Atterbury Trust en Atterbury Foundation se gemeenskapswerk word in soveel gevalle moontlik gemaak deur die samewerking van groothartige organisasies wat hulle bystand en hulpbronne beskikbaar stel. Laeveld Agrochem is die jongste vennoot om saam ’n verskil te maak in gemeenskappe wat hulp die nodigste het. Ananja Koen, Atterbury Trust se uitvoerende hoof en Lourens Oosthuizen, finansiële bestuurder by Laeveld Agrochem, vertel meer.
Wat is Laeveld Agrochem se hoof-fokus as ’n besigheid?
Lourens: Ons is ’n landboumaatskappy wat spesialiseer in die verskaffing van landbouchemikalieë, plantvoeding, kunsmis en tegniese ondersteuning aan boere. Ons fokus daarop om volhoubare landboupraktyke te bevorder deur innoverende produkte en oplossings te bied. Ons doelstelling is om ’n impak te maak deur verhouding en innovasie.
Hoe het die betrokkenheid met Atterbury gebeur?
Ek het al vir ’n geruime tyd kennis geneem van die impak wat die Atterbury Trust maak, en dit is juis dié impak wat ons in gemeen het. Ons ontstaan in 1991 was deels gemotiveer deur die strewe om ’n verskil te maak, en ons leef dit werklik uit – dit is nie bloot mooi woorde nie. Almal weet dat wins belangrik is, maar by ons is dit werklik sekondêr; die impak kom altyd eerste. Ek het ook besef dat ’n ou skoolvriend van my getroud is met Ananja en van daar af het die verhouding ontstaan.
Hoekom het julle spesifiek besluit om met die Atterbury saam te werk?
Ek dink werklik ons het dieselfde waardes, kultuur en doen dinge vir die regte redes. Atterbury het reeds baie van die fondasies gelê en dus sien ons die geleentheid om sodoende ’n groter impak saam te maak.
Hoe is julle betrokke?
Ons is betrokke by kleuterskole se voedingskemas, waar daar daagliks ’n gebalanseerde, voedingsryke ontbyt voorsien word in die vorm van Genesis-hoëproteïenmaaltye. Ons ondersoek ook die moontlikheid om groentetuine te vestig, aangesien ons daarin glo om mense te leer om self te voorsien eerder as om net uit te deel.
Verder het ons vanjaar betrokke geraak by studente-beurse, waar ons terugploeg in die jongmense van ons land – veral dié wat moontlik nie die geleentheid het om ná skool verder te studeer nie.
Wat maak julle Genesis-produk so spesiaal?
Genesis is ’n hoëproteïen, gebalanseerde maaltyd wat 55 voedingstowwe bevat. Ons bied een produk aan in ses verskillende geure. Die voedingswaarde is van die hoogste op die mark, en dit is trots Suid-Afrikaans. Genesis kan gebruik word in ’n “smoothie” of in papvorm. Dit bevat 13 vitamiene, en ’n porsie van 100g voorsien in 100% van jou daaglikse voedingsbehoeftes. Die produk is ook koste-effektief en smaak heerlik. Vir meer inligting, besoek gerus Genesis se webblad by www.genesisnutrition.co.za
Wat is julle missie as ’n maatskappy wat gemeenskapsbetrokkenheid betref?
Ons streef daarna om ’n blywende impak te maak in die gemeenskappe waar ons betrokke is. Met meer as 140 franchisees en 80 depots regoor die land, dra elkeen – saam met ons én op hul eie – by tot ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe. Baie van hierdie inisiatiewe word nie altyd raakgesien of uitgebasuin nie, maar vorm ’n kerndeel van die kultuur binne Laeveld Agrochem.
Ananja, hoekom sou jy sê werk ’n vennootskap soos hierdie goed?
Atterbury Trust beskik oor die nodige vermoë en gevestigde strukture om LAC Cares se fondse op ’n verantwoordelike en doelgerigte manier aan te wend. Baie maatskappye en individue wil graag bydra en ’n verskil maak, maar het nie altyd die tyd of infrastruktuur om dit effektief te bestuur nie — en dan gebeur dit dikwels dat fondse uiteindelik onbenut bly.
7 Wat is die hoop as julle vorentoe kyk na die samewerking met Laeveld Agrochem?
Vennootskappe soos hierdie gee ons die geleentheid om ’n groter en meer volhoubare verskil in ons land te maak, dit is tog hoekom ons doen wat ons doen. Ons hoop om saam met LAC Cares nog baie kinders te kan voed en om meer studente deur universiteit te sien vorder.
Atterbury Trust en Atterbury Foundation is afhanklik van die groothartigheid van ons skenkers om opvoedingsprojekte te finansier en ondersteuning aan skole te verskaf. Alle skenkings is welkom en kwalifiseer vir ’n 18A belastingsertifikaat, lees gerus meer: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/



