Steve Hofmeyr se huldeblyk in country-musiek, IF YOU COULD READ MY MIND, is hierdie veelsydige kunstenaar se 28ste album-uitreiking. Dis nie die eerste keer dat Steve hulde bring aan country-legendes nie; in 2008 het hy die album HELP ME THROUGH THE NIGHT, wat uit Kris Kristoffersen se liedjies bestaan, uitgereik.

Tydens ‘n loopbaan wat meer as 25 jaar strek, ken Steve se kreatiwiteit geen perke nie; ook vir sy kwaliteit en kwantiteit by liedjieskryf, by plaaslike en internasionale musiekoptredes, in filmrolle (onder meer Platteland, Pretville en Treurgrond), in sy bekroonde boeke en by sy sterk sosiale kommentaar op vele forums.

Met die uitreiking van IF YOU COULD READ MY MIND, vernuwe Steve homself weer as sanger en na sewe jaar keer hy terug na een van die gewildste musiekmediums ter wêreld, asook sy eerste liefde: country.

Hierdie album bestaan uit 15 van die mooiste country-liedjies en bevat ook ‘n pragtige en roerende verwerking van die liedjie Teach Your Children wat Steve saam met die gewilde Coleske-broers, Ewald en Arnold, opgeneem het.

Treffers waarna aanhangers kan uitsien, is Steve se weergawes van The Eagles se Heartache Tonight, The Gambler (bekend gemaak deur Kenny Rogers), Creedence Clearwater Revival se treffer Have You Ever Seen The Rain, Steve Perry se Oh Sherrie, Joe South se Games People Play, Photograph deur Ringo Starr, Hey Mr. Dream-Maker deur Cliff Richard, The Bellamy Brothers se If I Said You Had A Beautiful Body, If You Could Read My Mind deur Gordon Lightfoot, Dobie Gray se Drift Away, Gypsy Woman deur Don Williams, To Make You Feel My Life deur Bob Dylan (en later Garth Brooks), Glenn Campbell se Rhinestone Cowboy (ook ‘n groot treffer vir Dolly Parton) en Cry To Me deur The Staccatos.

Die bekroonde Juan “Floors” Oosthuizen, wat in 2015 ‘n kykNET Ghoema-toekenning vir Beste Vervaardiger gewen het, het IF YOU COULD READ MY MIND opgeneem en vervaardig.

In sy eie woorde, is Steve opgewonde oor ‘n projek wat duidelik na aan sy hart lê: “Hierdie liedjies spook by ‘n mens. Hulle laat jou nie sommer gaan. Ook die liedjies wat nie veronderstel was om ooit country te wees nie, het ons subtiel aangepas sodat hulle wel soos dié genre klink. Bob Dylan, Steve Perry en Cliff Richard sal waarskynlik vra hoe hul dit enigsins gemaak het op ‘n country-album. Wel, ons het. Niemand kan die sjarme van country weerstaan nie en baie min mense bly onaangeraak deur country se houvas op ons mees sentimentele instinkte. In die ateljee, het ek, Juan en Paolo deur die dik glas van die opname-stalletjie uit bewondering ons koppe geskud en vir mekaar geglimlag terwyl ons hierdie ou ‘juwele’ weer ontdek het: Kenny Rogers se vaderlike fabels, Dobie Gray se groot siel, The Eagles se strelende harmonieë, Glen Campbell se klassieke aanslag, en Gordon Lightfoot se fyn-ingestelde en tuimelende verse. Ons het nie nodig gehad om weer die wiel te ontdek nie. Hierdie koninklike dames en here het die fondamente gelê terwyl ons nog besig was om te spaar vir goedkoop, tweedehandse kitare en laagrand stetsons. Ons weergawe is die skitterende beloning van rustig terug te sit en dit alles in te neem. Weer. En weer.” – Steve Hofmeyr

IF YOU COULD READ MY MIND is vanaf 6 November 2015 op iTunes en landswyd in musiekwinkels beskikbaar en word deur Universal Music SA versprei.

Sosiale Media platforms:

Facebook: /steve.hofmeyr

Twitter: @steve_hofmeyr

Webtuiste: http://stevehofmeyr.co.za

YouTube: /SteveHofmeyrTV

 

Publisiteit

Starburst Promosies

Alishia van Deventer

[email protected]

083 635 4717

www.starburstmusic.co.za