffietafelboek wat uitgegee is. Hierdie opname is ook op RSG uitgesaai. Ons het ook al baie opwindende funksies aangebied saam met Sarie, daar was die OPTOG! bekendstelling en natuurlik ook talle fenomenale formele korporatiewe funksies met vertonings en aansitetes.

En wat is die heel eerste vertoning wat na die verbeterings op die verhoog sal wees – weet julle al?
Ja, ons bied Mini-Versnit in Pretoria aan – die eksklusiewe jaarlikse konsert vir uitgelese gaste wat in die Kaapse wynlande aangebied word, kom Pretoria toe!

Dit is wel nie net kosmetiese veranderinge nie – ’n nuwe besprekingstelsel word ook in gebruik geneem – vertel ons meer hiervan? Hoe gaan dit verskil van die huidige stelsel, en hoe gaan ons in die toekoms te werk om kaartjies te bepreek?
Ons is baie opgewonde oor ons nuwe toekoms saam met iTickets. Hierdie stelsel is ’n opwindende aanlyn-besprekingstelsel wat maklik en modern is. Ons kaartjiekantoor gaan steeds voortbestaan as die “Atterbury Theatre Box Office” en mense sal steeds al ons teaterkaartjies hier kan koop, deur self hierheen te kom of telefonies of per e-pos te bespreek.