Wat in 2023 met net vyf deelnemende groepe begin het, het binne vier jaar gegroei tot ’n nasionale studente-acappella-kompetisie waarvan die gala-aand vanjaar binne sewe minute uitverkoop het.
Die Atterbury Trust Acappella-kompetisie het sedert sy ontstaan sterk gegroei. In 2024 is 15 inskrywings ontvang, waarvan nege groepe tot die finaal deurgedring het. In 2025 het dié getal tot 32 inskrywings gestyg, met 10 finaliste wat uiteindelik meegeding het.
Vanjaar is 26 inskrywings van universiteitsgroepe ontvang, waaruit die Top 10 gekies is om aan die finale kompetisie by die Fairtree Atterbury Teater deel te neem.
Vir die Atterbury Trust vertel dié groei egter ’n groter storie – een van jong talent wat ’n verhoog kry, studentekultuur wat leef en die besondere gemeenskap wat rondom musiek gevorm word.
Eiffelkoor van die Universiteit Stellenbosch het vanjaar met die hoogste louere weggestap en is as die algehele wenner van die 2026 Atterbury Trust Acappella-kompetisie aangewys.
Die groep het ook die mansafdeling gewen en die prys vir Beste Afrikaanse Verwerking ingepalm.
Vergeet-my-nie van die Noordwes-Universiteit is as wenner van die vroueafdeling aangewys, terwyl Sonop van die Universiteit van Pretoria die gehoor se harte gewen en met die Gehoorgunsteling-prys weggestap het.
Maar agter elke paar minute op die verhoog lê ’n storie wat die gehoor nie noodwendig sien nie.
Vir Eiffelkoor het die voorbereiding reeds maande voor die kompetisie begin. Liedjies is gekies en verwerk, medleys is saamgestel en oefeninge het deur die jaar al hoe meer intensief geraak. Nader aan kompetisietyd het sommige dae reeds om 06:00 met choreografie begin, gevolg deur verdere oefeninge van 17:00 tot 22:00. Volgens die groep het hulle na raming tussen 150 en 160 uur vanjaar net saam geoefen.
Dit is dié ure wat ’n paar minute onder die verhoogligte moontlik maak.
Toe Eiffelkoor uiteindelik as algehele wenner aangekondig is, was dit daarom veel meer as net ’n trofee.
Een van die groeplede beskryf die oomblik as een van dankbaarheid en emosie – die besef dat die vroeë oggende, ure se oefening en geleenthede waarvoor hulle deur die jaar nee moes sê, uiteindelik die moeite werd gevoel het.
Maar juis op ’n nasionale verhoog word dit ook duidelik dat ’n kompetisie oor meer as net ’n wenner gaan.
“Ek dink wat hierdie nasionale kompetisie so besonders maak vir ons, is dat dit ’n mens nederig hou,” vertel Eiffelkoor. Om teen van die beste groepe in die land mee te ding, het volgens hulle ’n besondere wedersydse respek tussen die deelnemers geskep. Elke groep bring immers iets anders en besonders na die verhoog.
Wanneer goeie musiek begin kommunikeer
Vir beoordelaar Christo Burger was een van die hoogtepunte van vanjaar se kompetisie juis die groepe wat verder as ’n tegnies goeie vertoning gegaan het.
“Wat my baie opgewonde gemaak het, is dat van die groepe nie net kom sing het nie – hulle het kom kommunikeer.”
Volgens Burger lê die verskil tussen ’n goeie en ’n uitstekende acappella-produksie in die detail én die eerlikheid daarvan.
“Jy kan al die regte note sing, goeie choreografie hê en ’n slim konsep aanbied, maar as ek niks voel nie, bly dit net ’n goeie produksie. ’n Uitstekende produksie gebeur wanneer alles saam begin asemhaal – die klank, die balans, die ritme, die beweging, die energie en die storie.”
Dit is ook waarom beoordeling op hierdie vlak soveel meer as net die groot oomblikke behels. Wanneer die sterkste groepe naby aan mekaar presteer, sê Burger, begin beoordelaars na die kleiner besonderhede luister: konsekwentheid, dinamiek, hoe goed die lede na mekaar luister en of die konsep werklik deel van die musiek vorm.
“Op hierdie vlak is dit dikwels nie een groot fout of een groot oomblik wat die verskil maak nie – dit is twintig klein goedjies wat saam die geheel vorm.”
Burger glo dit is juis waarom platforms soos die Atterbury Trust Acappella-kompetisie belangrik is.
“Jong kunstenaars het ’n verhoog nodig. Jy kan ongelooflik baie in ’n repetisielokaal leer, maar daar is sekere dinge wat jy net ontdek wanneer die ligte aangaan, die gehoor stil raak en jy moet lewer.”
Volgens hom gee die kompetisie jongmense die geleentheid om kreatief te wees, risiko’s te neem, saam te werk en hul eie stem te begin ontdek.
“Musiek gaan nie net oor prestasie nie – dit gaan oor verbinding. Jy leer luister, jy leer saamwerk, jy leer vertrou, en jy leer dat iets groter kan ontstaan wanneer ’n groep mense saam asemhaal en saam musiek maak.”
Dit is dalk juis waar die hart van die Atterbury Trust Acappella-kompetisie lê.
Nie net in die trofee aan die einde van die aand nie, maar in die ure se voorbereiding, die vriendskappe wat gevorm word, die respek tussen groepe en die oomblik wanneer jong talent die geleentheid kry om op ’n nasionale verhoog gehoor te word.
Die 2026-wenners
- Algehele wenner: Eiffelkoor – Universiteit Stellenbosch
- Mansafdeling: Eiffelkoor – Universiteit Stellenbosch
- Vroueafdeling: Vergeet-my-nie – Noordwes-Universiteit
- Beste Afrikaanse Verwerking: Eiffelkoor – Universiteit Stellenbosch
- Gehoorgunsteling: Sonop – Universiteit van Pretoria


