Die sjarme van daai ou Countryliedjies wat deur ons koppe bly draal, ontwyk niemand nie. Vir sy CD en toer IF YOU COULD READ MY MIND het Steve Hofmeyr uiteindelik sy ou Country gunstelinge afgestof vir 2016. Sommer ook sy kitaar, leer stewels en sy ou stetson nadergetrek vir ‘n Country CD wat hy al 30 jaar lank wou maak. En van die wysies wat geensins Country is nie, soos die wysies van Creedence, Cliff Richard, Steve Perry en Bob Dylan, het Steve Countryliedjies gemaak. Maar die grotes is almal daar. Kenny Rogers se The Gambler, die Bellamy Brothers se If I Said You Had A Beautiful Body, Glen Campbell se Rhinestone Cowboy, die Eagles se Heartache Tonite en Crosby Stills&Nash se Teach Your Children, ‘n trefferduet saam met Coleske. Wie wil nie Drift Away van Dobie Gray en die Staccato’s se Cry To Me op “repeat” los nie. Maak die 90 minute vol met ‘n paar van sy eie Afrikaanse treffers (en wie weet, dalk die Bloubul…) en jy kry die vintage Steve Hofmeyr konsert. Lekker lag, lekker onthou, lekker verlang, lekker saamsing en lekker dans, as jy wil.

“Hulle spook by jou, hierdie vervlakste liedjies. Hulle sal jou nie laat gaan nie totdat jy nie self dit probeer het nie. Ons het dit subtiel country gemaak veral dié wat nie veronderstel is om country liedjies te wees nie. Ooit nie. Bob Dylan, Steve Perry en Cliff Richard sal vra hoe hul name ooit op ‘n country album verskyn het.

Wel, ons het dit gedoen. Niemand is immuun teen die aantreklikheid van country nie en bittermin stap onaangeraak weg. Ek is self in die ateljee, Juan en Paolo glimlag vir mekaar deur die dik opname kamer glas, skud ons koppe in verwondering soos ons hierdie ou skatte herontdek: Kenny Rogers se vaderlike fabels, Dobie Gray se soulmusiek, The Eagles se strelende harmonieë, Glen Campbell se klassieke aanslag en Gordon Lightfoot se fyningestelde en tuimelende poësie. Ons hoef glad nie weer die wiel uit te vind nie. Daardie koninklike dames en here het die aanvoorwerk gedoen terwyl ons nog gespaar het vir ons goedkoop, tweedehandese kitare en lae breerandhoede. Dis vir ons ‘n skitterende beloning om agtertoe te sit en dit alles in te neem. Weer en weer.” Steve Hofmeyr