6 November 2019, 20:00 – 22:00

R150 – R170

Kunstenaar/skrywer Lidi de Waal en komponis/musikant Lizanne Barnard se paaie het op facebook gekruis sowat twee jaar gelede en daaruit het ’n baie spesiale samewerking ontstaan en uitgevloei in die verhoogproduksie Bêreboksie vol Vlerke.

De Waal se plat-op-die-aarde storiestukkies oor Ouma en Oom Staal se liefde en se leed soos gesien deur die oë van die kind en die vrou, word meesterlik vertolk deur veteraan-aktrise, Elize Cawood. Ouma is nie op haar bek geval nie en ’n klein dorpie se inwoners kry ’n piece of her mind of hulle daarvoor vra of nie. Maar ook ’n deel van haar hart en haar wonderlike wyshede.

De Waal se verse soos getoonset deur Lizanne Barnard in die 5-ster album “Gevlerktes” is vroeër in 2019 benoem vir ’n Ghoema-toekenning in die afdeling Beste kontemporêre album deur ’n vroulike kunstenaar. Hierdie liedjies in genres wat wissel vanaf Boeremusiek, en Reggae tot Latin en Rock word uitgevoer deur ’n 4-stuks band met o.a Leon Ecroignard, Pyjama Shark en Thys van Deventer.

Bêreboksie vol Vlerke neem die gehoor op ’n ryk storiereis wat sorg vir ’n paar trane, maar ook ’n lag en ’n skater.

Hierdie produksie is na sy debuut-opvoering in die Atterburyteater in Mei 2018 onmiddelik teruggenooi op grond van sy popularitet. Daar word na hierdie produksie verwys as een van die bestes die afgelope twee jaar en het gehore gereeld op hulle voete.

’n Goeie idee sal wees om die borstrokke en dasse so êffentjies los te wikkel, want Ouma draai nie doekies om nie en sê ’n ding net soos hy is.

Regie is behartig deur Gerrit Schoonhoven en Lidi de Waal se visuele kuns word deel van die ervaring as projeksies op skerm deur Kitchen Floor Tango Productions.

Kunstenaars: Lidi de Waal, Lizanne Barnard, Elize Cawood, Leon Ecroignard, Pyjama Shark en Thys van Deventer

 

6 November 2019, 20:00 – 22:00 – Atterburyteater