Party mense klou verbete aan hul taalgewoontes, selfs al is hulle verkeerd. Kyk nou maar na die garde wat glo “Australianers” is ’n woord, vertel VivA Afrikaans se taalghoeroe Sophia Kapp op Maroela Media se webwerf…

Ons plaas daagliks op VivA se
Facebookblad (https://www.facebook.com/vivaafrikaans/) ʼn 
taalwenk. Dis in grafika ingebed, en ek pas moeilik meer as ʼn sin en ʼn 
voorbeeld in so ʼn prentjie in, daarom moet ek mooi besin oor wat ek
in so ‘n wenk wil plaas. Dit help nie ʼn mens probeer ʼn ingewikkelde
saak soos afleidings van eienaamwoorde in so ʼn wenk inprop nie – ek 
kan hoogstens een voorbeeld daarvan aanhaal en dan hoop die 
gebruikers op die blad gaan slaan in die bron self na wat die reëls is.
Soms gebeur dit, meestal nie. Gebruikers vra op die blad self, en ek moet soms bontstaan om al die vrae te beantwoord. Veral as die kwessie mense warm onder die kraag het.

So plaas ek onlangs (op versoek van ʼn paar gebruikers) die wenk dat die inwoners van die eilandjie doer onder in Afrikaans Australiërs genoem word, nie Australianers nie.

Die reaksies op dié plasing was een van drie:

1. Sien jy, [iemand se naam wat in ʼn stryery hieroor betrokke was], ek was reg! 2. Dankie vir die plasing, dit pla my as ek die verkeerde vorm hoor.
3.Waar kom jy aan dié reël?

Dis veral die laaste groep gebruikers wat ek sommer so oor die afstand heen kan aanvoel warm onder die kraag is. Sommige is nie net warm nie, hulle krae kook.

Ek het al geleer: Gebruikers se verontwaardiging oor ʼn taalreël is direk eweredig aan die kans dat hulle die reël verkeerd toepas. Dis veral die garde wat skryf  “Maar ek skryf dit nou al jarrre so” wat moeilik aanvaar dat hulle nou al jarrre verkeerd skryf en dan daaroor wil baklei. Dis moeilik, ek weet (ek is gereeld nog onaangenaam verras oor ingeburgerde foute in my eie taalgebruik), maar dis die rede waarom ʼn mens ʼn blad soos hierdie volg – jy kom leer wat die reëls is, vra as jy nie verstaan nie, en maak reg as jy verkeerd is.

Om terug te kom by die Australianers/Australiërs en die antwoord op “Waar kom jy aan dié reël?”.

Die bron in Afrikaans wat ʼn mens heel eerste oor spel- en skryfkwessies raadpleeg, is die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS). (https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-afrikaanse-woordelys-en- spelreels/) Dit word opgestel deur die Taalkommissie, ʼn staande kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die boek is nou 101 jaar lank die amptelike standaardiseringsbron vir Afrikaans en het in sy bestaan ʼn hele paar hersienings en bywerkings beleef. ʼn Paar uitgawes gelede is daar ʼn lys geografiese eiename en hulle afleidings agter in die boek opgeneem, juis omdat daar soveel verwarring oor die saak bestaan. Die lys is oorspronklik opgestel uit gestandaardiseerde bronne, en dit word elke keer hersien voor ʼn nuwe uitgawe verskyn. Die opnames in die AWS word deesdae ook digitaal getoets aan korpusse – ons werk deur lyste tekste en soek na die voorkoms van, sê nou maar, Australiër teenoor Australianer. Die vorm wat die taalgemeenskap die meeste gebruik, word in die lys opgeneem. Waar kom ek aan Australiërs? Dit is so opgeteken in dié (gestandaardiseerde en getoetste) lys.

Die woedendes was egter nie sonder ammunisie nie: “Maar wat van Italianers? Moet ons nou skielik praat van Italiërs?”

Nee, is die antwoord. En ja, dit is ʼn soortgelyke voorbeeld. Ja, die patroon vir die afleidings van plekname wat op -ië eindig, is in Afrikaans nie heeltemal voorspelbaar nie. Ons praat van Argentyne wat in Argentinië bly, van Belge wat in België bly en Brasiliane wat in Brasilië bly. En natuurlik, van Italianers wat in Italië woon. Maar dis baie meer algemeen in Afrikaans om die -iërs-vorm te gebruik vir afleidings van plekname op ië: Bosniërs, Brits-Colombiërs, Etiopiërs, Gambiërs, Georgiërs, Indiërs, Indonesiërs, Jordaniërs, Libiërs, Malawiërs, Polinesiërs, Serwiërs, Tanzaniërs, Zimbabwiërs (om maar ʼn paar te noem). En vra maar vir enigiemand of ons Afrikaanse bure in Namibië nou skielik Namibiane wil wees. Ek kan met redelike sekerheid voorspel hulle gaan vir jou sê hulle is Namibiërs, en ek kan met redelike sekerheid sê selfs die Australiaanse kamp gaan nie daaroor kla nie.

Die rede waarom Australianers nie aanvaar word nie, is dat die woord nie ʼn afleiding van Australië is nie, dis ʼn oorklanking van die Engelse afleiding Australians. Dit is met ander woorde ʼn uitstekende voorbeeld van ʼn anglisisme: Dit klink Afrikaans, maar dit is ʼn direkte vertaling uit die Engels en verdring ʼn bestaande Afrikaanse woord of uitdrukking.

Terloops, vir die Italianers wat nie Italiërs is nie, verwyt ek die Nederlanders. Hulle verwys na Italiane, waarvandaan ons waarskynlik ons afleiding gekry het. Maar hulle verwys ook na Australiërs, wat natuurlik beteken ons het die onpatroonmatigheid by hulle geërf. Oor dié onpatroonmatigheid moet die beswaardes dus eintlik by die Nederlandse taaldiens gaan kla, nie by VivA nie!

Die punt van dié lang relaas is eintlik: taal is nie altyd ʼn voorspelbare ding nie. Soms is daar patrone waaruit ʼn mens reëls kan aflei, soms is daar uitsonderings, en soms is ʼn ding sommer net anders (soos die Belge in hierdie geval). Die deurslaggewende faktor is uiteindelik die voorkeure van die taalgemeenskap. Is daar ʼn moontlikheid dat Australianers later ʼn wisselvorm vir Australiërs sal word? Ja, natuurlik kan dit gebeur. As die taalgemeenskap later sou besluit dat die oorgeklankte vorm net so aanvaarbaar is as die Afrikaanse vorm, sal die Taalkommissie dit as wisselvorm opneem. Maar daar is tans nog genoeg gebruikers wat weet dit is verkeerd, en wat dit nog as slordige skryfwerk beskou. Totdat dit verander, is dit die vorm wat in die AWS opgeneem sal wees. Die mense het gespreek, die

Taalkommissie het net geluister!

By |2018-07-05T10:51:08+00:005 Julie, 2018|Kultuur|0 Comments
%d bloggers like this: