Varsgebek, die kompetisie waar alle Afrikaansgebruikers hulle nuwe of oulike taaljuwele kan inskryf, het die eerste twee maandelikse wenners aangekondig. In die Sêgoedkategorie het ons amper 700 inskrywings ontvang waarvan feitlik almal bruikbaar was. Die gehalte van die inskrywings was verstommend goed, en die vindingrykheid van sprekers en die seggingskrag van die taal het die paneel beoordelaars opgewonde gemaak.

Die inskrywings is almal deurgewerk en ʼn kortlys is opgestel, waarna ʼn paneel taalkenners, wat taalpraktisyns en leksikograwe ingesluit het, gestem het om die wenners aan te wys.

Hierdie maand is daar twee wenners in die Sêgoed-kategorie:

TabeLila Botha met “jou kuite styf trek”, wat beteken dat jy jou vir iets of iemand vererg en dan sterk standpunt inneem. ʼn Ouer sal byvoorbeeld vir ʼn kind sê “moenie jou kuite vir my styf trek nie”.

Krista Mare met “iemand kook nie sag nie”, wat beteken hy is moeilik; ʼn korrelkop. Hierdie inskrywing kom uit Namakwaland en is ʼn mooi voorbeeld van streektaal.

Lila en Krista wen elk ʼn Samsung Galaxy TAB E-tablet ter waarde van R4 500 elk.

Die organiseerders van Varsgebek bedank al die deelnemers vir hulle inskrywings en moedig almal aan om steeds inskrywings te stuur. Die inskrywings vir Kykgoed is so ʼn bietjie skraps – deelnemers moet ʼn grafiese voorstelling soos ʼn video of ʼn meem maak om ʼn nuwe of bestaande sêding of woord uit te beeld. Veral graad 11- en graad 12-leerders moet kennis neem. Daar is spesiaal vir hulle ʼn studiebeurs van R150 000 op die spel, geborg deur Atterbury Trust.

Meer inligting oor die kompetisie is beskikbaar by varsgebek.org.