Atterbury Trust se 25ste verjaardagviering by Atterbury Teater was ’n wonderlike geleentheid om terug te kyk op ’n kwarteeu van saamwerk met mense wat omgee, en ook om soveel moontlik van hulle langs mekaar in die ouditorium te sien. In ons nuwe reeks hoor ons by van ons alumni-studente, wat die heel eerste begunstigdes van die Trust was, hoe die aand hulle geraak het. Natalia Visagie, vandag ’n leraar in die bediening, vertel haar Atterbury Trust-storie.

Ek het Teologie studeer aan die Universiteit van Pretoria.  Ek het in 2010 by BTh behaal en in 2012 my MDiv. Teologie is een van die min grade waar jy as minimum kwalifikasie ’n M-graad as vereiste moes hê. In 2019 het ek my MTh aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.

Ek is sedert 2012 in die bediening. Ek het die voorreg om elke dag my passie uit te leef om met mense te werk, die wêreld ’n beter plek te maak en mense se volle potensiaal te ontwikkel.   Ek kan mense bystaan in hul diepste nood  en die nood in die gemeenskap help verlig. Ek help mense ontwikkel en opstaan na hul grootste hartseer of laagtepunte. Ek is sedert 2018 voltydse leraar by NG Alberton-Suid waar ek tans werk. Ek is deel van ‘n dinamiese en groeiende stadsgemeente wat hul roeping daagliks probeer uitleef.  Deur dissipelskap en liefde poog ons om ’n gemeente te wees waar mense “tuis kan kom” by God.

Ek is ma van drie dogters. Marna (16), Ruve (7) en Talita (6).  Ek het ook my eie klein besigheid, We Promise Wedding Ceremonies. Wat begin het as ’n nood-plan gedurende Covid in 2020 het nou gegroei tot ’n bediening op sy eie. Ek geniet dit om die mooi van die lewe te vier wanneer ek paartjies in die huwelik kan verbind.

Ek het die aand by Atterbury Trust diep emosioneel en diep geestelik ervaar. Zahn het in haar openingstoespraak die opmerking gemaak dat ons eggenote wat langs ons sit, ons nog nie toe geken het nie, terwyl die Trust het. Dit het diep by my geresoneer. Want vir my was dit waar – die Trust het my bygestaan reg deur my studies. Vandat ek as ’n grootoog-meisie met sterre in die oë en in skoolklere opgedaag het vir ’n onderhoud, deur my jare as student wat as enkelma moes voortgaan na my oudste dogter se pa in my tweede universiteitsjaar gesterf het, tot waar ek nou in 2023 daar kan sit, langs my man wat saam met my die lewe leef waarvoor ek so hard gewerk het.

Dit is asof Atterbury Trust ’n ou vriend is, wat jou mylpale vier maar ook net saggies langs jou staan as die lewe gebeur. Zahn, Leonie, en Louise was daardie vriende.  En hulle verteenwoordig ook ’n organisasie, ’n werklikheid wat kom sê: ons is hier.

Ek is diep getref deur die lirieke van die Johannes Kerkorrel-lied wat Stef Bos gesing het: Gee jou hart vir Hillbrow… wel, gee jou hart/gee net/vir wie ookal/vir wat ookal.  Ons is bevoorreg dat ons kan gee… omdat Atterbury Trust aan ons gegee het.

Ons was leë beursies, maar ons het ’n belegging geword. Nie noodwendig net ekonomies nie, maar ook mense wat gee en teruggee waar ookal ons as jong professionele mense in die wêreld beweeg.

Ek het op ’n stadium in die teater se foyer rondom my gekyk en aan iemand die opmerking gemaak dat mens sou nie sê dat ons as “minderbevoorregte studente” so opgehef kon word nie. As ’n vreemdeling daar moes instap sou hy of sy geen onderskeid tussen ons en “bevoorregte” studente kon tref nie. Atterbury Trust het ons blootgestel aan ’n nuwe wêreld. Dit was ’n wêreld van studies, maar meer as dit – een waar jy geleer word om te dink, te rasionaliseer, te redeneer; om ’n wêreld van nuwe denke te ontdek, maar ook om jouself te kan handhaaf, etiket, hoe om te netwerk, hoe om jou rol as burger in ons land op te neem en, soos Maslow se hiërargie van behoeftes dit stel, op ’n hoër vlak te leef en te streef na selfverwesenliking. Om jou kop te lig – en jou lig te ken.

Atterbury Trust het diep in ons kom delf om daardie lig te ontgin. En ek glo elkeen van ons alumni studente is ’n ligbaken vir ander studente wat moedeloos wil word oor hul omstandighede. Ons is ’n ligtoring wat sê, nee, die rotse sal nie jou boot omslaan nie. Soos Joe Black se lied se: ’n skip is nie gemaak om in die hawe te staan nie. Ons moet daar buite uitvaar en ons drome gaan haal en verwesenlik.

Ek sien myself as ’n alumni-student van die “Atterbury Trust Universiteit”.  Met trots assosieer ek myself met al Atterbury Trust se projekte en werk, en dit waarvoor julle veg en dit waarvoor julle staan. Daar is nie ’n enkele projek wat my nie in verbasing laat staan oor hoe julle woeker met jul talente en gawes nie. Dit is ware rentmeesterskap, voorwaar.