29 Februarie 2020, 17:00 – 18:30
29 Februarie 2020, 20:00 – 21:30
1 Maart 2020, 11:00 – 12:30
1 Maart 2020, 16:00 – 17:30

R200 – R220

Die liefling van Suid-Afrikaanse teater, televisie en film, Sandra Prinsloo, keer terug in nog ’n treffer-produksie, Kamphoer – die verhaal van Susan Nell, met regie deur die internasionaal-gerekende Lara Foot.

Die drama is geskoei op die topverkoper en debuutroman Kamphoer deur Francois Smit en die niefiksie-publikasie The Boer Whore deur Nico Moolman. Dit is verwerk vir die verhoog deur Cecilia du Toit in samewerking met Sandra Prinsloo en Lara Foot. Met dié produksie maak Foot haar buiging in die professionele Afrikaanse teaterindustrie terwyl dit ook die eerste samewerking is tussen Foot (Tshepang, Karoo Moose) en Prinsloo (Oscar en die pienk tannie, Moedertaal), een van Suid-Afrika se mees geliefde en bekroonde aktrises.

Die kragtige drama het met groot welslae en lof van beide gehore en die media by die 2019 Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein gedebuteer, met vyf ster-resensies en vol huise. Dit is aangewys as Beste Nasionale Teaterdebuut by die fees se Blinker-toekennings en het ook vier benoemings by Aardklop 2019 gekry: Beste Aktrise, Beste Regisseur, Beste optrede in ’n solo-produksie en Beste Algehele aanbieding. Dit was ook een van die topverkopers in Bloemfontein en het by Aardklop heeltemal uitverkoop voor die fees begin het.

Beeld skryf, “Drie vroue dra uithaler van ’n produksie. Sandra Prinsloo speel dié rol met oorgawe.” Stronk, die fees se amptelike koerant, beskryf dit as “ ’n kragtige drama wat diep tref” en “Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.” Jan-Jan Joubert skryf in sy resensie vir Maroela Media: “Dit is meesleurend. Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies”.

Francois Smith, skrywer van Kamphoer was ook vol lof vir die produksie: “Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.”

In die toneelstuk, gegrond op ’n ongelooflike ware verhaal, vertolk Suid-Afrikaanse legende Prinsloo die uitdagende rol van Susan Nell wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) ’n traumatiese belewenis moet deurmaak.

Na haar pa se dood tydens die oorlog, beland Susan en haar ma-hulle in die konsentrasiekamp waar sy deur twee Britse offisiere en ’n joiner wreedaardig verkrag en vir dood agtergelaat word. Sy oorleef die gruweldaad en bekwaam haarself as sielkundige in Nederland. Sy reis gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n psigiatriese hospital in Engeland waar haar paaie kruis met een van haar verkragters, waar hy as pasiënt aan bomskok lei. Met dié herontmoeting word Susan opnuut gekonfronteer met die die pyn en vernedering van haar verlede.

2019 is die 120ste gedenkjaar van die Anglo-Boereoorlog en die produksie bring hulde aan dié era. Die roman Kamphoer is onder meer benoem vir die Jan Rabie Rapport-toekenning, ’n ATKV-toekenning en gekortlys vir die 2018 Sunday Times Literêre toekennings. Die produksie word moontlik gemaak deur die ondersteuning van KunsStig.

Aangebied deur die vervaardigers van die bekroonde Die reuk van appels en gemeet aan die oorweldigende reaksie wat die produksie tydens sy debuut ontvang het, beloof Kamphoer – die verhaal van Susan Nell om gehore regoor Suid-Afrika aan te gryp. Dit het ’n ouderdomsbeperking van 14.

Media en ander terugvoer:

“Die oorgang van getraumatiseerde kampdogter tot betrokke psigiater word intens emosioneel, met jeugdige oorgawe en eksistensiële twyfel deur Prinsloo gespeel. Met haar hortende herroeping van ’n kampverkragting plaas sy die onreg teen vroue in die konsentrasiekampe weer verblindend in die kollig.” – Naòmi Morgan, Die Volksblad

“Vyf sterre” – Naòmi Morgan, Die Volksblad

“Intens en geweldig aangrypend. Elke aspek het meegespeel, van die teksverwerking, die regie en dan Sandra Prinsloo se deurleefde vertolking. Bravo.” – Francois Smith, skrywer van Kamphoer

“Prinsloo se kragtoer as Susan Nell het die gehoor verdwaas gelaat. Trane het in baie oë geblink ná ’n staande ovasie.” – Charles Smith, Netwerk24

“Sandra se absolute bemeestering van stilte, tempowisseling en pousering kan nie maklik geëwenaar word nie.” – Corrie Geldenhuys, navorsingsgenoot aan die ETFB aan die Universiteit van die Vrystaat

 “’n Magtige kunswerk. Sandra Prinsloo was manjifiek en is wonderlik aangevul deur die aangrypende stel en rekwisiete, en gerig deur die nooit volprese Lara Foot. Wat ’n voorreg was dit om weer daardie woorde van François Smith te hoor; die woorde (liries en ook hartverskeurend) wat my so ontroer het toe ek aanvanklik die boek Kamphoer gelees het.” – Murray la Vita, facebook

 Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies.” – Jan-Jan Joubert, Maroela Media

“Prinsloo se vertolking van die naamrol in hierdie eenvroustuk is ʼn móét om te sien vir enigiemand wat die teater, ons taal en spesifiek die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner liefhet. Dit is vir vertonings soos hierdie dat die toneelgenre bestaan – ʼn meestersklas van hierdie aktrise sonder gelyke in Afrikaans.” – Jan-Jan Joubert, Maroela Media

 “Sandra Prinsloo lewer ’n kragtoer in hierdie emosiebelaaide stuk met sy versengende, byna brutale eerlikheid.” – Thereza Smith, WeekendSpecial

“Die deurslagewende element van hierdie toneelstuk, wat jou oë vasgenael hou op die verhoog – selfs al is jy bewus van hierdie nare, wrede verhaal – is Prinsloo se intense, emosioneelbelaaide spel.” – Thereza Smith, WeekendSpecial

“Prinsloo se vermoë om van jong, onskuldige meisie tot ouer, gebroke vrou te wissel, is meesterlik. Foot bring ’n ongelooflike dimensie na die toneelstuk.” – Maryke Roberts, Litnet

Kunstenaars: Sandra Prinsloo

 

29 Februarie 2020, 17:00 – 18:30 – Atterburyteater
29 Februarie 2020, 20:00 – 21:30 – Atterburyteater
1 Maart 2020, 11:00 – 12:30 – Atterburyteater
1 Maart 2020, 16:00 – 17:30 – Atterburyteater