Wanneer Atterbury Trust se beursstudente graad vang, is die hele Trust-familie saam opgewonde. Tanicha Grobler is een van die uitblinkers wat vanjaar gekwalifiseer het. Sy vertel meer oor haar planne.

Baie geluk met jou graad! Hoe voel dit om aan die einde van jou studiepaadjie te kom? Is dit wat jy verwag het? En hoe vier jy so ‘n mylpaal?
Dit voel ongelooflik om klaar te wees met my studies. Ek het nooit besef watter trots en verligting dit sal wees om so groot prestasie te voltooi nie. Ek vier dit deur ’n glasie te klink saam met my naaste mense , wat my deur die vier jaar ondersteun het.

Hoe het jy destyds by Atterbury Trust uitgekom – wat wat jou persoonlike omstandighede in daardie stadium?
My ma het destyds van die Atterbury Trust uitgevind. My ouers het deur ’n egskeiding gegaan en ons was hoofsaaklik in my ma se sorg. Dit is verseker moeilik as enkelma om finansieël vir drie dogters te sorg.

Wou jy altyd ’n onderwyseres geword het, selfs as kind?
Ja, ek het nog altyd geweet ek gaan ’n juffrou wees! Ek is al van baie jongs af goed met kinders en dit is iets wat natuurlik kom vir my. Ek glo dis ’n gawe van God wat ek gekry het en dat ek deur dit in die toekoms nog baie kinders se lewe gaan verryk.

Nou het jy ‘n B.Ed Intermediêre Fase – vertel ons bietjie meer oor jou spesialiteit? Van waar die belangstelling in intermediêr?
Met dié kwalifikasie gaan ek hoofsaaklik met nege- tot 13-jarige kinders werk. Ek glo dat ’n baie groot gedeelte van ’n kind se menswees in hierdie fase ontwikkel. Daarom wil ek graag bydra tot dié ouderdomsgroep om hulle te help om tot hulle volle potensiaal as volwaardige volwassenes te ontwikkel. In hierdie ouderdomsgroep duik ’n geboelie nogal gereeld op, so ek hoop ook om hierdie wangedrag te help voorkom.

Jou Atterbury Trust-familie beskryf jou as ’n volwaardige Atterbury Trust ambassadeur wat altyd deelgeneem het aan funksies en werksgeleenthede. Wat het dit vir jou beteken om deel van die beursprogram te wees?
Die beursprogram het nie net gemoedsrus vir my toekoms gebring nie, maar ook ’n familie by wie ek kon aansluit. Hulle verwelkom ons studente met ope arms en harte, en ek het dit baie geniet om almal te ontmoet en te leer ken. Atterbury Trust huiwer verseker ook nie om ons te help om ons volle potensiaal te bereik nie.

Hoe lyk jou planne vir 2024? Jy was assistant-onderwyser by Lynnwood Laerskool in 2023 – bly jy daar aan?
Ek wens ek kon by Lynnies aanbly, want dit is werklik ’n fantastiese skool in alle opsigte. Ongelukkig het hulle nie beskikbare poste vir 2024 nie. Ek sal ’n hegte band behou met die skool en baie van hulle personeel. My planne vir 2024 is in dié stadium nog in die Here se hande, en ek glo ek sal geplaas word by die skool waar ek die grootste verskil kan maak.

Wat is jou droom vir jou toekoms – waar wil jy oor 10 jaar wees?
My droom sal wees om by ’n skool te kan groei tot waar ek deel van die bestuurspan is. Ek het ook groot drome om my eie naskool oop te maak wat ’n unieke stempel sal afdruk by leerders wat werkende ouers het.

Ons verwelkom alle skenkings, vind by Donasiewinkel uit hoe jy ‘n bydrae kan maak en ‘n jongmens se lewe vir altyd te kan verander.