Arina Scheepers is die hoof van opvoeding by Stellumthombo, ‘n gemeenskapsorganisasie in Stellenbosch wat hoop kweek deur onderwys. Sy vertel ons hoe Atterbury Trust se betrokkenheid ‘n verskil maak in hul geletterdheidsprogram wat gemik is op vroeë-kinderontwikkeling.
Hoe het Atterbury Trust betrokke geraak by julle werk? Ons verneem dat die program nou kan uitbrei danksy die nuwe insette. Wat word beoog hiermee?
Ons pad saam met Atterbury Trust kom al ‘n paar jaar aan en het begin met die Trust se ondersteuning van een van ons vennoot VKO’s (vroeë-kinderontwikkelingsentrums). Ons het aan die begin van 2026 begin gesels oor hoe ons kan hande vat met ons geletterdheidsprogram. Atterbury Trust gee nou vir hul beursstudente die geleentheid om te help met die geletterdheidsprogram deur sessies aan te bied of selfs te help met assessering, so ons het welkome ekstra hande bygekry. Die Trust het ook ‘n reuse-skenking van Afrikaanse boeke gemaak wat so baie help – boeke is ongelukkig baie duur en goeie Afrikaanse boeke is skaars. Danksy Atterbury Trust Wes-Kaap kan ons genoeg boeke koop dat elke kind ‘n boek in die hand kan hê tydens sessies.
Hoe lank is jy al by Stellumthombo betrokke en hoe sal jy die werk wat julle doen, opsom?
Ek is nou 12 jaar in diens by Stellumthombo. Ons het begin as ‘n organisasie wat met haweloses werk en in 2016 is Stellumthombo NPC gestig met groter fokus op onderrig. Ons motto is “cultivating hope through education” en ons probeer werklik hoop kweek in gemeenskappe deur onderrig. Ons fokus nie net op die kinders se opvoedingsreis nie, maar ook op die grootmense wat deel is van hulle reis –die onderwysers, skoolhoofde en ouers. Demi Erasmus is die afgelope agt maande by Stellumthombo as ons geletterheids-koördineerder. Sy het reeds wonderlike vooruitgang gemaak en ons sien uit na wat sy nog gaan doen. Sy het ’n passie vir die kinders en die vrywilligers en is uiters goed met die bou van verhoudings.
Vertel ons meer van die geletterdheidsprogram vir gr. R- en 1- leerders – wanneer is dit vir die eerste keer geïmplementeer, en hoeveel sukses het julle reeds hiermee behaal?
Ons geletterdheidsprogram het amptelik in 2020 afgeskop, maar ons het reeds in 2015 in groepe leesondersteuning begin aanbied. Ons gr. R is ’n gereedmaak-program wat fokus om die kleintjies die nodige vaardighede te gee dat hulle teen gr. 1 reg is om amptelik te leer lees en skryf. Die program is deur Stellumthombo self ontwikkel en fokus op vyf areas: stories, ouditiewe persepsie, visuele persepsie, fyn motories en groot motories. Die program is heel anders as skool – dis hoofsaaklik gebaseer op speel.
Ons gr. 1-program is eers onlangs verander na ons eie program, wat ons gebaseer het op die Funda Wande geletterdheidsprogram. Ons volg dieselfde aanleer-van-klanke volgorde as die skole, net een week later en ons fokus spesifiek op vaslegging. Elke sessie volg dieselfde vyf kern-fokusareas as ons gr. 1 program. Die doel is uiteindelik om leerders nie net te help om te lees nie, maar ook om ’n liefde vir lees en leer te ontwikkel.
In beide programme gebruik ons Suid-Afrikaanse stories soos die Bazoo en Krok en Dil reekse, en Nalibali-stories.
Ons is tans by twee laerskole en een na-skoolprogram betrokke en kry baie positiewe terugvoering van onderwysers en skoolhoofde. Ons program gee kinders wat die gevaar loop om agter te raak in oorvol klasse, die kans om in kleiner groepies meer gespesialiseerde aandag te geniet en dit waarmee hulle sukkel te verbeter en hul selfvertroue in hul eie vermoëns te versterk.
Ons doen ook ons eie assesserings en vergelyk ons bevindings met die kinders se skoolpunte. Ons assesseer gr. 1’s drie keer per jaar en gr.R-kinders twee keer.
Hoekom is dié program so belangrik? Wat is julle grootste uitdagings?
As ‘n kind nie kan lees nie, kan sy of hy nie leer nie. Lees verbreed ‘n kind se wêreld. Ons glo elke kind moet kan lees sodat hulle kan floreer.
Ons grootste uitdaging is oorvol skole. Die geletterdheidsprogram is ongelooflik belangrik omdat ons in sommige van die skole met klasse van 35 of selfs meer leerders werk. Elke leerder het ook sy of haar eie behoeftes en uitdagings, wat dit baie moeilik maak vir onderwysers om individuele aandag aan elkeen te gee. Gevolglik is daar leerders wat agterraak. Ons poog om juis daardie kinders ekstra ondersteuning te gee, sodat hulle nie agterbly nie en die nodige grondslag in hul vroeë skooljare kry.
Ons program is ook afhanklik van vrywilligers: hoe meer vrywilligers ons het, hoe meer kinders kan ons help.
Wat behels die Funda Wande-kurrikulum wat julle gebruik?
Ons gebruik Funda Wande se fonologiese benadering as deel van die program wat ons ontwikkel het om te fokus op die vyf kernvaardighede wat nodig is vir lees, soos vroeër genoem.
Ons program is in lyn met die CAPS- en Funda Wande-kurrikulum. Ons werk baie nou saam met die skole en gee gereeld terugvoer aan die onderwysers om seker te maak dat die leerders konsekwent en op die regte manier ondersteun word – beide in die klaskamer en tydens ons leessessies.
Kan jy ‘n storie deel van een kind wat besonder goed op die program gereageer het?
Dis wonderlik om te sien hoe al ons leerders floreer en elke dag met soveel opwinding na ons leessessies toe kom. Hulle raak so lief vir hulle vrywilliger-tannies en geniet die saamlees. So is daar een gr. R-leerder wat nie self kan loop nie en ‘n loopraam gebruik. Dit is so mooi om te sien hoe sy selfvertroue gegroei het en hoe hy saam dans en sing en lees en speel, en hoe sy maatjies hom almal ondersteun. Niks hou hom terug nie, en ons kan sien hoe ons sessies sy liefde vir saam leer en luister ontwikkel het. Ons glo dat jong kinders die beste leer wanneer hulle aktief betrokke is. Daarom lees, speel en beweeg ons saam met die leerders. Deur hierdie verskillende aktiwiteite te kombineer, probeer ons om lees vir hulle pret en toeganklik te maak, terwyl ons terselfdertyd hul leesvaardighede en selfvertroue ontwikkel.
Hoe besluit julle op die skole wat ingesluit word in die program? En wat is volgende op julle wenslysie?
Ons kyk na verskillende faktore wanneer ons besluit watter skole ons betrek, onder andere die behoefte aan ekstra ondersteuning en die grootte van die klasse. Ons word ook baie deur skole self genader soos wat die woord onder skoolhoofde versprei.
Ons is reeds hierdie jaar by Laerskool Idasvallei Primêr betrokke en het tot dusver ’n baie goeie ervaring met die leerders, onderwysers en die breër gemeenskap gehad. Ons wil graag hierop voortbou en die ondersteuning wat ons daar bied, verder versterk. Ons program word ook met groot sukses by Devon Vallei Laerskool en Aitsa-nasorgsentrum in Kylemore aangebied.
Laerskool Bruckner (ook in Idasvallei) is die volgende skool waarby ons betrokke sal raak. Dit is ook ’n groot skool met baie leerders in die klasse.
Ons hoop om mettertyd na nog skole in die gemeenskap uit te brei, sodat meer leerders toegang tot die nodige ondersteuning kan kry om sterk geletterdheidsvaardighede te ontwikkel.
As daar ander organisasies is wat wil betrokke raak en hulp verleen, hoe doen hulle dit?
Ons verwelkom alle organisasies en individue wat by die program betrokke wil raak en ’n bydrae wil lewer. Vir meer inligting stuur gerus ’n e-pos aan ons programkoördineerder, Demi Erasmus, by demi@stellumthombo.co.za of kontak vir Liauné Goedhals, gemeenskapskoordineerder by Atterbury Trust: liaune@atterbury.co.za.