Versnit 2024 se bewonderenswaardige konsert van uitnemendheid en ’n sonderlinge samesyn van vriende

Wanneer die Vriende van Versnit jaarliks in die pragtige, lowerryke tuin van Rust en Vrede se landgoed in Stellenbosch bymekaarkom, is verwagtinge vir ’n onvergeetlike ervaring reeds hemelhoog, nog voor ’n musieknoot gehoor is of ’n glasie geklink het. Dat Versnit reeds vir 13 jaar voor 2024 se geleentheid elke keer opnuut verras met nuwe hoogtes, is derhalwe nie sommer só nie. Dit verg ’n daadwerklike spanpoging deur Atterbury Trust, die skeppers van Versnit Louis van der Watt en Jean Engelbrecht, hoofborg Lexus, die orkes en produksiespan onder leiding van Matthys Maree en Alexa Strachan, die kunstenaars wat optree, Rust en Vrede se professionele personeel en al die glimlaggende gaste wat omgee.

Om hierdie jaar se 14de Versnit dus uit te sonder as werklik wêreldklas, die beste ooit, ’n ervaring wat in enige plek op aarde sou uitstaan as merkwaardig, word nie sonder oorleg gedoen nie. Vra maar vir enigiemand wat daar was, Versnit 2024 was ’n toonbeeld van ’n perfekte mengsel van kundigheid, talent, menswees en sommer net doodgewoon lekkerte uit die boonste rakke. Dat Versnit juis ’n geleentheid bied vir mense wat omgee om finansieel by te dra tot die opbouende werk van Atterbury Trust se vele vertakkinge, beteken dat al die genot eintlik vir die opbouing van dié wat minder bevoorreg is, aangebied word.

Louis van der Watt het dit só verwoord: Die Vriende van Versnit ís die ridders op wit perde. Dit is húlle wat ’n positiewe verskil in ander se lewens kan en moet maak, want niemand anders gaan dit doen nie. Dit is bemoedigend dat Versnit se gaste nooit teleurstel nie en elke jaar hul harte en beursies oopmaak sodat Atterbury Trust kan voortgaan om onbaatsugtige welwillendheidswerk van gehalte aan ’n menigte mense te kan lewer.

Soos deur Versnit tradisie bepaal, het die gaste teen net so voor die Kaapse sonsondergang byeengekom om te gesels en te hoor wat almal die vakansie aangevang het. Wyn is uit die Rust en Vrede kelders bedien en almal het hulself reggemaak om getrakteer te word met musiek, sang en snarespel. ’n Sterbelaaide verhoog is volgemaak met die talente van Elvis Blue, Karen Zoid, Claire Johnston en ’n opwindende, hier-en-daar nostalgiese vertoning deur Ruhan du Toit.

Karen Zoid se inspirerende rock-interpretasie van Valiant Swart se skitterende Sonvanger is asemrowend aangebied, veral toe sy haar unieke vertolking van Pie Jesu aan die einde met totale oorgawe uitbasuin het. Elvis Blue straal van vermoë om sy musiek te laat lééf en sy professionaliteit op en van die verhoog af is altyd ’n toonbeeld van iemand wat maar kan, soos hulle sê.

Claire Johnston, ’n vorige ontvanger van die Versnit-toekenning vir haar uitmuntende bydra tot Suid-Afrika se kultuurerfenis het weer die goue treffers uit haar Mango Groove-dae vertolk vir ’n moderne tyd. Almal het saamgesing en saam gesmelt. Ruhan du Toit se mengeling van tradisionele FAK-liedjies het die dae van ouds opgeroep vir ’n meesleurende reis deur ons kleintyd.

Hierdie jaar se Versnit-toekenning is aan ’n waarderende Max du Preez oorhandig, wat dit beklemtoon het dat, alhoewel hy al menige toekennings ontvang het vanaf instellings soos Harvard Universiteit en vele meer, hierdie die eerste een is wat spesifiek op sy Afrikaanse joernalistiek van toepassing is. Hy het ’n paar unieke staaltjies gedeel en ons herinner hoe hy en sy medewerkers die huidige bestel net so op hul tone probeer hou soos die vorige groep landsleiers.

Ná pouse het dit die beurt geword van een van Suid-Afrika se mees suksesvolle musiekgroepe toe die magiese Ladysmith Black Mambazo, onder leiding van hul stigterslid Joseph Shabalala hul harmonieë oor die ganse Helderberg heen laat sweef het. Elvis Blue, in die rol van Graceland se Paul Simon was fantasties. Saam het hy en LBM Homeless, You can call me Al en ander bekende hoendervleis-lekker liedjies opgetower. Diamonds on the Soles of her shoes is ook gesing en Karen Zoid en Claire Johnston het verder deelgeneem aan hierdie viering van Suid-Afrika se uitnemendheid. Die groep het al oor die jare reeds vyf Grammy Toekennings in Amerika verwerf en mens kon hoor hoekom, tydens ’n Versnit-aand van voldoening.

Twee wonderlike, spesiale bydraes deur Jannie Durand en Jan Morgan het verseker dat Ladysmith Black Mambazo kon optree.

Met ’n bottel Rust en Vrede Estate-versnit onder die arm, deur Lexus geskenk en ’n biltonghappie van Atterbury Trust se Terugploeg-inisiatief in die hand het gaste in goeie gees huis toe vertrek, vol van die wete dat ’n aand soos dié jaar se Versnit in hul geheue en gees sal saamleef. Tot weersiens.

As jy ook wil bydra, klik op die Atterbury Trust Donasiewinkel-skakel hier onder, want ons weet jy gee ook om.

https://bit.ly/Donasiewinkel