Dis skaars twee maande sedert VivA se nuwe Woordeboekportaal app geloods is, en dis reeds omtrent 3 800 keer afgelaai. Prof Gerhard van Huyssteen, uitvoerende direkteur van VivA, deel ‘n paar statistieke.

Watter terugvoering kry julle op die app, en op VivA in geheel?
Die positiewe terugvoering was werklik oorweldigend! Die mense beskou dit as ‘n belangrike ontwikkeling in en vir Afrikaans, met die potensiaal om by te dra tot die bemagtiging van Afrikaanse mense. Ek dink mense gaan ook nog meer verras en beïndruk wees wanneer meer en meer van VivA se produkte en dienste later in die jaar en volgende jaar bekendgestel word.

Dis omtrent indrukwekkende aflaai-statistieke…
Ons is so bly daaroor! Die Android weergawe is meer afgelaai, maar die iOS is net ‘n kortkop agter… Ons is ook opgewonde dat ons sosiale-media-netwerk lekker groei; ons het al meer as 1 100 Facebook likes en meer as 320 mense volg ons reeds op Instagram.  Boonop het ons het altesame 879 inskrywings vir die skolekompetisie ontvang wat Atterbury geborg het!

Wat is volgende vir VivA – gaan daar nog by die app bygevoeg word?
Die Woordeboekportaal (waartoe die app jou mobiele toegang gee) is maar net die oortjies van die seekoei. ‘n Klomp nuwe woordeboeke – waaronder die splinternuwe HAT én ‘n blokkiesraaiselwoordeboek – sal op ons webwerf beskikbaar gestel word. Later in die jaar word VivA se Adviesportaal bekendgestel: jy sal dan ons taaladviseur per telefoon, WhatsApp of e-pos kan kontak met jou taalvrae. Ons hoop dat dit veral ‘n bydrae sal lewer om die kwaliteit van advertensiekopie te verbeter. Vele ander dienste en produkte volg ook, soos ons terminologiediens, ‘n omvattende beskrywing van Afrikaans se grammatika, ensovoorts.

Wat is vir jou persoonlik die lekkerste aspek van die app?
Ek gebruik die Android-weergawe, wat my in staat stel om deur middel van spraak na woorde te soek. Ek hoef dus net met my telefoon te praat en dan verskyn die korrekte spelling op die skerm. Dit laat my tone elke keer van lekkerkry omkrul!

Is daar enige ekstra funksionaliteit wat jul by die app sou wou voeg maar wat dalk nog nie moontlik is nie?
O, beslis! Die weergawe wat nou beskikbaar is, is maar net die begin. Ons wil baie graag ook ‘n aanlyn-weergawe ontwikkel, sodat mense ook toegang kan kry tot ander woordeboeke soos die HAT en WAT. Aangesien dié woordeboeke baie groot is en besit word deur uitgewers, kan dit nie op jou foon afgelaai word nie. Jy sal dus in die toekoms binne in die app die woordeboeke moet kan aanskaf en dan aanlyn toegang daartoe kry. In die aanlyn weergawe sal jy ook toegang tot baie ander gratis woordeboeke, soos ‘n fisika- en chemiewoordeboek, kan kry.

Die Woordeboekportaal app kan op enige slimfoon of tabletrekenaar afgelaai en gee gebruikers kitstoegang tot betroubare Afrikaanse taalbronne, sonder om aan die internet gekoppel te wees. Woordeboeke in die app sluit onder andere die woordelys van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), asook die tesourus en woordelys van die bekende speltoetser van CTexT® se Afrikaanse SkryfGoed in, om maar net drie te noem.
Hoewel enigeen die VivA-app kan gebruik, bemark VivA dit spesifiek onder jongmense. “Vandag se skoolkinders en studente moet oor vyftig jaar steeds Afrikaans kan praat, en daarom wil ons vir hulle die tegnologie gee om dit te kan doen,” sê Prof Van Huyssteen.

Meer info by viva-afrikaans.org. Prof Gerhard van Huyssteen is tans te sien op Op Die Spel, Dinsdae om 20h00 op KykNet, saam met Rian van Heerden.

Viva