Atterbury Teater en OPTOG! het hande gevat om weer mense terug te nooi teater toe, op ’n COVID-19-veilige manier. OPTOG! se bemarkingsbestuurder, Delmari van Zyl, vertel meer oor hierdie lekker inisiatief, en deel die goeie nuus dat dit weer gebeur.

 Vertel ons meer van In-Stap Teater – waar het die oulike idee vandaan gekom?
Die fokus met In-Stap Teater was hoofsaaklik om ’n manier te vind om die teater onder streng reëls en regulasies te kon oopmaak. Mense smag na die samehorigheid wat ’n teater-ervaring bring en aangesien ons nie onder Vlak 2 die teater op ’n ander manier kon oopmaak nie, moes ons kreatief raak.

Op 12 en 13 September is hierdie “ope dag” vir die eerste keer by Atterbury Teater gehou. Hoe het dinge verloop, en is julle tevrede met hoe dit uitgespeel het?
Dit was lieflik. Die mense wat gekom het, het dit so baie geniet. Die idee dat die Atterbury Teater se deure weer oop is, dat daar weer ’n feestelike atmosfeer was en om weer in ’n teaterstoel te sit, het mense werklik liries gehad! Ons gereelde teatergangers het spesiaal gekom en hulle was so opgewonde om te weet dat die teater dalk binnekort gaan oopmaak. Daar was ook kunstenaars wat kom inloer het.

Wat was die terugvoering van die besoekers? En was hulle meestal gereelde Atterbury Teatergangers of was daar heelwat mense wat vir die eerste keer hier besoek afgelê het?
Mense was mal daaroor. Daar was ’n goeie mengsel van die gereeldes, sowel as nuwe besoekers.

Hoe het julle rondom die inperkingregulasies gewerk?
Die reëls is duidelik en ons het net seker gemaak dat ons 100% gehou het by wat van ons verwag word. Alle nodige regulasies was in plek om die veiligheid van ons besoekers te verseker.

Hoe het die vertoning van die Optog! e-konserte presies gewerk?
Die konserte wat in die teater vertoon is, is van OPTOG! se e-konserte wat op die groot skerm gespeel is. OPTOG! het ’n reeks e-konserte in ’n e-bib op hul webblad en die biblioteek kry steeds gereeld nuwe konserte by. Joseph Clark & Mel Botes se konserte word in die volgende twee weke bygevoeg. Mense kan enige tyd ’n kaartjie koop en vir 72 uur na die aankoop van die kaartjie die konsert kyk. Alles is beskikbaar op www.optog.co.za

Gaan dit ‘n gereelde instelling word?  Hoekom of hoekom nie?
Dit is moeilik om te sê. Ons is van mening dat niks 100% ’n regte teater-ervaring vervang nie en dat ons altyd die volwaardige teater-ervaring sal prioritiseer. In hierdie tyd is niks werklik voorspelbaar nie, so “never say never”. Ons prioriteit is die kunste en om seker te maak mense kan dit saam met ons geniet. Ons sal altyd een of ander kreatiewe manier probeer vind om dit ’n werklikheid te maak.

Watter insigte het die eerste naweek gebring, waarvolgens julle dalk aspekte van In-Stap Teater aanpas vir volgende keer?
Ons bied dit hierdie naweek weer aan (19 en 20 September) van 10:00 tot 15:00. Mense het dit baie geniet. Ons bied dié naweek die ervaring teen R50 aan en daar gaan ook gin-proe ervarings wees.