Skip to content

GROOTfm 90.5 se GEEweek maak ’n blywende verskil

Dit was ’n groot voorreg toe die Trust verlede Oktober as begunstigde vir GROOTfm 90.5 se GEEweek-projek gekies is. Die week het R1,7 miljoen se skenkings tot gevolg gehad. Sonet Stofberg, skakelbeampte by GROOTfm 90.5 en Danelle Strydom, Atterbury Trust se bemarkingsbestuurder, deel meer oor dié inspirerende inisiatief en die impak daarvan.

Danelle, het julle verwag dat die reaksie so positief sou wees, en hoekom dink julle het hierdie veldtog so tot mense gespreek?
DS: Na elke onderhoud het die span weer besef hoe diep mense se behoefte is om deel te wees van iets groter – om te gee, om te help, om hoop te bring. Elke bydrae, maak nie saak hoe klein nie, dra by tot ’n groter prentjie.

Die betrokke week was 27 tot 31 Oktober… wat het intussen met die opbrengs gebeur? 
DS: Hierdie week het ons in staat gestel om die organisasies en projekte waarby ons betrokke is, uit te brei, te laat groei en verder te ondersteun. Onder andere is fondse aangewend vir mediese ondersteuning by Triomf Kliniek, organisatoriese ondersteuning, kleuterskool-voedingskemas, asook studente-ondersteuning

Sonet, vertel ons meer oor hoe GEEweek begin het? 
SS: GROOTfm 90.5 se mandaat is “Vermaak wat ’n verskil maak” en GEEweek is een manier om hierdie mandaat uit te leef. Dis ’n week waarin ons kan fokus net op dit wat ewigheidswaarde dra, ten einde te getuig oor Sy goedheid, getrouheid en oorvloed! GROOTfm 90.5 het ’n behoefte gehad om op ’n organisasie lig te skyn, hulle te bemagtig, bewusmaking te skep en ’n gemeenskap te mobiliseer om op ’n volhoubare wyse betrokke te raak.

Hoe bepaal julle die begunstigde vir die week?
SS: Hierdie is uit en uit ’n gebedsaak. GROOTfm 90.5 werk baie nou saam met nie-winsgewende organisasies, en gebruik graag ook die platform om mense te bemagtig wat ander bemagtig. GROOTfm 90.5 fokus hiermee saam op die geloofwaardigheid en deursigtigheid wat ook deel is van die organisasie se bestaan en praktyke.

Wat is julle verwagting met elke GEEweek?
SS: Ons idee is om die gekose organisasie toe te rus met nie net ’n finansiële HOOPstoot nie, maar ook volhoubare betrokkenheid vanuit die GROOT-gemeenskap. Dit gaan oor bewusmaking en mobilisering, en natuurlik is gee dit die gekose organisasie ook die kans om vir ’n oomblik te kan asemskep en met die nodige HOOPstoot op uitgawes te kan fokus wat as gevolg van finansiële beperkings nie altyd prioriteit geniet nie.

En Danelle, hoe het GROOT GEEweek prakties gewerk – deel met ons die dag tot dag uitrol van die veldtog?
DS: Die beplanning van GEEweek is doelgerig en intens. Vir ’n volle week word elke programgleuf op GROOTfm 90.5 gebruik om stories te vertel, daar is vyf per dag, en dis  stories van mense, van uitdagings, maar ook van hoop.

Die Atterbury Trust-span het saamgesit om hierdie stories sorgvuldig te kies: individue en organisasies wie se verhale nie net gehoor móét word nie, maar gevoel moet word. Uitnodigings is uitgestuur, en een vir een het hierdie stemme op lug begin lewe kry.

Wat is die langtermyndroom of visie met GEEweek?
SS: Net dat dit opsigself volhoubaar sal bly. Dat die GROOT-gemeenskap, en elke mens op aarde besef dat hulle ook goed genoeg is om ’n verskil te maak. Verskil maak kom nie ’n groottes nie. Elke aksie is ’n ewige oomblik wat ’n groter prentjie voer. ’n Aksie wat hoop voer. ’n Aksie wat elke mens ook herinner daaraan dat ons rentmeesters van Sy hart is. ’n Hart wat ontwerp is om goed te doen. Lief te hê. ’n Verskil te maak. En dat ons elkeen Sy hande en voete moet wees.

Om weer die stories van hoop te luister of om deel te raak van die GEEmeenskap besoek gerus die GEEweek blad: https://atterburytrust.org/projek/groot-geeweek/