Die akademiese jaar het pas begin en Atterbury Trust het ’n splinternuwe groep beursstudente verwelkom – in hierdie 25ste feesjaar van die trust. Finansiële en operasionele bestuurder Ananja Koen pluis die syfers uit.

Hoeveel nuwe studente sluit vanjaar by die beursprogram aan?
Ons het 57 nuwe studente vir 2023 ingeneem in die Atterbury Trust beursleningsprogram, en ons totaal van studente wat sedert die ontstaan van die Trust in 1998 ondersteun is om hul grade te behaal, staan nou op 791.

Hoe lyk die graadkeuses vanjaar – het die studente seker voorkeur-studierigtings?
Daar is gunsteling-rigtings, ja. Vanjaar se gewildste rigtings is onderwys, aktuariële wetenskappe, medies en B.Com.

Is daar enige van die nuwelinge wie se stories jou besonder aangegryp het?
Die Atterbury Trustspan was verlede jaar regtig stomgeslaan in die onderhoude met die kortlys kandidate. Ons het in meeste onderhoude dadelik die boks snesies nadergetrek, omdat die stories so aangrypend was. Iets wat baie beslis vir my uitgestaan het, is hoe vasberade hierdie kinders is om ’n sukses van hul lewe te maak ongeag die moeilikste omstandighede.

Die gemiddelde huishoudelike inkomste van ons kortlys kandidate was R315 000 en hulle akademiese gemiddeld was 78%. Een onderhoud wat my regtig bybly was die matrikulant wat ondanks die feit dat hy weens ongelukkige omstandighede vir ’n ruk tydens sy matriekjaar haweloos op straat  was, steeds ’n matriekgemiddeld van 79% behaal het. As jy hom ontmoet, straal hy positiwiteit uit en hy het homself nie vir een oomblik as ’n slagoffer gesien nie. Ons sal deur die loop van die jaar ’n paar van ons studente se stories vertel, want ons studente bly ons inspireer. Dit is die grootste voorreg om deel te wees van hierdie hoofstuk in hul lewe.

Wat is die koste om vanjaar se studentegroep te befonds, en hoe doen julle dit?
Die gemiddelde koste vir studiegeld en boekegeld is ongeveer R75 000 per student vir die jaar. Ons is baie dankbaar vir die groothartige skenkers en weldoeners wat elke jaar bydra sodat ons hierdie hardwerkende en positiewe studente kan help dra. Enige donasies van buite is natuurlik altyd welkom!

Watter studentefunksies beplan julle vir die studente – vertel ons van julle oriënteringsaktiwiteite?
Ons nooi al ons nuwe studente vir ‘n groet-en-ontmoet-geleentheid en hou jaarliks ’n studentefunksie in Pretoria en ook in Stellenbosch waar ons hulle die geleentheid gee om mekaar, Atterbury Trust se alumnistudente en ook die Atterbury Trust en Atterbury se personeel te ontmoet. Ons glo dit gee hulle die kans om waardevolle netwerke te smee wat moontlike geleenthede kan ontsluit.

Ons het ook die talentvolle en baie passievolle Leonie de Preez van Gro Life, wat vir al ons studente lewensafrigtingsessies aanbied om hulle te ondersteun waar nodig. Dan het ons ook kwartaalliks sosiale uitstappies, van pizza-en-wyn aande en staptogte in die natuur, tot uitreik en handjie bysit by Atterbury Trust se welsynsprojekte. Ons moedig al ons studente aan om betrokke te raak om ekstra blootstelling en ondervinding op te doen, nuwe mense te ontmoet en ook in te skakel by ons groter netwerk.

Die Trust se beurslenings verander studente se lewenspaadjies – is daar dalk terugvoering van een van die nuwe kandidate wat jy kan deel?
Ons bel elke suksesvolle kandidaat om te laat weet dat hulle gekwalifiseer het, en in soveel gevalle huil die student van dankbaarheid. Meeste van ons studente het buiten vir NSFAS geen alternatief vir die befondsing van hul studies nie, so die dag wat hulle uitvind hulle ontvang die studiebeurslening weet hulle hulle kry ’n goue kans om ’n kwalifikasie te behaal en hul lewensvooruitsigte te verbeter. Dit raak mens aan die hart.

Ons verwelkom alle skenkings, vind by Donasiewinkel uit hoe jy ‘n bydrae kan maak en ‘n jongmens se lewe vir altyd te kan verander.