Die sperdatum om aansoek te doen by Atterbury Trust se beursleningprogram wat oor die afgelope amper kwarteeu al meer as 730 studente deur hulle studies gehelp het, is 31 Oktober 2022. Atterbury Trust finansiële en operasionele bestuurder Ananja Koen deel die riglyne, en die suksesse.

Hoeveel nuwe studente gaan julle vanjaar kan keur vir 2023? En hoeveel ander is tans steeds op universiteit met finansiële hulp van die Trust?
Heelwat van die 102 studente wat in 2022 deur ons ondersteun word, kry vanjaar graad, so ons kan tussen 50 en 60 nuwe studente aanvaar, afhangende van die studiekostes van die suksesvolle kandidate vir 2023.

Waarvoor is julle vanjaar op die uitkyk?  Is daar bepaalde studierigtings wat voorkeur kry of speel dit nie ’n rol nie?
Ons keuringsproses is redelik streng en ons kyk hiervoor as ons bepaal wie suksesvolle kandidate gaan wees:

  • Afrikaansprekend en hardwerkend;

studierigtings waarmee die studente na afloop van hulle studies sal werk kry;

  • finansiële behoeftigheid, en
  • studente wat ’n bydrae sal lewer tot Atterbury Trust, en die geleenthede wat ons bied sal aangryp en die meeste daarvan sal maak.

Wanneer word die finale besluit geneem, en wat moet nog gebeur voor dan?
Ons aansoeke sluit Maandag 31 Oktober, en ons is reeds besig om deur die aansoeke te werk. Die kortlys kandidate sal dan genooi word genooi vir paneelonderhoude by ons kantore. Ons beoog om middel November met onderhoude af te skop en teen begin Desember vir alle kandidate terugvoer te gee.   

Vertel ons iets van die beursstudente wat vanjaar graad vang – hoeveel van hulle is daar en hoe sal jy hierdie groep beskryf?
Daar is 47 van hulle, en hulle studeer af in ’n verskeidenheid van rigtings – daar is 13 BSc en agt B Com studente, agt mediese studente, ses onderwys en ses ingenieurswese. Van ons 2022 graduandi het drie-jaar kursusse studeer en was eerstejaars in 2020 met die uitbreek van Covid-19. Baie van hulle het so groot deel van studentwees gemis, en wat wel vir my opvallend is, is dat hierdie groep regtig betrokke is by die Trust en die geleenthede wat ons bied.

Is die slaagsyfer nog steeds so hoog, en wat is julle geheim?
Die slaagsyfer is steeds baie hoog en dit is deels toeskryfbaar aan ons streng keuringsvereistes, ons gereelde kontak en goeie verhouding met die studente en ook die ondersteuning wat ons bied waar daar ’n behoefte is. Hulle gemiddelde in die eerste semester van 2022 was 69%  – ’n uitstekende prestasie vir universiteitstudente uit moeilike finansiële en huishoudelike omstandighede, van wie die meerderheid ook deeltydse werke het. Ons is baie trots op hulle.

Die Trust administreer ook die Atterbury Property Foundation wat Afrikaanssprekende studente van kleur ondersteun, en op hoërskoolvlak MOI, vir bruin Afrikaanssprekendes. Dis alles te danke aan die groot harte van talle skenkers. Hoekom reken jy is hierdie unieke ondersteuningsprogramme so belangrik vir SA se toekoms?
Ons hart by die Trust is om Afrikaans te bevorder en seker te maak dat verdienstelike Afrikaanssprekende jongmense watookal hul agtergrond die geleenthede kry om sukses te behaal en ook eendag terug te ploeg in ons land. Met MOI begin ons vroeër, en die program gee ondersteuning aan uitgesoekte leerders vanaf Graad 7 tot in matriek. Die program berei hulle voor vir universiteit, in goeie Wes-Kaapse hoërskole in hulle moedertaal Afrikaans,  sodat hulle ’n baie beter kans het om hul gekose kwalifikasies te behaal.

Ons glo dat een van die heel belangrikste aspekte van liefdadigheid is om verantwoordelik te gee. Dit is hoekom ons beursleningprogram saam met die finansiële ondersteuning ook emosionele en sosiale ondersteuning gee. Ons doen dit deur betrokke te bly – ons stel ’n lewensafrigter beskikbaar aan die studente, bied studentefunksies en werkswinkels aan, en skep ook werksgeleenthede vir ons studente. As jy iemand help en jy bemagtig hul werklik, kry jy op die ou end talentvolle en hardwerkende jongmense wat die werkersmag kan betree. So skep mens hoop vir ons land.

Om ’n bydrae te maak tot die Atterbury Trust, besoek https://atterburytrust.org/donasiewinkel/