Tiaan Massyn is ’n oogkundige, entrepreneur, musikant en voormalige Mnr Suid-Afrika.Maar agter al die titels is daar ’n eenvoudige dryfkrag: om die geleenthede en kundigheid wat hy ontvang het, ook tot voordeel van ander te gebruik. Die afgelope twee jaar stel hy sy professionele kennis vir Triomf Kliniek se pasiënte beskikbaar. Ons het met hom gesels oor sy loopbaan, wat hom dryf en waarom goeie sig soveel meer as net beter sien beteken.
Jy het so baie verskillende belangstellings – wat is dit wat jou dryf?
Ek dink dit kom uit ’n begeerte om die meeste van die geleenthede wat oor my pad kom, te maak. Ek wil nie eendag terugkyk en wonder wat sou gebeur het as ek nie iets probeer het nie.
Ek glo daarin om my beste te gee in alles wat ek aanpak. Natuurlik beteken dit soms dat ek dalk ’n bietjie te veel op my bord sit en myself moet herinner om asem te haal, maar ek sê altyd “rather an oops than a what if”.
As entrepreneur geniet ek die uitdaging om ‘n sukses te behaal met iets wat aanvanklik onmoontlik lyk. Ek is lief vir besigheid, strategie en die finansiële kant daarvan.
Maar ek is eerstens ’n mense-mens. Familie, vriende en verhoudings is vir my ongelooflik belangrik, en ek probeer doelbewus kwaliteit tyd maak vir die mense wat vir my saak maak. Ek geniet dit om te reis, nuwe plekke te ontdek en nuwe ervarings te beleef. Ek is ook lief vir diere, hou van motors of enigiets wat vinnig kan ry en waardeer die mooi dinge in die lewe.
Ek doen ook gereeld motiveringspraatjies by skole en vir jongmense omdat ek glo dat ons ’n groot verantwoordelikheid het om die volgende generasie toe te rus. Ek geniet dit om jong mense te help verstaan wat werklik saak maak in die lewe, hoe om leiers in hul onderskeie velde te wees en hoe om ander mense op die pad na sukses saam met hulle op te tel.
Was optometrie altyd in jou visier?
Ek het nog altyd geweet ek wil in die mediese rigting gaan. Ek het ’n passie vir mense en wou graag ’n beroep beoefen waar ek ’n tasbare verskil in iemand se lewe kon maak. As jy op skool na my rekeningkunde-punt sou kyk sal jy ook kon insien dat medies die rigting vir my was, ek is definitief nie ouditeur-materiaal nie!
Wat ek vandag steeds die meeste van optometrie geniet is die direkte impak wat jy op iemand se lewe kan hê. Elke persoon wat by jou spreekkamer instap, bring ’n unieke storie saam. Mense vertel dikwels dinge vir hul oogkundige wat hulle nie eens vir hul naaste vriende vertel nie. Ek geniet die menslike aspek van die beroep, maar ook die uitdaging om komplekse probleme op te los en mense te help om weer die wêreld helder te sien.
Jy het al gesê dat om te kan sien een van die grootste geskenke is. Het jou werk jou anders laat kyk na iets wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar?
Beslis. Gedurende my finale jaar aan universiteit het ek die voorreg gehad om op die Phelophepa-gesondheidstrein te werk. Dit was daar waar ek eerstehands beleef het hoe groot die behoefte aan basiese oogsorg in Suid-Afrika is. Om mense te ontmoet wat enorme opofferings maak net om toegang tot gesondheidsdienste te kry, verander ’n mens se perspektief.
Daardie ervaring het my geleer dat goeie sig iets is wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar, terwyl dit vir ander die verskil kan beteken tussen onafhanklikheid en afhanklikheid, tussen geleenthede en beperkinge. Dit herinner my steeds daagliks hoe bevoorreg baie van ons werklik is.
Hoe het jy by Triomf Kliniek betrokke geraak?
Atterbury Trust se finansiële bestuurder Jana Wilbers, wat ook verlangs familie van my is, het my gevra of ek graag deel van die projek wil wees. Ek het onmiddellik ingestem.
Ek glo Suid-Afrikaners gaan deur baie uitdagings en nie almal kry dieselfde geleenthede in die lewe nie. Indien God jou in ’n posisie geplaas het waar jy ander kan help, glo ek jy het ook ’n verantwoordelikheid om dit te doen. Ons is geseën om op verskillende maniere ’n verskil te kan maak, en ek glo daardie seëninge moet weer met ander gedeel word.
Is daar ’n spesifieke pasiënt of oomblik by Triomf wat jou bygebly het?
Daar is baie sulke oomblikke, en eerlikwaar is elke pasiënt wat ons kan help vir my spesiaal.
Een ervaring wat altyd by my sal bly, was ’n jong meisietjie wat deur Triomf na ons verwys is. Nadat sy haar bril gekry het, kon sy vir die eerste keer behoorlik sien. Die uitdrukking op haar gesig toe sy besef hoe haar maats die wêreld elke dag sien, was absoluut onbeskryflik.
Wat beteken dit prakties vir iemand se lewe wanneer ’n sigprobleem geïdentifiseer en reggestel word?
Die impak is dikwels veel groter as wat mense besef. Vir ’n kind kan dit die verskil beteken tussen sukkel en presteer op skool. Vir ’n volwassene kan dit beteken dat hulle weer kan werk, bestuur of onafhanklik funksioneer. Goeie sig beïnvloed byna elke aspek van ’n mens se lewe, van selfvertroue en veiligheid tot toekomstige geleenthede. Soms lyk dit soos iets klein, maar die uitwerking daarvan strek baie verder as net beter sien.
Jy gee jou kennis en tyd in diens aan ander wat dit nodig het. Wat is jou raad aan ander mediese praktisyne/professionele mense wat ook graag wil teruggee, maar dalk nie weet waar om te begin nie?
Moenie wag vir die perfekte geleentheid nie, begin eenvoudig waar jy is. Baie mense dink hulle moet groot projekte aanpak om ’n verskil te maak, maar soms kan ’n paar uur van jou tyd of die deel van jou kundigheid iemand se lewe verander. Ons onderskat dikwels die waarde van die kennis en ervaring wat ons elke dag gebruik.
As elke professionele mens net ’n klein deel van hul tyd beskikbaar stel om ander te help, sal die impak enorm wees. Jy hoef nie die hele wêreld te verander nie; verander net die wêreld van die persoon wat voor jou staan.
Wil jy ook jou mediese kundigheid gebruik om ’n verskil te maak? Triomf Kliniek verwelkom mediese praktisyns wat van hul tyd en kundigheid beskikbaar wil stel. Kontak ons by info@triomf.org.za om betrokke te raak.











