Atterbury Trust pak vanjaar sy 26ste jaar aan van studiehulp vir verdienstelike Afrikaanse studente. Ons staan gereeld in verwondering voor ons uitgebreide netwerk van dinamiese, gekwalifiseerde professionele mense wat omgee, danksy ’n kwarteeu se belegging in menslike kapitaal. Atterbury Trust Pretoria se finansiële en operasionele bestuurder, Ananja Koen, vertel meer oor die 2024 se beursuitdagings, en hoe jy ook kan help.

Hoeveel nuwe studente pak vanjaar hul studiereis aan met Atterbury Trust se beursprogram agter hulle, en hoeveel gaan daar in totaal in 2024 in tersiëre instellings wees?
Ons het 67 nuwe studente ingeneem vir die 2024 akademiese jaar. In totaal het ons dié jaar 144 studente wat met die finansiële ondersteuning van die Atterbury Trust studeer.

Is die aanvraag na beurse baie groot? Hoeveel aansoeke het julle ontvang vir die 2024 akademiese jaar?
Ons word elke jaar oorweldig deur die behoefte wat daar bestaan vir finansiële ondersteuning met studies. Ons het vir dié jaar 274 volledige aansoeke ontvang, 125 van die aansoekers genooi vir onderhoude en 67 aanvaar in ons beursleningsprogram.

Wat kos dit ongeveer per student per jaar, en waar lê die grootste behoefte?
Ons nuwe eerstejaars se gemiddelde koste is R88 000 per student vir die jaar en ons studente wat reeds in die program is, kos gemiddeld R65 000 elk. Ons begroot om ongeveer R8 miljoen se beurslenings in die 2024 akademiese jaar uit te keer. Finansies is definitief die grootste struikelblok in ons studente se lewens. Deur die jare het ons ook wel geleer dat ons aanslag moet wees om meer holisties na die studente se welstand te kyk, so ons belê baie tyd om vir die studente werkswinkels aan te bied, lewensafrigting-sessies beskikbaar te stel, en werks- en mentorskapgeleenthede te bied. Ons doel is nie om net die finansiële las vir studente ligter te maak nie, maar hulle ook die nodige vaardighede aan te leer om eendag suksesvol te kan wees. Ons maak ’n punt daarvan om ondersteuning te bied in ander aspekte van hul lewens wat hul soms mag verhinder om hul studies te voltooi. Ons skop ook vanjaar af met ‘n nuwe program in samewerking met dosente van Unisa om ons studente meer geldslim te maak – hulle gaan leer van spaar, begrotings en goeie finansiële besluite maak.

Hoe kry julle reg om jaar na jaar soveel studente finansieël te help – wat is die geheim van ‘n suksesvolle beursprogram?
Die raakvatter span is definitief Atterbury Trust se resep vir sukses. Ons probeer administrasie outomatiseer waar moontlik, maar dit bly ’n redelike groot administratiewe taak so ons verwag van studente om van hulle kant af in te skakel en betrokke te raak. Ons studente is staatmakers en neem deel wat beteken hul kan voordeel trek uit alles wat ons bied deur die beursleningsprogram.

Hoeveel afgestudeerde studente is tans besig om hul beurslenings terug te betaal – en watter terugvoer kry julle tipies van hulle?
Daar is op hierdie stadium net meer as 300 studente wat terugbetaal aan hul Atterbury Trust beurslenings.

Dandré Olivier, een van ons graduandi van 2022, het dit verlede jaar so mooi opgesom toe ons hom vra wat Atterbury Trust vir hom beteken het. “Dit is ’n baken van hoop wat deure tot jou sukses oop en moontlik maak.” 

Ons weet daar is ’n belastingvoordeel vir skenkings aan die Trust –  is daar ’n minimumbedrag vir ’n skenking wat julle aanvaar, en kan ’n skenker insae hê in die studierigting en ’n spesifieke student kies wat geborg word?
Alle donasies aan die Trust is aftrekbaar vir belasting. Ons is ’n geregistreerde nie-vir-wins maatskappy en kan Artikel 18A-sertifikate uitreik. Daar is nie ’n minimum-bedrag nie en ons het ook ’n opsie vir donateurs om ’n maandelikse debietorder te teken in plaas van om ’n eenmalige skenking te maak. Donateurs kan beslis insae hê in die rigting, universiteit en student, maar dit is egter steeds vir ons belangrik dat die student aan ons kriteria voldoen wat insluit finansiële behoeftigheid, goeie akademiese prestasie en Afrikaans as huistaal. Ons het met ondervinding geleer hoe ’n suksesvolle beursstudent lyk en dit is vir ons baie belangrik dat indien ons geld en tyd aan iemand bestee hulle  in staat sal wees om hul studies suksesvol te kan afhandel en ’n verskil in ons land en samelewing maak.

Vind meer uit oor die donasiemoontlikhede by Donasiewinkel en word een van ons beleggers in Suid-Afrika se toekoms.