Skip to content

Triomf sit fokus op vrouegesondheid

By Triomf Kliniek is vrouegesondheid nie net op die agenda nie – ons prioritiseer dit  doelbewus. Deur toegang tot mediese sorg, bewusmaking en betekenisvolle vennootskappe help die kliniek om vroue toe te rus met iets wat lewens kan verander: vroeë opsporing en ondersteuning.

Tydens die kliniek se jaarlikse borskankerbewusmakingsveldtog, in samewerking met Screen Her Save Her, het vroue toegang gekry tot belangrike ondersoeke, ondersteuning en inligting rondom borsgesondheid.

Die impak van die veldtog was tasbaar:
54 afsprake.
40 mammogramme.
14 borssonars.

En agter elke ondersoek was daar ’n vrou wat die moed gehad het om haar gesondheid eerste te stel – in sommige gevalle vir die heel eerste keer.

Vir Triomf Kliniek gaan hierdie werk oor veel meer as statistieke. Dit gaan oor die skep van ’n ruimte waar vroue veilig voel om vrae te vra, hulp kan ontvang en hul gesondheid ernstig kan opneem.

Dr Karien de Graaf van Club Surgical Medical Centre is deel van hierdie groter ondersteuningsnetwerk, deur daar te wees vir Triomf-pasiënte wat radiologiedienste benodig. Sy het ook onlangs die vroue van Atterbury toegespreek oor vrouegesondheid en hoe belangrik vroeë opsporing vir behandeling is.

Vir dr De Graaf begin goeie sorg by goeie kommunikasie – veral wanneer pasiënte angstig of onseker voel. Sy verstaan dat ’n mammogram vir sommige vroue ’n vreesaanjaende idee is.

“Die meeste pasiënte wat senuweeagtig is, voel so omdat hulle nie weet wat gaan gebeur nie,” verduidelik sy. “As ek mooi verduidelik wat aangaan en wat moet gebeur, raak die meeste pasiënte rustig. Goeie kommunikasie kan die meeste probleme oplos.”

Dit is juis hierdie mensgerigte benadering wat so goed aansluit by Triomf Kliniek se hart vir diensbaarheid en sorg met waardigheid.

Dr De Graaf glo ook dat vroue vandag toegang het tot beter hulpmiddels as ooit tevore in die stryd teen borskanker.

“Die tegnologie om borskanker vroeër te diagnoseer en dit te behandel, maak ’n daadwerklike verskil in die oorlewingsyfers,” sê sy.

Sy verduidelik dat moderne mammografie-tegnologie die manier waarop borskanker opgespoor word, drasties verbeter. Behandeling skuif ook toenemend na biologiese metodes, met minder klem op chirurgie as die eerste opsie.

Maar sy beklemtoon dat bewusmaking steeds een van die kragtigste instrumente bly.

“Laastens word ons al hoe meer bewus van risikofaktore wat ’n rol speel by borskanker, soos gebrek aan fisiese aktiwiteit, rook en alkoholgebruik. As gevolg van bewusmaking kan ons hierdie risikofaktore aanspreek en hopelik ’n verskil sien in die aantal borskankergevalle.”

Dit is presies waarom Triomf Kliniek aanhou belê in vrouegesondheid – nie net deur mediese dienste nie, maar deur opvoeding, toegang en gemeenskapsvennootskappe wat vroue ondersteun lank voordat daar ’n krisis ontstaan.

Want wanneer vroue toegang het tot kennis, sorg en ondersteuning, verander dit nie net individuele lewens nie; dit versterk hele gemeenskappe.

Triomf Kliniek verwelkom enige mediese personeel wat wil betrokke raak by ons span van vrywilligerdokters wat behoeftige pasiënte voorsien van uitnemende sorg met waardigheid. Vir meer inligting, stuur gerus ‘n e-pos na info@triomf.org.za