Alles gebeur met ’n rede, glo beursalumna Anieka Malan, wat nog nie teruggekyk het sedert sy Kaap toe getrek het om verder te gaan swot nie. Hierdie talentvolle 23-jarige het ook nog nie opgehou nie, en is tans besig om op eie stoom haar meestersgraad klaar te maak. Daarna hoop sy om as ekonoom ’n verskil in ons land te maak. Is dit enigsins ’n wonder dat ons so trots is op Atterbury Trust se alumnae?

Deel met ons die storie van hoe jy een van die Trust se beursstudente geword het.
My ma is ’n juweliersontwerper en Zahn van Atterbury Trust was ’n kliënt van haar. My ouers kon nie regtig meer vir my studies betaal nie, en al het ek ‘n paar deeltydse studentewerke op daardie stadium gehad, sou ek moes opskop as ons nie van die Trust se beursfonds gehoor het nie. Ek was baie geseën om tot en met my B. Econ Honneursjaar een van julle beurslenings te hê.

Wat sou gebeur het as jy nie die Atterburybeurslening gekry het nie? Het jy ander beursopsies gehad?
Ek sou moes probeer het om ’n lening te kry, maar ons het nie die nodige sekuriteit gehad nie. Ek is baie dankbaar dat ek en Atterbury ’n pad saam kon stap.

Vertel ons bietjie van jou gesin.
Ek is die jongste van drie sussies en ek het ook ’n kleiner boetie. My ma ontwerp juweliersware soos ek genoem het en is ’n kunstige, kreatiewe wese met ’n ongelooflike “presence”. My pa is ’n musikant en hy woon in Duitsland. Een van my sussies speel klarinet in die vlootorkes en my ander sussie swot wiskunde by Stellenbosch. Ons gesin is baie na aan mekaaar.

Jy het by Hoërskool Zwartkop gematrikuleer. Kan jy onthou of dit vir jou ’n groot aanpassing was om as gebore en getoë Pretorianer Stellenbosch toe te trek weg van die huis af? Dink jy jy sal ooit terugkom?
Dit was vir my ’n aanpassing, ja, maar dit het so uitgewerk dat my hele gesin nou in die Kaap woon. Ek het ook my kêrel hier ontmoet en ons is almal baie gelukkig hier. Alles gebeur tog met ’n rede. Ek is baie lief vir Pretoria, maar ek dink nie ek sal teruggaan nie, dit gaan goed hier in die Wes-Kaap.

Waar kom jou belangstelling in Ekonomie vandaan – hoe het jy op jou graadkursus besluit? Het jy ooit ’n ander beroepveld oorweeg? Ekonomie het my nog altyd gefassineer omdat dit so abstrak is. Dit is die enigste wetenskap wat werklik mensgemaak is en wat almal se lewens aanraak. Ek het ook op skool baie van my ekonomie-onderwyseres gehou en ek dink sy het ’n bydrae gelewer. Maar ek sal natuurlik ook altyd ’n kunstenaar wees…

Jy swot nou deeltyds vir ’n meestersgraad, en gee ook klas. Wat geniet jy die meeste omtrent die klasgee, of is dit maar iets wat jy doen om die pot aan die kook te hou?
Ek geniet die klasgee baie, maar ek dink nie dis my roeping nie. Ek wil na ek my M verwerf het graag in die privaatsektor begin werk.

Hoe befonds jy jou studies noudat jy nie meer beurshulpontvang nie?
Ek betaal my studies self en het een of twee donasies.

Hoe wil jy graag eendag ’n verskil maak in die wêreld, en op watter manier reken jy het jou studiejare jou tot dusver daarvoor toegerus?
Ek sal graag wil sien dat Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme opgelos kan word, so as ek by enige ekonomiese beleid betrokke kan wees wat mense se lewensstandaard kan verbeter, sal dit in my kraal wees. Ek glo ekonomie is ’n baie goeie rigting om te gaan swot omdat dit so oop is vir nuwe geleenthede. Ekonomie het my beslis gehelp om probleme te kan oplos en onder druk te kan werk, en ook om effens beter te verstaan hoe die wêreld aanmekaar gesit is.

Wat wil jy nog baie graag leer in die lewe?
Ek wil baie (baie baie!) graag rondtoer en die wêreld sien. Ek is lief vir kosmaak, so ek sal ook graag eendag ’n fynkookkuns-kursus wil doen.

Hoe reken jy kan die alumnae die beursprogram ondersteun om verdere ondersteuning te bied? Waarvan sou jy as voorgraadse student ekstra baat gevind het?
Ek dink die beursprogram word absoluut reg bestuur uit ’n student se oogpunt; ek sou niks verander nie. Ek hoop om eendag self te kan geld skenk aan die beursfonds.

Atterbury se beursprogram help met liefde mense wat gedrewe is om sukses te behaal. Elke donasie van ’n weldoener gee ons die kans om nog jong uitblinkers soos Anieka beter geleenthede te gee. Ons reik ’n belasting-sertifikaat vir elke donasie uit. Maak gerus ’n bydrae deur hier te kliek.