Skip to content

Ons vier saam: Dekade van genesing saam met Operation Healing Hands

Op 9 Mei vier Operation Healing Hands (OHH) sy 10de bestaansjaar: ’n mylpaal wat ons by die Atterbury Trust en Triomf Kliniek met groot trots saam vier. Vir ons is dit nie net ’n herdenking van tyd nie, maar van lewens wat geraak is, hoop wat herstel is, en die krag van vennootskappe wat werklik ’n verskil maak.

Ons betrokkenheid by OHH spruit uit ’n gedeelde oortuiging: dat toegang tot kwaliteit gesondheidsorg nie ’n voorreg behoort te wees nie, maar ’n moontlikheid vir almal. Oor die afgelope dekade het ons eerstehands gesien hoe hierdie visie gestalte kry – een pasiënt, een prosedure, een nuwe begin op ’n slag.

Operation Healing Hands is in 2016 gestig deur dr Helene Basson en ’n groep toegewyde spesialiste wat nie langer kon toekyk hoe pasiënte in die staatsektor wag – dikwels jare lank – vir noodsaaklike operasies nie. Soos sy self verduidelik, het die inisiatief ontstaan uit ’n baie persoonlike roeping: die besef dat die nood eenvoudig te groot geword het om te ignoreer. “Ons sien soveel pasiënte wat hulp nodig het maar dit nie kan bekostig nie,” sê sy, “en daar was nie ’n sentrale platform waardeur dokters hulle kon help nie.”

Wat as ’n projek in Mandela-maand begin het waartydens 14 pasiënte gehelp is, het vinnig gegroei tot iets veel groter – vandag het OHH, met “baie Genade van Bo”, al byna 1 700 lewens wat reeds geraak is.

Vir dr. Basson is hierdie werk diep gewortel in haar eie lewenspad. Haar pa was vir 42 jaar ’n ortopeed, en van kleins af het sy saam met hom in hospitale rondbeweeg. Sy passie vir medisyne en pasiënte was aansteeklik, en reeds op 16-jarige ouderdom het sy geweet dis die rigting wat sy wil volg. Mettertyd het haar eie ervaring as dokter haar perspektief verder gevorm: die fokus het nie net op die medisyne geval nie, maar al hoe meer op die mens agter elke diagnose. Dit is juis hierdie ingesteldheid wat die hart van OHH vorm.

Vir ons lê die waarde van hierdie werk nie net in die getalle nie, maar in die stories agter elke statistiek. Dit is die ma wat weer sonder pyn kan loop. Die broodwinner wat kan terugkeer werk toe. Die kind wat ’n toekoms met nuwe moontlikhede tegemoetgaan. Soos dr. Basson dit stel: elke operasie is meer as net ’n mediese prosedure – dit bring herstel op ’n dieper vlak: sig, beweging, waardigheid en hoop. Dit is hierdie tasbare, menslike impak wat ons dryf om betrokke te bly.

’n Belangrike deel van hierdie impak lê in die rol wat Triomf Kliniek speel. Dr Basson beskryf dit as “ ’n ongelooflike inisiatief in ’n land waar die meeste mense nie toegang tot privaat medisyne het nie.” Waar slegs ’n klein deel van die bevolking privaat-sorg kan bekostig en die openbare sektor onder geweldige druk verkeer, bied Triomf ’n werkbare, waardige alternatief vir mense wat dit die nodigste het. “ ’n Kliniek soos Triomf bied toegang vir enige iemand wat hulpbehoewend is,” sê sy, “en gee ook medici die kans om terug te gee in ’n stelsel wat werk en effektief is.” Vir haar is die leuse sorg met waardigheid nie net woorde nie, maar iets wat daagliks prakties uitgeleef word – met dieselfde standaard van sorg wat sy in enige ander praktyk sou lewer.

Ons rol, saam met Triomf Kliniek, is om hierdie werk moontlik te maak – om die regte mense, hulpbronne en infrastruktuur bymekaar te bring sodat wêreldklas sorg diegene kan bereik wat dit die nodigste het. Ons sien onsself as deel van ’n groter ekosisteem van sorg, waar samewerking nie net wenslik is nie, maar noodsaaklik.

Elke jaar help OHH honderde pasiënte met operasies en elke suksesvolle prosedure verlig nie net fisiese pyn nie, maar verminder ook die druk op Suid-Afrika se reeds oorbelaste openbare gesondheidstelsel. Dit is ’n praktiese, volhoubare model van hoe die privaatsektor ’n betekenisvolle rol kan speel.

Terwyl ons terugkyk op 10 jaar van merkwaardige werk, kyk ons ook vorentoe – ’n toekoms wat, volgens dr. Basson, met beide groot hoop en ’n tikkie ontsag benader word. Sy skerts dat die organisasie só vinnig groei dat dit haar dalk eendag haar “day job” kan kos, maar haar visie is duidelik en doelgerig. Eerstens droom sy van ’n stelsel waar elke dokter, oor alle dissiplines heen, die geleentheid het om ten minste een pasiënt per jaar gratis te help – aanvanklik in Pretoria, maar hopelik later regoor Gauteng. Tweedens hoop sy dat OHH uiteindelik selfstandig sal funksioneer: ’n volhoubare organisasie met ’n toegewyde span en ’n dokter wat die werk voltyds kan voortsit. “Dit sal vir my die grootste prys wees,” sê sy, “as OHH kan voortbestaan om mense te help, lank nadat ek my gipssaag ingeruil het vir die ouetehuiskoor.”

Hierdie mylpaal herinner ons dat ware verandering nie oornag gebeur nie, maar deur volgehoue toewyding, samewerking en ’n gedeelde sin van verantwoordelikheid. Ons is dankbaar om deel te wees van hierdie reis – en opgewonde oor wat nog voorlê.

Tien jaar later bly die missie dieselfde: om mense te help om weer voluit te leef. En dit is ’n voorreg om dit saam te doen.